{ARGIEF}

GEESTELIKE LEIERSKAP 11-13 MAART 2008
VERSLAG AAN KERKRAAD
N.J. VAN AS
Ek is as predikant geroep om die gemeente te bedien as priester, profeet en koning en as dissipel.
As PRIESTER moet ek gedurig op God fokus en in ‘n noue verhouding met Hom leef deur gereeld Bybel te lees en in gebed met God te verkeer.
As PROFEET moet ek op mense fokus deur vir hul lief te wees, om te gee en hul te verstaan. “ Leaders are lovers” Jy bereik meer deur die hart (emosie) aan te spreek.
As KONING moet ek die gemeente bestuur en organiseer. Dit is eintlik die begeleiding van ‘n geloofsgemeenskap. As dissipel moet ek Christus navolg(die evangelie leef) sodat ander my weer kan volg. Die karakter en voorbeeld van ‘n leier speel ‘n geweldige groot rol in die gemeente en in die gemeenskap.
‘n Leier moet ‘n visie of prentjie hê van waarheen hy wil of wat hy wil bereik. Jy moet kan vas stel wat aan die gang is. Lees die patrone van wat gebeur. Kyk terug in die verlede. Hoe het dit 30 jaar terug gelyk? Hoe moet dit 30 jaar vorentoe lyk? Daarvoor het jy stilte en afsondering nodig. Om jou doel te bereik moet jy in spanne werk. Dit wil sê jy moet die regte mense om jou vergader om saam met jou die doel te verwesenlik. Praat met mense wat slimmer as jy is of wat meer ervaring as jy het en hoor wat hulle dink. ‘n Leier laat dinge deur ander mense gebeur. Jy moet dus die vermoë hê om leiers op te lei en te kweek wat die dinge laat gebeur. Ons moet lidmate bemagtig om dinge te doen en te laat gebeur.
Motivering is nodig om te lei sodat jy energie kan los maak by ander mense. Jy moet ‘n visie hê wat hoop gee. Jy moet bekend wees as iemand met ‘n goeie karakter en iemand met integriteit. Jou bekwaamheid moet respek kweek. Gee erkenning aan jou span. Jy moet konflik kan bestuur,maar ook jouself. Jy moet ook verandering kan bestuur
Wysheid is nodig om die geloofsgemeenskap volgens God se wil te begelei. Geestelike leierskap is Geesvervulde leierskap. Leierskap wat optimale blootstelling aan God en die wêreld het. Geestelike toewyding is noodsaaklik. Die Here het ons lief net soos ons is ,maar los ons nie so nie. Dit gaan hier nie oor teologiese opleiding nie, maar oor ‘n evangeliese ywer en ‘n passie vir Christus.
Selfbestuur van jou eie lewe is noodsaaklik. ‘n Mens noem dit emosionele intelligensie. Ja om emosioneel die mas op te kom en die pas vol te hou. As jy nie balans in die lewe het nie kan jy jouself uitbrand. Tekens hiervan is min intimiteit met God en swak menseverhoudinge. Jy moet eerlik bewus wees van jouself . Luister na eerlike mense om jou soos jou vrou of vriende wat jou baie goed ken. Soms dink jy dat jy nog alles kan hanteer,maar dan hardloop jy reeds al net op adrenalien. Dis wanneer die adrenalien die nodige seratanien gebruik.
Wat is nodig vir emosionel intelligensie?
1. Positiewe denke. Paulus sê nie verniet in Fil 4:9 dat ons dit wat mooi en goed is moet bedink nie. Bitterheid is die gif wat jy self drink in die hoop dat iemand anders daarvan doodgaan.
2. Positiewe vriende. Negatiewe mense dra negatiwiteit oor sonder dat jy dit agterkom.
3. Gesonheidheid en balans. Daarvoor is basiese disiplines nodig soos : stilte, gebed, goeie dieet, eenvoud, oefening, balans en ritme.
Jy moet kan nee sê.
Drie poot beginsel:
1. Elke dag ‘n ontmoeting met die Here.
2. Elke dag ‘n ontmoeting met jou medemens.
3. Vreugde in jou bediening.
Ek hoop om bogenoemde in my eie lewe toe te pas en om die kerkraad en leiers in die gemeente ook met die inligting te motiveer.