{ARGIEF}

11de Adventverhaal van Hoop – 10 Desember 2008

Ek loop ‘n paar weke gelede in die Mall naby ons huis. In die gang staan ‘n lidmaat van die NG kerk en gesels met vriende.  Ek ken haar vaagweg van die gesamentlike aanddienste tussen ons twee gemeentes, maar vanweë my studies het ons mekaar lanklaas gesien. Daar by die kerk groet ons mekaar en vir ‘n vlietende oomblik wonder ek of ons hier in die publiek van die mall mekaar ook gaan groet. Ek probeer ongemerk verby loop. Ek wil dit nie vir haar ongemaklik maak nie.

Ek is skaars verby, toe roep sy, “ds Andrew!” Ek draai om. Sy kom groet my en stel my voor aan haar vriende. Dan vra sy na ‘n lidmaat van ons gemeente wat onlangs gesterf het, iemand wat sy ook by die gesamentlike aanddienste leer ken het.  Sy is sigbaar ontsteld en vra uit na sy famlie.

Toe ek wegstap is daar hoop in my hart, treetjie vir treetjie klim ons oor oor die afgronde van die verlede na mekaar, en ek wonder oor hoekom ek ongemerk wou verby stap?