{ARGIEF}

Annalise Wiid is van woorde en wysies aanmekaargeweef. Sy skryf – stories, liedjies, rubrieke, wat vertel van God en van die lewe. En sy reis – sing-sing, die land deur – om dit met gehore te deel.

Gaan kuier gerus by www.annalisewiid.co.za

 

 

Om te síén …  Annelise Wiid

As jy moet weet jy het net een week van jou aardse lewe oor – wat sou jy doen? Wat sou jy NIE doen NIE? By wie sou jy kuier; wat sou jy sê; waaroor sou jy stilbly? Wat, wíé sou jy wou vashou? Wat sou jy laat los? Kom ons kyk in April, die maand van die Pase, na Jesus se laaste week op aarde en na sommige van die deurslaggewende keuses wat Hy in daai belangrike week gemaak het … 

Hy reis Jerusalem toe saam met sy dissipels, soos die Jode vir eeue al doen, om die Paasoffer te bring. Maar hierdie keer bring Hy nie, soos die gewoonte was, ‘n jaaroud vleklose lammetjie nie; Hy bring Homself – as dié Lam van God …  En, so in die loop, sê Hy vir sy dissipels: 

Net buite Jerigo, het hulle twee blindes gekry. Ek wens ek kon dit sien! Daar was natuurlik weer ‘n groot skare mense agter Jesus aan daai dag. Die twee blindes het langs die pad gesit en gehoor dat Jesus verbykom. En toe begin hulle skreeu! Hard en aanhoudend het hulle bly roep, bly skreeu

“Here, Seun van Dawid, ontferm U tog oor ons!” … tot Jesus gaan stilstaan het.

“Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?” vra Hy vir hulle.

Hulle het gesê: “Here, ons wil sien!”

Daarop het Jesus hulle innig jammer gekry en hulle oë aangeraak. Dadelik kon hulle sien, en het hulle agter Hom aangegaan.“   Matteus 20 : 31 – 34 (Nuwe Lewende Vertaling) 

  Ek verbeel my ek sien die volslae verwondering op hulle gesigte toe Hy hulle oë oopmaak en hulle kyk vas in Sý gesig. Daai asemlose oomblikke van hulle verwondering wat oorgaan in aanbidding:

Ons sien! Ons sien vir Jesus!! En toe die bohaai wat losbars…! Om te sien … om werklik te síén, vra dat ons oë aangeraak en oopgemaak word. Ja, ook ons oë, want ook ons is blind vir allerlei wonders en waarhede. As ek die Paasgebeure in die Bybel lees en jaar na jaar herlees, wonder ek: Hoeveel síén ons, hoeveel begryp ons regtig van Jesus en sy reis Jerusalem toe? ‘n Reis wat in der waarheid nie net ‘n week geduur het nie, maar eeue tevore reeds begin het: 

“Reeds voor die skepping van die wêreld is Hy hiervoor bestem …”   (1 Petrus 1: 20) 

 

 perspektief 

maak my nie groot nie, Here, maar laat my u grootheid sien

en weet hoe klein ek is

maak my nie slim nie maar laat my u wysheid sien

en weet hoe min ek weet

bring my nie op hoë plekke vanwaar ek op ander neerkyk nie

maar laat my u voete sien

as ek buig

en weet

dat my voete van klei is

en as iemand in my u lig sien

laat my onthou waarvandaan ek kom

en Wie my daar gaan haal het                                                          –  koos van der merwe,  optelwoorde  –