{ARGIEF}

              

Herfsblaar Vroue                           

“Ek groet jou, begenadigde! Die Here is by jou.”(Lukas 1:28) “Ek is die ware wingerdstok, julle is die lote. Julle moet in My bly en Ek in julle.”(Johannes 15:1-8)

Herfstyd is darteltyd. My oë streeldroom oor die vele kleure blare wat bottervliegievrolik darteldans op die wysiedans van die eerste bytkoue briesie. My voete sleursleep staan-staan op die blaretapyt wat die rypkoue grond toeverf met die mooiste kleure. Asemsnakmooi! My hart gaan op galop en ek draal droomverlore deur die plataanlaning en die herfswingerd se droomkleure. Bloubessiegroen en olyfgroen. Violetpers en purperpers. Karmosynrooi en wynrooi. Borrievinkgeel en sywurm-sysagtegeel. Lemoenoranje en songeeloranje. Roesbruin, neutbruin en suikerbruin. Steenbokkiestil, luister ek na die ritsel en ruis van populierblare, songeeldeurskynend. Herfstyd se herfsblare saam met die yskoue briesie van die naderende winter deur laventelboomtakke en eikeboomtakke maak herfsmusiek saam met viool, viola, tjello en basviool.

“loof die Heer se Naam

en maak sy dade groot

loof die Heer se Naam

Hy leer my om te leef !”

Herfsblare is letterlik elkeen uniek met God se Hand geverf. Daar is regtig nie twee blare wat eenders is nie. Selfs die malva se diepgroen blare kry pienkrooi kartelrandjies van koudkry. Swewende herfsblare lyk soos swewende vlindervlerke wat sag aan ons raak. Vroue is die Here se begenadigde herfsblare. Elkeen so kosbaar uniek. Elkeen so kosbaar vir God dat hy oor ons elkeen jubel en sing. (Sefanja 3:17). Herfstyd is ‘n stil-tevrede wagtyd, want die diepdinktyd van winter wag. Herfsblaarvroue weet en ken ons God. Hy is by ons. Hy is stil-tevrede in sy liefde vir ons.

Gaan wees die sagte aanraking van herfsblare in ‘n mede-vrou se lewe. ‘n Sagte herfskleur-aanraking van omgee, bemoediging, bedagsaamheid, inagneming, bystand en hoop. Word stil saam in God se liefdevolle teenwoordigheid en leer al meer luister na sy Stem. Leer diepluister na mekaar. Dra mekaar in verstaan. Begelei mekaar om deel te wees van die Gees se beweging. Net Hy kan ons hangvlerke wat soms deur omstandighede gebind word, losknip. Net Hy kan ons kleurvolle herfsvlerke sterk laat vlieg met arendkrag.

 

Jesusliefde, liewe herfsblaarvriendinne van die Suid- en Wes-Kaap.