{ARGIEF}

deur Marlies Coetzee
Lutzville-1Lutzville se Vrouebediening (Vroue wat Ville) het vanjaar besluit om vir Antoinette te nooi om met ons kom gesels oor die geloofspad vir vroue.
Vroue met Vlerke was ons vertrekpunt en na afloop van ‘n heerlike kuieroggend saam met Antoinette, Amanda, Jesme en die vroue van Lutzville, het God die storie op my hart geskryf: (Maar laat ek sommer reg aan die begin sê: dit was nie veronderstel om ‘n vermaaklikheidsoggend te wees nie. Elke individu moes voor die Here kom stilword en luister wat Hy wil fluister.)
ONS BEPLAN ‘N REIS.
Die beplanning was ‘n vreeslike gesukkel, want ons kon oor ‘n paar dinge nie eenstemmigheid kry nie.
Almal was redelik seker oor ons eindbestemming, maar ons kon nie saamstem oor ons roete of vervoer nie. Die padkos was een van ons grootste twispunte, want soveel siele, soveel smake.
Ons klomp siele het toe besluit om die hulp van ‘n goeie reisagentskap in te roep: “Vroue met vlerke”.
Hoe maklik en lekker het ons toe saamgewerk.
Die verkryging van ‘n kaartjie vir die reis was geen probleem nie. Dit is letterlik so maklik soos – “klim net in”.
Die roete was nie vooraf bekend nie, want die reis is eintlik ‘n avontuur. Ons eindbestemming: Die Ewige Lewe
Die enigste voorwaarde as jy hierdie avontuur wou meemaak, is dat jy al jou bagasie by die Kruis moet verklaar. Oortollige en onnodige bagasie word by die kruis afgelaai.
Die kos op die reis is voorsien en was voortreflik. Jy moes net jou eie eetgerei (oë, ore, hande en voete) saamneem. Op die spyskaart was eredienste, selgroepe, Bybelstudie, geloofsvriendinne, bid en ondersteunings-groepe, liturgiese bediening en die huisvrou-tak vir die kreatiewes en nog oorgenoeg om aan te peusel tussen-in.
Ons het nie geweet hoe lank die avontuur gaan duur nie, maar daar is gereeld by interessante plekke langs die pad gestop.
Soms het ons nuwe padkos gekry, soos ‘n lofdans, wat ‘n heel nuwe smaak vir sommige reisigers is. Soms het daar nog passasiers opgeklim (wat fantasties is), maar dis hartseer dat daar tog passasiers is wat nie die reis tot die einde toe meegemaak het nie. Soms het ons in stilte gereis. Ons loots het gereeld inligting oor ons avontuur aan die passasiers bekend gemaak. Soms was ons ‘n klomp wat hoor en soms was die boodskap baie spesifiek.
Ons het gereeld gestop om ander by te staan of om te bid terwyl daar storms om ons woed.
Soms het ons van ons padkos uitgedeel, as ons ‘n behoefte identifiseer het en soms moes ons ‘n medepassasier wat verlang se hand vashou, ‘n traan afdroog as sy hartseer was of net ‘n oor wees wanneer sy haar hart wou oopmaak.
Gryp die genade wat God jou gun om te kan deel in sy avontuur, met jou hele hart aan.
Klim net in en reis saam – ons reis steeds voort!
Lutzville-2
MAG ELKEEN WAT DEEL IS VAN HIERDIE AVONTUUR/REIS, GOD SE TEENWOORDIGHEID EN SORG ERVAAR.
Lutzville-3