{ARGIEF}

E   

Ek is getroud met my skoolliefde, Theo – tans brugpredikant in Goodwood Moedergemeente.  Saam het ons ’n passie vir gesonde huwelike.  Ons het 3 volwasse kinders (1 getroud met ‘n vreugdebondeltjie van 18mde, wat oorgretig nuut leer).  My onlangse 5jr in Japan het my geleer dat daaglikse kameraadskap met Jesus onvervangbaar is, en die kerk dissipels nodig het.  Ek is fasiliteerder van ’n lewensverrykingsprogram, Bright Star en bied graag vrouekampe aan.  My hart begeer dat elke mens by God se unieke plan vir sy lewe s al uitkom

Raak ’n bietjie rustig.  Vergeet van alles om jou en lees die tekste stadig deur.  Mymer daaroor.

Hoe kan ek jou prysgee… Hoe kan ek jou vernietig… Ek kan dit nie oor my hart kry nie.  My liefde brand te sterk.  [Hosea 11:8]

Hy het sy eie mense, wat in die wêreld is, liefgehad, Hy het hul tot die uiterste toe liefgehad.  [Joh 13:1b]  God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.  [Rom 5:8]

Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand, rnet al jou krag.  … Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.  Geen ander gebod is groter as die twee nie.  [Markus 12:30-31]

Maar ek het dit teen julle:  julle het My nie meer so lief soos in die begin nie.  [Openbaring 2:4]

 

Hoe verduidelik ’n mens hierdie liefde van God vir iemand wat nie ’n God van liefde ken nie?  Hoe neem ons klein menslike verstandjies dit in?  Die Almagtige Skepper, wat die aarde met ’n maatlyn afgemeet en die see opgedam en agter slot en grendel gesit het, die môre beveel om op te kom en die plek van die donkerte al bekyk het [Job 38], vir wie die nasies soos ’n stoffie op ’n skaal is [Jes 40:15], se liefde brand só sterk dat dit sy woede oorskadu!  Wat doen dit aan my en jou as ons besef dat Hy afsien van sy oordeel, broos raak in sy liefde – die risiko neem van verwerping – en tot die uiterste gaan deur sy Seun prys te gee sodat ons vir ewig saam met Hom kan wees?  Oorweldig dit jou ook as jy besef jy kan dit vir jou persoonlik vat?  Val jy ook op jou knieë en sê saam met Jesaja:  “Elke woord oor my lippe is onrein… ons beste dade is soos vuil klere”?

 

En as ons opstaan van ons knieë met harte wat oorweldig is deur sy liefde, wat maak dat die liefdesvlam verdof?  Kan dit wees dat ons Hom dalk liefhet vir onsself, oor wat Hy vir ons doen?  Verflou ons liefde as Hy sy hand van guns wegtrek, soos by Job?  Kan die Een wat ons geskep het suiwer om lief te hê, nie net liefgehê word vir wie Hy is nie, soos Job ook moes leer?  Of verflou ons liefde (presies soos Efese s’n) omdat ons so vasgevang raak met dinge vir die Here dat die fokus van ons liefde verskuif?  Henri Nouwen lig die gevaar so uit:  Nothing conflicts with the love of Christ, like service to Christ.

 

Bo alles begeer God om in ‘n liefdesverhouding met ons te wees vir wie ons is, nie vir wat ons doen nie.  Die eerste en grootste gebod is dat ons Hom sal liefhê met ons hele wese – ons hele hart, siel, verstand en al ons krag.  Dit is wanneer ons tyd maak vir kuier in sy teenwoordigheid – in afsondering en stilte luister na Hom, Hom ten diepste leer ken dat ons Hom nuut liefkry.  Dan begin Hy ons vul met meer van Homself, sy liefdeskarakter ons oorspoel en ons s’n raak, dat ons ons naaste nuut liefkry – met sy liefde, presies dit waarna ’n stukkende wêreld smag.

 

Here, ek wil U dink, U ken, U liefhê.  Laat dit in my groei, totdat U my volmaak verander het.  [Augustinus]