{ARGIEF}

Ek is getroud met my skoolliefde, Theo – tans brugpredikant in Goodwood Moedergemeente.  Saam het ons ’n passie vir gesonde huwelike.  Ons het 3 volwasse kinders (1 getroud met ‘n vreugdebondeltjie van 18mde, wat oorgretig nuut leer).  My onlangse 5jr in Japan het my geleer dat daaglikse kameraadskap met Jesus onvervangbaar is, en die kerk dissipels nodig het.  Ek is fasiliteerder van ’n lewensverrykingsprogram, Bright Star en bied graag vrouekampe aan.  My hart begeer dat elke mens by God se unieke plan vir sy lewe sal uitkom. 

Toe sê Hy wat op die troon sit:  “Kyk Ek maak alles nuut.”  [Openbaring 21:5]

November is die maand van afsluitings – ‘n nuwe jaar met nuwe uitdagings lê voor.  Binnekort vier ons die koms van die Een wat die nuwe gebring het, by wie ons nuut kan leer.

 

Die mense het kindertjies na Jesus toe gebring dat Hy hulle moet aanraak.

Sy dissipels het met die mense daaroor geraas.

Maar toe Jesus dit sien, was Hy verontwaardig en het Hy vir hulle gesê:

“Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie,

want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle.

Dit verseker Ek julle:  Wie die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie,

sal daar nooit ingaan nie.”

Hy het sy arms om die kindertjies gesit, hulle die hande opgelê en hulle geseën.  [Markus 10:13-16]

 

Dit was die gebruik in daardie tyd dat ma’s hul kindertjies na rabbi’s neem om geseën te word.  En tog, terwyl die dissipels dit kon verwag, het hul gedink dat die kinders nie hul Meester se tyd en aandag werd was nie.  Hy het immers belangriker dinge wat sy aandag vereis.  Kan jy jou die prentjie voorstel?  ’n Klomp laggende, jillende kindertjies wat opgewonde is om naby die vriendelike Man met sy laggende oë te kom van wie almal praat, aan Hom te raak, deur Hom geseën te word.  Die ma’s se hande was vol om die woelwaters te beteuel!  Die dissipels moes eenvoudig hul Meester beskerm!

 

Maar Jesus reageer met verontwaardiging…  Verstaan hul dan nie, dat die kindertjies se gesindheid juis wys wat nodig is om na God te gaan nie?  Hul steel sy hart… dit is presies hoe die koninkryk van God aanvaar moet word!  Die skril kontras tussen hul gesindheid en die van die geestelike leiers tref Hom, die eenvoud en ontvanklikheid waarmee die kindertjies vertrou, teenoor die skeptisisme, koppigheid en hoogmoed van die geestelike leiers.  Dit is juis vir mense soos die kindertjies vir wie die koninkryk se deure oopstaan, vir die afhanklikes, wat niks probeer verdien nie, maar onvoorwaardelik die gawe aanvaar.  Geraak deur die kinders se ontvanklike, pretensielose kinderlike geloof, verwelkom Jesus hul in sy arms en seën hul.

 

Dink ’n bietjie:  Is dit vir jou genoeg dat God ons liefhet en ons sondes vergewe het?  Of wil jy die geheime van die skepping verstaan voor jy kan vertrou?  Kom ons word weer ontvanklike kinders en hardloop spontaan in sy arms, opgewonde om deur Hom geseën te word, juis omdat ons verstaan dat ons sonder enige pretensie of verdienste sy koninkryk kan binnegaan. 

 

Bid saam met my hierdie gebed van Stefan Joubert: 

Liewe Here Jesus, maak my klein.

Trek my groot skoene uit waarmee ek so maklik bo-oor ander loop.

Haal my lewensgevaarlike tong uit my grootmens-mond waarmee ek ander stukkend praat

My groot kleinserigheid; my groot opinie oor myself; my groot planne –

dit alles bring ek vandag vir U

Net U kan my klein genoeg maak om ’n sitplek te kry aan U voete

Net U kan my weer in verwondering laat opkyk na U en ander mense

Leer my om ’n kind te word wat stil, nederig en opgewonde leef voor U

Leer my vandag opnuut die groot geheime van klein wees in U teenwoordigheid.