{ARGIEF}

Ek is getroud met my skoolliefde, Theo – tans brugpredikant in Goodwood Moedergemeente.  Saam het ons ’n passie vir gesonde huwelike.  Ons het 3 volwasse kinders (1 getroud met ‘n vreugdebondeltjie van 18mde, wat oorgretig nuut leer).  My onlangse 5jr in Japan het my geleer dat daaglikse kameraadskap met Jesus onvervangbaar is, en die kerk dissipels nodig het.  Ek is fasiliteerder van ’n lewensverrykingsprogram, Bright Star en bied graag vrouekampe aan.  My hart begeer dat elke mens by God se unieke plan vir sy lewe s al uitkom. 

 

Eendag toe Jesus langs die See van Galilea loop, het Hy vir Simon (Petrus) en Simon se broer Andreas gesien waar hulle besig was om werpnette in die see uit te gooi. Hulle was vissers van beroep. Hy het toe vir hulle gesê: “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.” Onmiddellik het hulle die nette gelos en Hom gevolg.  [Markus 1:16-18]

 Jesus het toe die menigte mense saam met sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê:
“As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg,

{Markus 8:34b}

 

Jesus kies om eenvoudige, rowwe seemanne te roep as sy eerste dissipels.  Hul het reeds vroeër met Jesus gepraat en het geweet hul lewens sou ingrypend verander.  Tog vra hul nie vrae nie.  Hul los onmiddellik hul lonende werk, om saam met Jesus sy koninkrykspad te stap – ’n pad waar Hy nie ’n rusplek vir sy kop het nie [Luk 9: 58], maar waarop hul konstante kameraadskap met die Messias kon hê.  Hul sou aan sy voete soos vakleerlinge leer hoe om ander na God te lei, Hom na te boots.  Voortdurend in Jesus se geselskap sou sy karaktertrekke hul uiteindelik deursuur, sodat hul innerlik meer soos Hy sou word. 

 

Jesus se roeping vra van ons onvoorwaardelike navolging, algehele gehoorsaamheid, totale selfprysgawe.  Dalk het jy nog nooit gedink dit is nodig dat jy as Christen ’n dissipel word nie.  Tog is dit juis in die konstante vakleerlingskap en kameraadskap met die Meester dat jy besef hoe groot sy liefde vir jou is.  Aan sy voete verander jou karakter, word jy meer Christusgelykvormig, sodat jy ook vissers van mense kan maak.  Dan wil jy Hom volg, in sy voetspore trap, na waar Hy vandag sou wees – in die huise van die gebrokenes, besig om in die behoeftes van die armes te voorsien, na waar ookal Hy roep.  Dan bestaan jou eie koninkryk nie meer nie, maar volg jy onmiddellik, sonder vrae, gehoorsaam op sy koninkrykspad na waar Hy jou hande en voete wil gebruik.

 

Kom ons sê saam met die groep Leeland vir Jesus:

And I’ll… Follow you into the homes of the broken

Follow you into the world

Meet the needs for the poor and the needy, God

Follow you into the world

Use my hands, use my feet

To make your kingdom come

To the corners of the earth…

Until your work is done.