{ARGIEF}

Annalise Wiid

is van woorde en wysies aanmekaargeweef. Sy skryf – stories, liedjies, rubrieke, wat vertel van God en van die lewe. En sy reis – sing-sing, die land deur – om dit met gehore te deel.

Gaan kuier gerus by www.annalisewiid.co.za

Om ‘n Psalm te sing …

Wat Jesus gedoen het, was nie eintlik iets nuuts nie. Hy was nie die enigste een wat Jerusalem toe gereis het om te gaan aanbid nie. Die Jode het elke jaar, vir eeue al, met die Paastyd opgegaan Jerusalem toe om offers vir hulle sonde te bring, dikwels ‘n lam – ‘n perfekte lammetjie, sonder enige gebrek. En toe kom Jesus daai betrokke Paasfees Jerusalem toe en Hy bring nie ‘n lammetjie om te offer nie, Hy kom gee Homself as dié Lam, van God en vir God – om ons “vir altyd volkome van sonde vry te maak.” (Hebreërs 10: 14)

Destyds het die Jode, wanneer hulle Jerusalem toe gereis het vir die Pase, pelgrimspsalms gesing – liedere waarin hulle sing van hulle geloof in God en van al die redes hoekom hulle na Hom toe kom vir verlossing – Psalms wat ons ook herinner aan ‘n hele klomp redes hoekom ons Jesus nodig het:

“Te lank moes ek woon by mense wat vrede haat. Ek het vrede begeer.” Psalm 120: 6, 7

“Ek kyk op… waarvandaan sal daar vir my hulp kom? “My hulp kom van die Here…” Psalm 121: 1, 2

“Ontferm U oor ons, Here, ontferm U oor ons …” Psalm 123: 3

“Soos die berge Jerusalem aan alle kante beskerm, so beskerm die Here sy volk …” Psalm 125: 2

“Die Here hét groot dinge aan ons gedoen; ons was bly.” Psalm 126: 3

“Uit die dieptes roep ek na U. Here, luister tog na my, Here, hoor tog my hulpgeroep.

… by U is daar vergifnis … by die Here is daar troue liefde …, by Hom is die verlossing seker.” Psalm 130: 1, 4, 7

“Ek het rus en kalmte gevind …” Psalm 131: 2

“Hoe goed, hoe mooi is dit as broers eensgesind saam woon!” Psalm 133: 1

Jesus is kruis toe namens elkeen wat jaar na jaar daardie pelgrimspsalms loop en sing het. En ook namens ons in wie baie van dié psalms se woorde en versugtinge na al die jare nog steeds eggo …

Die aand voor sy kruisiging, het Jesus saam met sy dissipelvriende geëet en vir hulle gesê:

“Ek het baie daarna uitgesien om hierdie paasmaaltyd saam met julle te eet voordat Ek ly. Ek sê vir julle: Ek sal dit nie weer eet voordat dit in die koninkryk van God sy volle betekenis gekry het nie.” Lukas 22: 15, 16

“Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie …

In my nood het ek na die Here geroep, die Here het my gebed verhoor en my bevry.

Die Here is by my … die Here is by my … Die Here is my krag en my beskerming …

Ek sal nie sterwe nie, ek sal lewe … “ Psalm 118: 1, 5, 6, 7, 14, 17

Hulle het klaar geëet. En toe het hulle die lofsang gesing. ‘n Psalm. Waarskynlik Psalm 118:

Met hierdie Psalmwoorde op sy lippe is Jesus Olyfberg toe, Getsemane toe, Golgota toe … en, soos belowe is, ook uit sy graf uit! En nou wag Hy ons in by sy koninkrykstafel, waar Hy ook seker sal sê: “Ek het baie daarna uitgesien om hierdie maaltyd saam met julle te eet …”

Jou reis, daarheen, is vir God enige dag net so belangrik as wat Jesus se reis Jerusalem toe was.

“Your life is a journey you must travel with a deep consciousness of God.” 1 Petrus 1: 17, The Message

Want in die suising van die wind hoor ek hoe U soms roep: “My kind, my kind …” – I. L. de Villiers, Stuurwielgebed – Du Toitskloof –