{ARGIEF}

E   

Ek is getroud met my skoolliefde, Theo – tans brugpredikant in Goodwood Moedergemeente.  Saam het ons ’n passie vir gesonde huwelike.  Ons het 3 volwasse kinders (1 getroud met ‘n vreugdebondeltjie van 18mde, wat oorgretig nuut leer).  My onlangse 5jr in Japan het my geleer dat daaglikse kameraadskap met Jesus onvervangbaar is, en die kerk dissipels nodig het.  Ek is fasiliteerder van ’n lewensverrykingsprogram, Bright Star en bied graag vrouekampe aan.  My hart begeer dat elke mens by God se unieke plan vir sy lewe s al uitkom

 

Rom 12:1-2 lees in The Message soos volg:

So here’s what I want you to do, God helping you: Take your everyday, ordinary life — your sleeping, eating, going-to-work, and walking-around life — and place it before God as an offering. Embracing what God does for you is the best thing you can do for him. Don’t become so well-adjusted to your culture that you fit into it without even thinking.  Instead, fix your attention on God. You’ll be changed from the inside out. (Laat God jul verander, deur jul denke te vernuwe – NAB.)  Readily recognize what he wants from you, and quickly respond to it. Unlike the culture around you, always dragging you down to its level of immaturity, God brings the best out of you, develops well-formed maturity in you.

 

WOW!  Dit klink so maklik om maar net al die goeters wat jou lewe belas en vollaai (al jou bedrywighede, verantwoordelikhede, stres en gedagtes, jou hele self) neer te sit voor God en te sê:  Hierso, Here!  En wat kan wonderliker wees as om net te omhels wat God vir jou doen?   Kan dit waar wees dat dít die wesenlike van ons godsdiens is?  Die beste wat ons vir Hom kan doen?  Paulus, wat homself die grootste van alle sondaars noem, weet wat dit is om totaal onverdiend God se guns te omhels.  Hy ken God se verbysterende genade wat ook tot ons beskikking is, maar oorgegewe lewens van ons vra.

 

Sit ’n bietjie agteroor en dink mooi:  Kan jy dit regkry om jou hele self so oor te gee, al jou doen-goed (doing)?  Voel ons vrouens nie maklik skuldig as ons lewens nie uit ’n klomp doen-goed bestaan nie?  Kan jy so ontvanklik voor God staan, om in verwondering net te omhels wat Hy gereed het vir jou?  Of het verdienstelikheid so deel van ons geraak dat dit deur ons are vloei, sodat daar nie plek is vir die invloei van God se genade nie?  Is dit nie die normale vir ons – onmisbaar deel van ons kultuur – die enigste wat ons ken nie?  En die druk om daaraan deel te hê kom subtiel, sodat ons geleidelik akklimatiseer, en wat sonde is nie meer so sondig voorkom nie.  Dink maar hoe die media (televisie, tydskrifte, literatuur, musiek, rolprente) – ons kultuur – ons waardes verdoesel en ons aftrek op ’n vlak van geestelike onvolwassenheid, selfs sondigheid.  ‘n Mens sien mos makliker hoe iemand anders konformeer, as wanneer jy self in die slaggat trap. 

 

Maar… verandering is moontlik!  Die geheim lê in ’n nuwe fokus.  Kies doelbewus om op God te fokus, op dit wat in sy hart en gedagtes leef, wat vir Hom tel, wat Hy, wat die beste in jou na vore wil bring, vir jou wil hê.  As ons soos Maria oë het net vir Jesus, aan sy voete sit, omdat ons nie genoeg kan kry van sy teenwoordigheid nie, kies ons die beste deel [Luk 10:42].  Aan sy voete raak ons eie gedagtes sinloos, want in verwondering wil ons dink soos Hy dink.  Met oë op Hom raak verdienstelikheid niksseggend, raak die doen-goed (al die goeters wat ons lewens belas en vollaai) onbenullig, wil ons ons hande vry hê om in verwondering te omhels wat Hy vir ons gereed het.  Ons wíl dan ons hele self neersit en saam met Albert Schweitzer bid: 

 

Hier is my lewe, Here.  Ek plaas dit vandag op die altaar.  Gebruik dit soos U wil.