{ARGIEF}

hopefield-apr14deur Vrouediens
Vroue van Hopefield het begin om hul vlerke op ons dorp te sprei. Hul het begin om meer betrokke te raak by projekte en aksies in ons gemeente.
Ons het 2013 afgeskop met ‘n safari-ete en kenmekaar. Ek haal aan: “Engela het soos gewoonlik iets interes-sants uitgedink. Meeste van ons wat gewoonlik baie praat, was tjoepstil. Hoekom? Ons het ‘n speletjie gespeel waar jy nie die woord “ja” of “nee” mag gebruik het nie. Sou jy die woorde gebruik, moes jy boete betaal met ‘n boontjie (elke persoon het 10 boontjies ontvang).
Aan die einde van die aand het die persoon met die meeste boontjies, gewen. Ons het werklik baie pret beleef en mekaar beter leer ken.
Ons het ook in die tweede kwartaal iemand gehad wat met ons haar passie kom deel het oor hoe sy haar Christenskap in die maak van juwele en boekmerke uitleef.
In die derde kwartaal het ons iemand gehad wat met ons haar passie en liefde vir sendingwerk kom deel het.
Ons het die jaar afgesluit met ‘n boemelaarsaand en het kos van ‘n boemelaar geëet. By hierdie geleentheid het ons ook ‘n spreker gehad wat met ons sy lewensverhaal kom deel het. “Die een oomblik vlieg jy nog hoog en die volgende oomblik word die mat onder jou voete uitgeruk en moet jy leer om jou hand  in God se hand te plaas en van dag tot dag te leef in afhanklikheid van God.”
Ons het verseker in 2013 ‘n baie geseënde jaar met al ons projekte beleef. Ons het besluit om vir ons kinderhuis in Moorreesburg komberse te brei. Ons dames brei voorwaar fluks. Baie dankie julle. Een maal per maand hou ons ‘n hamburgeraand wat baie goed ondersteun word. Wintermaande bak ons op Vrydae vetkoek en pannekoek, wat ook baie goed ondersteun word. Ons ploeg baie van ons geld terug in ons gemeente, maar deel ook aan ander organisasies uit.
Ons beleef werklik dat die Here onder ons dames besig is. Ons dames het beslis in 2013 hul vlerke gesprei. Al die eer aan ons Hemelse Vader.