{ARGIEF}

winter
deur Mariëtte Steyn
“Agge nee, dis alweer winter! Wanneer hou die reën en koue op. Ons kan vandag alweer nie buite speel nie.” My skoondogter vertel dat ons vierjarige kleinseun wintersoggende so begroet. Hy hou nie van winter en sy beperkings nie en dit laat my terugdink aan myself so 35 jaar gelede. As jong mamma was ek ook vasgevang deur die winter. Sonder “malls” waar jy onderdak kon parkeer, was dit maar moeilik om die weeklikse inkopies met baba in die stootwaentjie en die winkeltrollie aan die ander hand, te hanteer. En dan reën jy ook nog nat oppad motor toe.
Vandag kyk en ervaar ek winter anders. Dis nie meer so ontwrigtend nie. Maar, dit IS winter. Die Kaap is nat en koud en baie mense kry swaar. Die reën en koue maak die nood aan huisvesting en kos net groter. Hier by ons is daar mense wat in bushokkies en op winkelstoepe slaap, onder brûe, teen heinings – hulle hoort nie daar nie, maar hulle het geen ander skuiling teen hierdie koue, nat winter nie. Soms wil ons net ons ore en oë toeknyp en ons kop in die sand druk, maar is dit wat Jesus met die wêreld doen? Knyp Hy sy oë, ore en hart toe vir ons nood? Nee, hy sien ons hartseer en swaarkry en kyk met deernis na ons. Hy sien ook ons hardvogtigheid, onwilligheid en bly steeds lief vir ons.
Wat maak ons om vir Hom iets terug te gee?
Ek lees die afgelope naweek in Onrusrivier se afkondigingsblad, Hartklop, ‘n aangrypende storie wat ek graag met julle deel: Robert Louis Stevenson (die skrywer van o.a. Treasure Island en Kidnapped) is in 1850 gebore en het in Edenburg, Skotland groot geword. Dit was nog in die dae van olie straatlampe. En hy kon goed onthou hoe die man wat elke laatmiddag die lampe moes aansteek, met sy trapleertjie tot by die lamppaal gekom het, versigtig opgeklim en die lamp aangesteek het. Stevenson vertel wat die grootste indruk op hom gemaak het, was dat die lampaansteker nooit verder gegaan het as hy nie eers ‘n lig agtergelaat het nie.
Ons is ook soos hierdie lampaansteker. Ons is geroep om lampe aan te steek en lig te maak. Doen ons dit?
Hoe kan ek ‘n lamp aansteek en vir iemand lig maak?