{ARGIEF}

Dit het tyd geword dat gemeentelike jeugbediening herontwerp word

Frederick Marais

Ek is die afgelope tyd genader om by  ‘n aantal prosesse waar aanstellings van jeugwerkers of die beroeping van jeugpredikante ter sprake is, advies te lewer.  Ek het gemengde gevoelens daaroor, aan die een kant dankbaarheid dat daar mense is wat met passie oor Jeugwerk in die gemeente en die kerk praat en dinge wil doen.  Aan die ander kant is ek baie onseker of ons wat getrokke is (ekself ingesluit) bereid is om die probleem van kinder en jeugbediening in die oë wil kyk.

Ek is nie aldag oortuig dat die meer aandag gee, of meer poste skep of meer geld gee die eintlik probleem met Jeugwerk gaan oplos nie.  Ek dink die probleem lê veel dieper.  Ek dink nie die vraag is hoe kan ons die jeug beter bedien nie, maar hoe kan ons die jeug bedien sodat hulle – kom ons sê maar- twee jaar nadat hulle belydenis afgele het, ‘n gelukkig tuiste in die gemeente vind en oor die vermoë beskik om op ‘n geintegreerde manier hulle getuienis uit te leef.  Die probleem is daarom mi nie, om maniere te vind wat die kinders en jomgmense sal stimuleer om meer by ons jeugwerk betrokke te raak nie, maar wanneer hulle betrokke geraak het, watter “produkte“ ons jeugwerk lewer.  Hieroor is ek baie bekommerd. Ek dink dit is noodsaaklik dat ons jeugwerk her-ontwerp sodat die meer fundamentele vrae aangespreek word.

So hier is my advies in ‘n neutedop – as julle ‘n jeugleraar wil beroep gaan julle eindig met ‘n gefrustreerde  en moontlik uitgebrande man of vrou na 3 jaar, maar erger die jeug wat julle deur die jeugwerk van die gemeente bedien het, sal nie meer in die gemeente wees nie, want jeugwerk kan  kinders maklik vervreem van  die ouer of jonger mense in die gemeente – tot so ‘n mate dat die kinders die gemeente eenvoudig verlaat om ‘n bediening te gaan soek wat meer lyk soos hulle jeugbediening in die gemeente.

Kom ons wees dapper genoeg om die waarheid in die oë te kyk – Jeugwerk(soos wat ons dit tradisioneel ken) sal fundamenteel herdink moet word. Min mense het die moed om dit te sê juis omdat ons bang is om tot jeugvyande verklaar te word.  In my geval is my intensie presies die teenoorgestelde.  Dit is juis ter wille van die jeug wat ek wil pleit dat ons begrafnis hou van jeugwerk en hulle terug verwelkom in die gemeente.  

Hoekom dink ek jeugwerk soos wat ons dat al die jare geken het is dood?

  • Omdat ons dink jeugwerk is iets wat jy doen en nie iets waaroor jy ernstig hoef te dink nie.  Jeugwerk is daarom vol van planne en resepte waarvan sommige soos my ouma se kook en geniet boek lyk – oorgebruik en regtig nie meer gesond nie – met apologie aan die skrywers van Kook-en-Geniet.  Ons herontwerp die kampprogram, kry nuwe ysbrekers kry nuwe name om dieselfde bediening net op te dollie en is kwaad vir die kinders omdat hulle dit agterkom en nie so entoesisties meedoen as toe ons kinders was nie.  Dit alles binne die bekende denk-kassie van jeugwerk.  Ek weet van byna geen – gelukkig is daar ‘n paar uitsonderings – gemeentes waar die mense wat met die jeug werk nie lei aan hierdie sieke van die oorgebruik van ou paradigmas nie. Jeugwerk is dood omdat daar te min mense is wat die moed het om begrafnis te hou en te sê die koning is kaal. Ons behoort ons beste studente nou aanmoedig om te help met navorsing sodat ons die kinder en jeugbediening kan herontwerp. 
  • Jeugwerk as spesialiteit los van ander bediening versterk die marginalisering van die jeug terwyl dit die teenoorgestelde pleit.  By hoeveel sinodes ringe en kerkrade voer die arme jeugwerkers nie ‘n opdraende stryd teen die magte om darem ‘n bietjie geld te kry of innings te kry by die erediens nie.  Ons wen die argument gewoonlik gegrond op ‘n emosionele pleidooi dat ons darem nie ons jeug wil verlooor nie, maar verloor die oorlog omdat dit ons in ons pleidood vir jeugwerk die jeug nie ‘n guns doen nie maar eintlik die marginalisering van kinders en jongmense in die gemeente bevorder.
  • Jeugwerk vorm maklik ‘n onheilige alliansie met die markgedrewe generasie proses in ons samelewing.  Kom-ons-bedien-elke-generasie-apart want so kan ons maksimaal aan hulle behoefte voldoen.  Wil iemand nie asseblief vir my uitspel wat die langtermyn gevolge hiervan vir die kerk en gemeentes is nie? Ek weet generasies geniet dit baie waneer ons aan hulle behoeftes aandag gee, maar wat gebeur nou as hulle die stoute skoene aantrek en besluit om uit die generasie te groei? Wat is die werklike effek van generasiedenke as dit kom by geloofsvorming en tuiskoms in gemeentes?
  • Jeugwerk en sy sussie kategese sal moeilik in hulle huidige gestalte die verbeelding aangryp omdat dit nie daarin slaag om geloofsvorming te stimuleer en te bevorder wat kinders help om hulle identiteit in Christus te vind en integreer nie.  Jeugwerk en kategese  wat  afgesonder, lees apart van die res van die gemeente funksioneer, ontwikkel byna altyd in die rigting van vermaak, maar is bloedarmoedig in terme van identiteitsvormende strukture.  Ons uitdaging is om kategese wat in klasse plaasvind te herontwerp na ‘n proses van  geloofsvorming wat jongmense help om hulle identiteit in Christus te leer ontdek en te internaliseer met hulle lewe.  Hiervoor is mentoraatsverhoudings bv deurslaggewend.  Identiteit wat net binne een generasie gedefinieer kan word, het nie ‘n groot kans om die toets van die tyd te oorleef nie.

In ‘n navorsingsprojek van die AJK, Die Familie-Gemeente-Projek is ons nou reeds in ons tweede jaar aan die soeke  na ‘n alternatief vanuit die perspektief van die familie.  So stadig maar seker begin ons patrone raaksien wat ons baie opgewonde maak.  Ons sal nie wil beweer dat ons al die antwoorde het nie, het ons iets van ‘n nuwe- of is dit eintlik maar ‘n baie ou paradima.  Ek noem ses voorlopige gevolgtrekkings:

  1. Eredienste wat oor ‘n medium tot langtermyn groei is eredienste waar meer as een generasie intensioneel verwelkom word.  Dit is nou eredienste waar kinders, kinders mag wees en grootmense hulle nie soos kinders hoef te gedra nie.
  2. Die generasie-bedieninge beweer dat mense beter bedien word in ‘n konteks van hulle generasie se behoeftes.  Dit wil vir ons lyk asof die eintlike behoefte is aan die bevordering van die verhoudinge tussen die generasies – die “the magic is in the mix“ en nie in die bestandele nie.
  3. Gemeentes waar kontak tussen generasies bevorder word, is daar tekens van ‘n verjonging in terme van die lidmaat profiel.
  4. Kontekste waar gelowiges van meer as een generasie saam is om in hulle geloof groei, is welliswaar moeiliker om te skep en in stand te hou , maar die uitkomste toon tekens van ‘n dieper groei en groter volhoubaarheid. Mentorskap lyk vir ons na een van die moontlike alternatiewe vir die vasgeloopte situasie met die kategese.
  5. Gemeentes waar daar doelbewus gepoog word om meer as een generasie in hulle besluitnemings-strukture in te sluit, slaag beter daarin om inpak te maak in hulle gemeenskap, omdat hulle ‘n beter prentjie ontwikkel van wat werklik aangaan in die gemeenskap.
  6. Gemeentes waar kinders en jongmense nie net bedien word nie, maar toegelaat word om ook te bedien, se “kinder- en jeugbediening“ toon tekens van nuwe lewe.

Ek dink dit is die moeite werd om hierdie voorlopige gevolgtrekkings ernstig op te neem. Dit bly verstommend hoe die Here in elke vasgeloopte situasie weer nuwe perspektief gee.