{ARGIEF}

Daar is die afgelope tyd heelwat oor die Belydenis van Belhar geskryf en geredeneer. Oud Polisie kommissaris Johan van der Merwe het die gesprek aan die gang gesit met sy standpunt en ervarings van Belhar wat terroriste sou ondersteun in die tagtiger jare.

Neels Jackson berig soos volg oor Van der Merwe se standpunt:

Van der Merwe voer aan dat geestelike leiers soos drr. Allan Boesak en Beyers Naudé nuttige werktuie in die ANC en SAKP se hande was.

Die ANC se stryd het eintlik om politieke mag gegaan, maar “op slinkse wyse” is apartheid voorgehou as die euwel waarteen die stryd gerig was.

Belhar was deel van die teologiese regverdiging van dié stryd. Volgens hom het Boesak met verborge agendas gewerk en kerklike vergaderings gemanipuleer om apartheid tot sonde te verklaar, waarna Belhar opgestel en aanvaar is.

Danie Mouton, direktuer van begeleiding in die Oos-Kaap, skryf ook in Beeld oor Belhar as ‘n instrument van Diensbaarheid

Belhar help die toekoms bou

“Ons jongmense het die land op ’n ander manier lief as ons,” het ’n ouer afgevaardigde tereg gesê. Die jong volwassenes is positief verbind aan die land. Hulle bou as gelowiges konstruktief aan die toekoms. “Wat Belhar met sy aksent op die eenheid van gelowiges, versoening tussen mense, en ’n aandrang op God se geregtigheid doen, is om ons taal en instrumente te gee om diensbaar te wees aan God se toekoms in hierdie land,” het hulle gesê.

Ons land het Christene en kerke nodig wat eendragtig saam getuig en dien. Ons moet die krag van ons eenheid in Christus herontdek. Die genesende krag van versoening met God en met mekaar moet bedien word. Elke vorm van onreg en marginalisering van mense moet die stryd aangesê word. Waar dit gebeur, is daar hoop.

Laat ons met Belhar ’n geskenk aan die jongmense van ons kerk en die toekoms van ons land gee.

Belhar hou die evangelie in fokus

Die Belhar-belydenis bestaan uit vyf artikels. Die eerste bely geloof in die drie-enige God wat sy kerk skep en onderhou, en die laaste artikel bely finale gehoorsaamheid aan Christus alleen. Omraam deur hierdie twee, bevestig die middelste drie artikels kernwaarhede van die evangelie, en wys valse leerstellings af.

Die tweede artikel bely die eenheid van die kerk as ’n samebindende krag deur die werk van die Gees, ’n gawe en ’n opdrag. Die eenheid moet sigbaar word om geskeidenheid, vyandskap en haat tussen mense te oorkom, en uitdrukking aan liefde en diens te gee.

Nelus Niemandt, moderator van die Algemene Sinode van die NG Kerk het die afgelope week sy prespektief gestel in Beeld onder die titel: Vars storie vir ‘n nuwe begin

Nelus skryf oa:

Ons verstaan dit was deel van ons ou storie, maar ons smag na ’n nuwe verhaal … en die algemene sinode van die NG Kerk sien in die belydenis van Belhar die hooflyne van ’n nuwe verhaal wat ons kan help om ’n nuwe begin te maak.

Die storielyn van Belhar is duidelik. God is ’n God van geregtigheid.

In hierdie wêreld waar ryk bankiers enorme bonusse kry en korrupte politici arm mense se geld steel, kan ons verhale vertel van mededeelsaamheid, sorgsaamheid en moeite om armes te help.

In hierdie wêreld waar globalisering tot gevolg het dat meer en meer verskillende mense in dieselfde plekke saam ’n lewe moet maak, kan ons praat oor nuwe lewe en eenheid in Jesus Christus.

Ons kan in die naam van die Here protesteer waar minderhede onderdruk word en mense (ook Afrikaanses) se identiteit en regte vertrap word.