{ARGIEF}

Dit beteken ook dat jy die vraag moet vra:  Moet ek óf wil ek.  Mens moet natuurlik ook rekening hou met die vraag of ek kan.  Ek is van mening dat as jy ‘n gesonde en gebalanseerde persoon is met ‘n redelike mate van emosionele volwassenheid, dan kan jy verander.  Dit is egter waar dat daar mense is wat emosioneel ongesond en onvolwasse is sodat persoonlike transformasie erg bemoeilik word.  Persoonlikheidsongeskiktheid soos byvoorbeeld narsisisme, is ‘n ernstige blokkasie in die proses van persoonlike transformasie.  (Ek verwys in dié verband na ‘n artikel deur Chris Jones in ‘n onlangse Kerkbode, getitel: Narsistiese leierskap).

Omstandighede speel natuurlik ook ‘n groot rol en as die krisis of druk groot genoeg is, sal dit gedragsveranderinge tot gevolg hê.  Dit mag lyk soos persoonlike transformasie en dit kan dit ook wees, maar dit is nie noodwendig so nie, want as die bedreiging eers verby is, keer mens maklik terug na die ou patrone.  Die kamp staaldraad-metodiek het maar redelik gemengde sukses ten opsigte van diepgaande verandering.  Vrees sit hoogstens die proses aan die gang waaruit ‘n positiewe uitkoms kan kom.

Die moontlikheid tot persoonlike transformasie is veel groter wanneer die liefde die vrees verdryf.  Wanneer ‘n mens in jou kern rustig is en vrede ervaar, is jy werklik vatbaar vir diepgaande verandering.  Dit is nou weer iets anders as om vanuit ‘n gemaksone na verandering te kyk.  Trouens, gemaklikheid met myself óf ‘n situasie, is juis ‘n blok aan die been van enige beweging na diepgaande persoonlike verandering.

Ons het dikwels ‘n trekkrag nodig om ons uit ons sluimer wakker te maak en die energie te gee wat nodig is vir die proses van persoonlike transformasie.  Hoewel dit in jouself (stootkrag) en in die konteks kan lê, is dit veral jou roeping wat só ‘n trekkrag kan wees.  Meer nog, is dit ons verhouding met Die Roeper wat ons ‘n nuwe mens kan maak.

In die geheel gesien, sal dit moeilik wees om te transformeer as ek nie in kontak met myself (my menswees) en ander (konteks) en God is en leef nie.

‘n Aspek wat ons hiermee sal help, is om werklik bewustelik te leef.  Ons moet ons daarop instel om ons bewussyn te verhoog sodat ons in die oomblik kan weet en ervaar wat ons voel of dink en doen.  Dat ons tot dieper insig in onsself kan kom, en tot groter begrip vir ons doen en late in al ons verhoudinge.  Só sal ons nie net die innerlike oortuiging hê dat ons wil transformeer nie, maar ook die drang om dit te doen.

Bewustelik leef met jou eie emosies, behoeftes, gedagtes, gedrag

In die eerste plek vra dit emosionele volwassenheid van ‘n mens.  Dit impliseer dat jy jou emosies kan herken en ook erken, om dit dan op ‘n manier uit te leef sonder om ander te na te kom.  Jy moet kan onderskei (jou eie gedagtes lees) wat die emosionele behoefte is wat onderliggend aan die reaksies en gedrag is wat jy openbaar.

Jy moet leerbaar wees en uit jou gedrag en terugvoer wat jy ontvang, nuwe moontlikhede ontdek om te kan verander.  Dit beteken jy moet waak teen die neiging om te verdedig deur te rassionaliseer en te projekteer.  Net so hou jy ook nie jou oog op die klippe in die pad nie, maar eerder op die verrassings van die lewe.  Wie verbeeldingryk leef, is klaar besig om die deur vir groeimoontlikhede oop te maak.

Jy moet jou eie broosheid kan omhels en jou kragte met stille dankbaarheid uitleef. 

Almal van ons leef met ‘n ego en ‘n skadukant wat ons outentieke self kan beïnvloed.  So veel soos ‘n ego my kan help met my kommunikasie en funksionering as ‘n mens tussen en vir ander mense, net so veel kan dit verhoudinge afbreek as dit te groot vir my outentieke self word.  So byvoorbeeld sal iemand met ‘n grootheidswaan moeilik oop wees vir terugvoer of positiewe kritiek.  So kan ook die skadukant my terughou in enige transformasie-proses as ek nie bereid is om dit in die oë te kyk en te hanteer nie.  Die persoon wat byvoorbeeld in hom-/haarself rondloop met ‘n diepgewortelde skaamte oor een of ander gedrag van lank gelede, sal dikwels onbillik kritiek hê op iemand wat dalk in dieselfde bootjie beland het en nie eens weet dat dit daardie “iets” is wat hom/haar blokkeer nie.

Daar is wel hoop vir iemand wat die wil het om te verander.  In ‘n artikel stel die skrywer ‘n proses voor wat sy die wiel van verandering noem.  Dié proses begin by ‘n verlies wat die persoon mag ervaar en eindig by integrasie.  In elke stadium identifiseer sy emosies, denke en dade.  Die kritieke punt in die proses is tussen stadium 3 en 4.  Wanneer die ongemak só groot is dat die persoon so angstig raak dat hy/sy nie helder kan dink nie en onproduktief word, is die kanse goed om terug te val in twyfel en enige verandering teenstaan.   Aan die ander kant, wanneer die persoon by die ongemak kan verby gaan, kom daar soveel energie los dat die persoon uiteindelik oop is om te transformeer.

Wiel van verandering

Stadium               Emosie                 Denke                        Dade

Verlies                 Vrees                    Versigtig                   Magteloos

Twyfel                  Gegriefd               Skepties                    Weerstand

Ongemak              Angs                    Verward                    Onproduktief

Ontdek                  Afwagting            Kreatief                     Energie

Begrip                   Selfvertroue        Pragmaties                 Produktief

Integrasie               Tevrede              Gefokus                     Vrygewig

Dit is nie altyd so maklik om hierdie prosesse en dinamika in jou eie lewe raak te sien nie, en daarom het ons nodig om ‘n gespreksgenoot in ons lewens in te nooi om die pad saam met ons te loop.  Noem dit ‘n mentor of ‘n afrigter, maar iemand wat jy vertrou en wat vaardig genoeg is om te weet hoé om na jou te luister en die regte vrae te vra sodat jy die vreugde van persoonlike groei en verandering kan beleef. 

Tyd vir eie refleksie en joernaal hou en om self ‘n mentor vir iemand anders te wees, sal ook persoonlike transformasie stimuleer.

Bewustelik leef in jou konteks

Iemand wat deel voel van die geheel.  Wat lotsgebonde voel met die gemeenskap waarin hy/sy leef, het ‘n goeie kans om op grond van sy/haar betrokkenheid by ander mense en die vraagstukke van daardie mense, eie horisonne te verbreed en grense oor te steek.

Wie kies om ‘n geslote ingekeerde lewenstyl te handhaaf, sal gou tot die ontdekking kom dat jy vereensaam en emosioneel afgestop en verstok raak in jou denke en optrede.  Selfbejammering is jou voorland terwyl die kindertjies op die plein speel.

Daar is veel te leer by die Ubuntu-beginsel en die Zoeloe-groet wat, as dit in Afrikaans vertaal word, sê: “ons sien jou”. 

Om jou bewussyn ten opsigte van die konteks te verhoog, beteken dus dat jy dit nie net as iets daar buite sien en beleef nie, maar die wêreld en sy mense na binne neem om saam-saam die hoogtes en dieptes te beleef.  Om nie maar net te bly soos jy is waar jy is nie, maar om bereid te wees om te waag.

Dit is nie net belangrik om te weet waar ek vandaan kom nie, maar ook waarheen ek op pad is.  Wat verstaan ek as my roeping en hoe leef ek dit uit in ‘n gemeenskap en binne ‘n bepaalde konteks?  Wat hoor ek in die stemme rondom my?  Hoe resoneer dit met die stem in my? En, hoe gefokus is ek op Die Roepstem?  Vrae soos hierdie sal my sekerlik help om nie in eie wysheid toegespin te word nie.

Bewustelik “in die teenwoordigheid leef” met God

Van al bogenoemde sal min tereg kom as ek nie die Ackermann-beginsel toepas nie: “stop – look – listen”.

Sekerlik een van die grootste uitdagings vir persoonlike transformasie is persoonlike tyd.  Tyd om stil  te kan staan.  Stil te kan wees om te kan reflekteer.  Maar, veral stiltetyd in die teenwoordigheid van God terwyl ek in myself inkyk, en rondom my kyk om te sien wáár en hóé God is; wáár ek is, en hóé ek daar kom.

Om geloofonderskeidend te leef, is om te leef vanuit die beginsel dat God altyd aan die werk is.  Soms ervaar ons dit as bevestigend en soms ervaar ons dit as ontwrigtend, maar altyddeur is Hy met ons op weg.  As dit my verstaan van die verhouding tussen my en God is, dan is persoonlike transformasie ‘n daaglikse gegewe.

Nuwe lewe word ontdek as jy daar is waar God wil werk.  Daar ontdek jy wie God is en waarvoor Hy jou geskep het – en dan verander alles, ook jy.