{ARGIEF}

Met Communitas se onlangse ringstoer het ons verskeie ringe en gemeentes besoek  om te luister na die beweging van die Gees in die kerk. Ons wou die spore van die Here se werk in gemeentes probeer raaksien. Sonder om self  te praat en raad te gee,  het ons net gaan luister!  Geluister na gemeentes se stories, hul frustrasies en behoeftes.  Ons het op ongelooflike stories afgekom waar die Here gemeentes aan die beweeg gebring het.  Ons was elke keer verstom oor hoe die Here op ander maniere werk as wat ons normaal verwag het dat dit sou gebeur.  Met elke besoek was daar verskeie verteenwoordigers van ringe en gemeentelede. Een van die vrae wat ons gevra het was : Wat het die afgelope 3 jaar positief in jou gemeente gebeur?

Ons was natuurlik verstom oor al die stories, maar daar is een storie wat my ongesiens ‘n knop in die keel gegee het en met dankbaarheid gevul het. Miskien was dit ook die aangrypende opregtheid en eenvoud waarmee die storie vertel is. ‘n  Vrou  in my groep het vertel hoe die Here hulle gemeente seën en het verskeie stories vertel om dit te bevestig. Op my vraag wat die rede vir die geestelike oplewing in hul gemeente sou wees, het sy geantwoord:

” Ons het in ons gemeente ‘n drastiese besluit geneem om vir die predikante te bid en het vir lank weekliks bymekaar gekom met die een doel : Ons bid net vir ons predikante . Daar het alles begin…….”

Mag die Heilige Gees bidders vir jou gemeente stuur!