{ARGIEF}

‘n Dag later sit ek in die Digimission konferensie hier in Londen. Verskeie sprekers praat oor die realiteit van Facebook, Twitter, Ustream asook die geleenthede en gevare. Die teoloog, skrywer en blogger, Maggi Dawn (http://maggidawn.com/), vra die vraag: “How do you lose an argument online? – You start one!” Ek wil dit vertaal met “Hoe verloor jy ‘n etiese gesprek in Rapport? – Jy begin een!”

‘n Tweede beginsel vir kommunikasie was Shane Hipps wat verwys het na Herbert Marshall McLuhan se uitdrukking: “The medium is the message”. McLuhan se opmerking is veral belangrik met betrekking tot die elektroniese media. Ons moet die aard van die media baie goed ken voordat ons dit gebruik om ‘n bepaalde boodskap oor te dra. Jy sê nie ‘n meisie met ‘n SMS af nie. Die medium wat gebruik word, vorm die inhoud van die boodskap.

‘n Derde beginsel kom ook van Hipps as hy praat oor die verskil in kommunikasie tussen die mondelingse, literêre (nadat skrif ontwikkel het) en die elektroniese era. Die mondelingse era word gekenmerk deur die intimiteit van kommunikasie. Alle inligting word persoonlik oorgedra binne ‘n bestaande verhouding, binne ‘n gemeenskap en spesifieke konteks. Tydens die literêre era individualiseer die mens. Tekste word gegenereer in isolasie en die skrywer is verwyder van die leser se konteks. Daar is ook nie ‘n verhouding met die leser nie. Die leser ontvang die teks in isolasie en lees dit buite die konteks van die skrywer. Daar bestaan ook geen terugvoersirkel tussen die sender en die ontvanger nie.

Volgens Hipps is die elektroniese era ‘n samevloeiing van hierdie twee eras wat lei tot ‘n paradoks in kommunikasie. Die kommunikasie is:

  • Sowel intiem (ons weet alles van almal) maar ook anoniem (ons weet nie wie die sender of die ontvanger is nie).
  • Empatie op ‘n afstand. Ons sien die lyke in Irak, maar ons bly steeds op ‘n afstand.

Met selfone, Facebook, Skype, ens. is dit moontlik om onmiddellik terugvoer te kry op die boodskap wat ons stuur. Kommunikasie is onmiddellik, persoonlik en intiem , maar die NG Kerk se mening ding mee met die van Oprah en Rob Bell. Kinders van die tyd word ook meer beïnvloed deur iemand met wie hulle ‘n verhouding het as deur ‘n ekspert op ‘n gebied. Vriende en ‘n plaaslike leraar het ‘n baie groter invloed op ‘n paartjie wat saamwoon as wat ‘n beleidstuk van ‘n spesifieke denominasie sal hê.

Helaas gaan ons nie lewens verander deur verslae wat in isolasie in ‘n helder verligte studeerkamer geskryf is nie, maar daar waar ons saam met ‘n medegelowige onder leiding van die Gees met God se ewige Woord besig is. Waar ons saam kan huil oor die gevolge van die sonde in ons almal se lewens.

Skip moes nie sy meisie met ‘n SMS afgesê het nie, maar so kan die kerk ook nie saamwoon goedkeur/afkeur deur Rapport nie.