Ons gesin sit toe Sondag-aand in die Waterfront om die gees ‘n laste keer te beleef- getooi in ons Oranje serpe en truie. Ons voel vir Nederland. Op ‘n ander plek in die restaurant sit ook ‘n familie- ander kleur ander geloof as ons, maar hulle is ook Oranje! Die seuntjie kom loer eers deur die venster en maak spelletjies met ons. Hy kom later in en kort voor lank is hy en Anika besig met ‘n spelletjie op die tafel. Na ‘n rukkie merk ek op sy sussie is nou ook by. Die Pa kom vra so nou en dan of dit OK is, maar te bly hy kan onverdeelde aandag aan die sokker gee. Skuins agter ons sit ‘n Oranje omie vir wie die sokker baie belangrik is, rustyd kom hy verby en merk terloops op: Dit is wat die WB aan ons almal gedoen het! en beduie met sy kop na Anika en die twee kinders se spelletjie aan tafel. Toe die kinders moeg raak, klim hulle op Anika se skoot en rus ‘n bietjie.
Vanoggend is die twee kinders skool toe skat ek. ‘n Hele generasie kinders is iets aan gedoen hierdie afgelope maand. Hulle het beslis meer hoop gekry vir die land. Shabalala se doel het dit alles ingelui en daarna is hulle saam met ons meegesleur op ‘n onverwagse beweging van goodwil en vreugde van ‘n land wat vir ‘n oomblik net dit kon geniet om normaal by mekaar te wees en trots te wees om ‘n Suid-Afrikaner te wees. Waar kinders in restaurante kan speel by vreemdelinge sonder om bang te wees. Hulle sou opgemerk het mense is vriendeliker en verdraagsamer, dat ons land veiliger wsa. Dalk het hulle gespeel saam met ‘n swart oom, of ‘n wit tannie by ‘n restaurant, of net gesien hoe hulle pa ‘n vlaggie opsit.
So nou stuur ons die kinders weer terug skool toe vanoggend, met opwinding en hoop. Hhulle gaan terug na dieselfde skole, onderwysers, infrastruktuur of gebrek daaraan.
Ek wonder of ons hulle hoop gaan steel. Gister hoor ek mense gaan FIFA hof toe neem oor plekname, vandag wil prof Jansen weet wie gaan aan die pen ry oor UGO se mislukking. Dit is seker goeie sake maar vir my voel dit totaal onvanpas. So bietjie -bietjie gaan hulle ons hoop steel en ons weer jaag in die kampe van die verlede, of nie? Ek kan my nie indink dat ek my energie daaraan wil spandeer nie. Ek dink nie die vraag is regtig of die regte plekname gebruik is, en wie aan die pen moet ry, oor die Eskom en onderwys-foute van die verlede nie, maar wie ons kinders se hoop gaan steel?