{ARGIEF}

Getuienis van sommige groeplede:
Dit is vir my een groot lekkerte om elke Woendag saam met vriendinne gedagtes uit te ruil en te voel hoe die Heilige Gees met elkeen van ons werk. Die geloofsreis is anders as gewone bybelstudie en gee ons die geleentheid om God, sy Woord en mekaar beter te leer ken.
Ek lees my Bybel vandat ek kan onthou, maar nou met die nuwe metode van Wandel  in die  Woord en die voorlesing uit verskeie Bybels, gaan daar vir my ‘n heel ander verstaan van die Bybel se boodskap oop. Ons byeenkomste het vir my ‘n ontdekkingsreis saam met God geword wat nuwe kennis en begrip vir sy  betrokkenheid en liefde vir sy kinders gebring het. Ek weet dat hierdie reis met God my voorberei vir iets groter as myself. Elke bespreking en bestudering van Maria en Elisabet se lewe na aanleiding van die Vroue met Vlerke- geloofsreis is vir my ‘n wonderlike belewenis. Ek kon my inleef en die pad saam met hulle loop. Dìt het ook vir my heling en vreugde gebring – saam met hierdie vroue in ons groep het ek geleer om die wêreld in die oë te kyk en my volle menswees te omarm.
Hierdie Wandel in die Woord het my weereens laat besef dat niks vir God onmoontlik is nie. Dit gaan goed met jou in die ruimte waar God jou geplaas het en jy jouself kan wees. As vrou is jy in so ‘n gunstige posisie om deur die Here se genade invloed uit te oefen op jou hele uitgebreide familie. Jy is uniek geskep deur God en Hy gee jou vlerke om hom te gehoorsaam en te dien.
Hierdie Geloofsreis het my die eerste keer laat verstaan hoe om te wandel in God se Woord, hoe om my liefde vir God en my medemens te beoefen en sy liefde uit te dra na die gemeenskap. Hy het my gesëen met die beste vriendinne om saam te groei in sy Woord, ons dra mekaar deur dik en dun en voel omarm deur God se liefde vir ons en ons families.