{ARGIEF}

Christina_Landman“Dominee, die gemeente is onder sement!”

Die ouderling aan die ander kant van die foon is baie ontsteld.  En tereg ook.  Drie van die gemeente se gesinne wat die hardste in Dullstroom-Emtotweni werk, het in ‘n ongeluk seergekry.  Hulle was oppad Lydenburg toe om te gaan bid by die huis van een van ons se ma’s wat oorlede is.  Niemand het hulle eie vervoer nie.  Almal is maar arm.  En toe huur hulle eers ‘n kombi en dié gaan staan toe halfpad.  Toe kry hulle ‘n bakkie om van Dullstroom af hulle te gaan oplaai.  En volgende ding jaag die bakkie daar in Lydenburg oor ‘n stopstraat.  Onder ‘n vragmotor in.  En nou sit die hart van die gemeente daar by die hospitaal en hulle kom onder sement.  “Hoeveel van ons het gips gekry, Paulus?” vra ek van hierdie kant af.  Dis swaar vir my om so ver weg van die gemeente te wees wanneer daar ‘n krisis is.  Want ek woon en werk in Pretoria, en daar is 250 km tussen my en my mense wat nou onder sement is.   “Dis Anna en Nonke en Rose en nog ‘n paar ander.  En die dokter haal die glas by my voorkop uit”, sê die ouderling.

Dis ‘n groot ramp.  Dis nie net die trauma, die pyn en die seerkry nie.  Die mense is skoonmakers en huishulpe.  Om af te wees van die werk vir ses weke met stywe, gegipste ledemate is ‘n resep om jou werk te verloor.

Nouja, as die gips nie na die kerk kan kom nie, moet die kerk na die gips toe gaan.  Sondag gaan besoek die gemeente die gips-brigade in hulle huisies.  En weet julle wat, selfs daar in gips sit die mense en gaan maar net aan met die werk van die Here.

En dit het my laat dink aan die jong meisie wat in 2 Konings 5 vir die melaatse Naäman raad deurstuur om na die profeet Elisa te gaan om gesond te word.  In ‘n sin was sy ook “onder sement”.  Die Aramese het ‘n strooptog op Israel uitgevoer en haar saam met hulle gevat as buit.  En nou werk sy as slavin vir Naäman se vrou.  Hy is ‘n baie belangrike man en die hoof van Aram se leer. 

Aram is waar Sirië vandag is.  En, soos Sirië en Israel vandag nog in mekaar se hare is, so was dit daardie dae.

En hier sit die weggevoerde jong meisie “in sement” in Naäman se huis.  En dis waar sy hoor dat Naäman melaats is.  Hy was die een wat haar gevange laat neem het.  Hy is die een wat haar ver van haar ma se huis in Israel weggeneem en van haar ‘n slavin gemaak het.  En tog stuur sy hom na die beste raad wat sy ken:  Gaan na die profeet Elisa in Israel.  Hy sal jou genees.  Sy stuur die raad d m v sy vrou, want sy mag nie self met hom praat nie.

‘n Klein, onbelangrike mensie.  Maar een wat ‘n saadjie van hoop plant. ‘n Klein saadjie, maar een wat groot dinge laat gebeur.  Naäman, die grote generaal, doen dinge op ‘n grootse manier.  Hy gaan na sy koning om ‘n brief aan die koning van Israel te skryf om vir sy genesing te reël.  Die koning van Israel skrik hom byna dood.  Hoe kan hy mense laat genees en dit van melaatsheid!  Dis tog net God wat kan genees.  Maar die profeet Elisa kom hiervan te hore en sê vir die koning om Naäman na hom te stuur.  Naäman kom weer met ‘n groot vertoon van perde, wa en geskenke en ‘n hele geselskap by Elisa aan.

Maar wat doen Elisa?  Hy doen iets kleins.  Hy kom nie eers uit nie.  Hy laat weet net vir Naäman dat hy homself sewe keer in die Jordaan moet gaan was.  Die grote Naäman kry amper ‘n toeval.  Glad nie goed vir sy gesondheid nie.  Hoe kan hy wat so ‘n belangrike man is, so ‘n klein werkie kry?  Om homself te gaan bad!!! Verbeel jou, in die Jordaan van alle plekke!!! Wat hy dink maar ‘n klein riviertjie is, en sy land het tog groter riviere. Uiteindelik oortuig sy manne hom om dit tog wel te gaan doen en ‘n groot ding gebeur.  Hy word genees en sy vel word weer soos dié van ‘n jong man.

‘n Klein meisie saai ‘n klein saadjie van hoop.  Naäman kry ‘n klein werkie om te gaan doen in wat hy dink ‘n klein riviertjie is.  En dan gebeur daar groot dinge.  Nie net word Naäman van ‘n siekte gesond wat daardie tyd ongeneeslik was nie.  ‘n Brug tussen twee nasies wat mekaar haat en probeer uitroei, word gebou.  Die Here se werk gaan aan.

En dit laat ‘n mens dink.  Niemand van ons is so klein, so onbenullig, of so “onder sement” dat ons nie kan voortgaan met die Here se werk nie.  So, kom ons maak dit ons uitroep vir hierdie Paastyd:  Ek gaan vlieg, al is ek onder sement!