{ARGIEF}

“Wat kan ons oor Missionêre Gemeente-wees uit die boek Handelinge leer?”

Gesamentlike projek van Fakulteit Teologie, Stellenbosch en Communitas

2009-2011

Agtergrond

Die doel van hierdie projek is om twee groot gesprekke bymekaar te bring:

  • Die een groot gesprek is oor Missionêre Kerk-wees, met die insette van verskillende kenners oor die saak. Daar is tans heelwat predikante en gemeentes in ons land wat ernstig dink, bid (en beplan) oor missionêre kerkwees en daar word heelwat konferensies gehou en baie boeke geskryf oor die onderwerp. Hoe ons weer missionêre gemeentes kan word, het wêreldwyd ʼn vraag geword wat in gemeentes gevra word. Terwyl ʼn mens baie dankbaar is vir hierdie ontwikkeling, is ons by tye besorg dat van die groepe te min en te selektief kennis neem van wat die Bybel ons hieroor leer.
  • Vorming van en deelname aan studiegroepe. Aan die anderkant is daar ʼn groep mense in die akademie wat wonderlike, in-diepte werk oor die Bybel doen, maar wat die lees- en dinkwerk nie altyd naby genoeg aan die kerk en die kerklike praktyk doen nie. Die beplanning van studiegroepe oor sewe temas in Handelinge wil die gesprek tussen akademie en kerklike praktisyns fasiliteer. Daarom sal deelname aan die studiegroepe ook VBO-punte verdien.

Die oortuiging is dat die kerk beide hierdie groepe baie nodig het en wil met die projek die twee groepe op ʼn dieper vlak as wat tans gebeur in gesprek met mekaar probeer bring.

Daar sal op ‘n paar vlakke gelyktydig gewerk word:
  • ʼn drie-dag-konferensie oor die tema op 18-20 Mei 2009. Twee internasionaal-erkende Nuwe Testamentici nl. Beverly Gaventa (Princeton TS) en Scot McKnight (Karl A. Olsson Professor in Religious Studies, North Park University in Chicago) is die hoofsprekers by die konferensie. Ons het ook ook plaaslike Nuwe Testamentici, missioloë en predikante wat deel is die missionêre kerk beweging genooi om insette te maak. Tweede en moontlike derde opvolgkonferensies word voorsien.
  • Ons is besig om studiegroepe bymekaar te kry wat sewe belangrike temas in Handelinge gaan naspoor en vir ons publikasies of planne en prosesse gaan voorberei oor wat ons vir vandag oor die sake uit die boek Handelinge kan leer. Die temas wat reeds geïdentifiseer is, is die volgende:
    • “Gemeente” in Handelinge (cf. gemeenteprentjies; redaksionele opmerkings in Handelinge; toesprake; events; draaimomente; leiding van HG; organisering; gesonde gemeentes; ens.)
    • Kerkeenheid en –verskeidenheid (inklusiwiteit en multikulturaliteit; diversiteit; ens.)
    • Missionele program en strategie (uitstuur; Paulus se werkwyse; plan en intensie; Handelinge as “founding document” vir die missie; “challenge and change”; ens)
    • Leierskap (apostolaat; dissipelskap; ens.)
    • Bekering en redding (identiteit; bekering; transformasie; doop; etiek; ens.)
    • “Empire” en ekonomiese geregtigheid (kontekstualisering; sosiale konvensies; verhouding met breë kultuur; geloof in post-/kontra-kulturele opset; ens.)
    • Handelinge van die lewende God (Missio Dei; evangelie)

Predikante en akademici wat graag deel van die studie wil wees is welkom om in te skakel by van die studiegroepe. Die groepe sal by die konferensie in Mei kans kry om hul planne bekend te stel en sal waarskynlik rondom hul tema kleiner konferensies hou.

Daar word reeds gewerk aan ten minste twee projekte waarby Lidmate en gemeentes betrek gaan word. ʼn Paar mense het reeds begin werk aan `n program hoe gemeentes in `n jaar se tyd deur Handelinge kan lees. Die gedagte is dat die prediking en kleingroepe ingeskakel word by die proses. Daar word ook gewerk aan ʼn 40 dae program wat in die gemeente gebruik sal kan word. Die inligting kan ook met groot vrug vir die Pinkster boodskappe gebruik word.

Enigeen is welkom om op een of meer van die volgende maniere betrokke te raak:
  • Hierdie is ‘n uitnodiging vir insette by die konferensie, asook voorstelle vir temas wat by die konferensie aandag kan ontvang. Dit is so gestruktureer dat die “plenary sessions” in die oggende plaasvind, met ruim geleentheid om in die middae aan parallelle sessies oor die verskillende studietema’s deel te neem.
  • Hierdie is ook ʼn hartlike uitnodiging om die konferensie op 18-20 Mei in Stellenbosch by te woon.
  • Ons nooi jou ook uit om by een van die studiegroepe van jou keuse in te skakel. Dit is ‘n kans om aan gesprekke deel te neem en bydraes te maak.
Navrae oor die projek kan gedoen word by:

Coenie Burger

021-808 3624; cwbu@sun.ac.za

Jeremy Punt

021-808 2615; jpunt@sun.ac.za

Eddie Orsmond

021-874 1486; simon1@paarlmail.co.za

Die volledige program en inligting oor die voorleggings sal teen 8 April gestuur word.