{ARGIEF}

Fakulteit Teologie

Die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch, in samewerking met die Kerk in Swede, bied hiermee ‘n besonderse geleentheid aan studente om ‘n Magister in die Teologie te voltooi met die fokus op gender en gesondheid. Die Magister kan in enige van die huidige teologiese dissiplines geregistreer word (Ou Testament, Nuwe Testament, Ekklesiologie, Sistematiese Teologie, Missiologie en Praktiese Teologie).  Tien studente kom in aanmerking vir befondsing binne die Spesiale Fokus Magister Program vir die studietydperk  Januarie 2014 tot Maart 2015.
Die Magister in die Teologie met die fokus op gender en gesondheid sal aan studente die geleentheid bied om navorsing te doen op ‘n verskeidenheid van terreine wat saamhang met die Millenium doelstellings 4 en 5; die bekamping van moeder en kinder sterftes. Daar sal in besonder gefokus word op die neerslag wat hierdie aangeleenthede in geloofsgemeenskappe vind en die impak daarvan op Teologie en godsdiens.   Verwante temas sluit onder andere in: fisiese en geestesgesondheid, HIV en VIGS, seksualiteit en seksuele oriëntasie, reproduktiewe gesondheid, geslagsgebaseerde geweld en volhoubare lewensbestaan.
Die Spesiale Fokus Magister Program bestaan uit ‘n basis module (gender, gesondheid en Teologie), twee mondelinge eksamens (in die gekose hoof dissipline) en ‘n tesis. Daar sal van studente verwag word om ‘n drie weke lange kontaksessie by te woon by die Fakulteit Teologie, Stellenbosch Universiteit,  aan die begin van 2014 (basis module en navorsings metodologie werkswinkel), twee werkswinkels met die oog op die ontwikkeling van die navorsingsvoorstel en om daarna gereelde kontak te behou met studieleiers en toegang tot navorsingsbronne.

Ten einde in aanmerking te kom vir graduering tydens die Maart gradeplegtigheid in 2015 sal daar van die student verwag word om die mondelinge te voltooi teen Julie 2014 en die tesis in te handig teen 30 November 2014.

Tien beurse ter waarde van R60  000 per student is beskikbaar. Vyf van die beurse is geoormerk vir studente wat vir die Spesiale Fokus Magister program in die dissiplines Ou en Nuwe Testament inskryf.

Die amptelike aansoek moet aanlyn voltooi word by www.sun.ac.za
Heg asseblief ‘n volledige akademiese rekord en Graad sertifikate aan by die aansoek.
Ten einde oorweeg te word vir die program moet

  • ‘n volledige CV,
  • volledige akademiese rekords en
  • ‘n brief ter motivering

ingedien word by Dr. Charlene van der Walt by charlenevanderwalt@sun.ac.za
Sluitingsdatum: 8 Oktober 2013.

Rig gerus enige navrae aan Dr. Van der Walt per e-pos of by 083 693 8686.