{ARGIEF}

met die Fokustekste van die Leesrooster vir Lidmate as basis

Tweede Week na Epifanie
14 Januarie
1Kor.6:12-20
Met my alles behoort ek aan die Here!
Ysbreker
In (op) watter voertuig het jy nog die lekkerste gery? Hoekom?
 
Lof en Aanbidding
Ons kom tot rus by die Here ons God. Kom ons konsentreer daarop om by hierdie byeenkoms die Here te loof en aanbid met ons harte, stemme en ons liggame. Na die groep saamgesing het, raak hulle stil. Ons raak bewus van sy teenwoordigheid en hoe Hy in liefde na ons kyk. Hy het jou hele wese lief. Beweeg saam met Hom deur jou week en dink na oor oomblikke dat Hy jou liggaam gebruik het tot sy verheerliking (dalk met ‘n glimlag, ‘n simpatieke handdruk, vertroostende stem, voete wat na iemand wat jou nodig gehad het, loop). Dank Die Gees dat Hy deur jou teenwoordig word. Iemand lees dan Psalm 139:1-6, 13-18, terwyl die res die gebed in hulle harte saambid.
 
 
Woord
1Kor.6:12-20

  1. Lees eers die gedeelte in stilte en let op woorde en sinsnedes wat vir jou uitstaan. Herkou die woorde, fluister hulle en sien hoe hulle deel word van jou lewe.
  2. Waarvoor moet ons versigtig wees as ons woorde soos “alles is my geoorloof” of “ek is my eie baas” gebruik? (Verse 12-14)
  3. Waarvoor is ons liggame nie bedoel nie? Hoekom? (Vers 16)
  4. Maar die boodskap van die hele wêreld is anders as wat hierdie gedeelte sê. Kyk maar net na selfs “gesonde” verhale op TV. Is dit nie maar net ‘n outydse boodskap van Paulus nie?
  5. Wat moet ons met ons liggame doen? Hoekom? (vers 14, 15a, 17, 19, 20)
  6. Kom nou tot rus en lees weer die gedeelte deur. Sien hoe jou lewe verander sodat jy volkome een met die Here, in Hom, omsluit van alle kante, nuut lewe. Praat in stilte met Hom daaroor.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Vertel eers vir mekaar watter mooi dinge julle in mekaar waardeer. Deel dan julle behoeftes met mekaar en bid dan vir mekaar.
 
Uitsending
Beplan nou saam julle uitreiking na mense in julle omgewing in die volgende week.
 
Derde Week na Epifanie
21 Januarie
1Kor.7:29-31
Met my oog op die wolke
Kom ons raak aan die gesels
Watter drome het jy vir jouself en jou gesin vir die toekoms?
 
Lof en Aanbidding
Raak nou eers weer stil. Fokus op die Here in julle midde. Begin dan om Hom met julle alles te loof en aanbid. Na die liedere raak die groep stil en dink aan die Here in hulle midde. Hy is hier vir jou. Deel jou drome vir die dag van môre met Hom. Iemand lees Psalm 62:6-13 terwyl die res dit in hulle harte saambid.
 
Woord
1Kor.7:29-31(Lees dit ook in Die Boodskap)

  1. Lees die paar verse biddend deur. Sien die woorde raak wat vir jou uitstaan. Hoor die stem van die Here wat met jou praat en sien reeds hoe jou lewe verander word deur sy lig wat daarin skyn deur die gedeelte.
  2. Wat moet nie ons hele lewe oorheers nie? Hoekom nie?
  3. Waarop moet ons as kinders van God dan fokus? (29a, 31b)
  4. Hoe kan ons mekaar help om nie so vas te groei aan hierdie wêreld dat ons nie meer met ons oog op Jesus se koms lewe nie?
  5. Raak nou weer stil by die Here. Praat met Hom oor die dinge wat Hy by hierdie byeenkoms onder jou aandag gebring het en die verandering wat Hy in jou lewe kom maak het.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Neem mekaar se hande. Deel dan julle behoeftes met mekaar en bid dan vir mekaar.
 
Uitsending
Hoe kan ons as groep hierdie dringende boodskap by ons mense in ons omgewing uitkry, sonder om te klink soos “doemprofete”?
 
Vierde Week na Epifanie
28 Januarie
1Kor.8:1-13
Hoe jy voel is vir my belangrik!
Ysbreker
Het jy ooit as kind gehoor jy mag sekere goed nie doen nie, want jy moet ‘n voorbeeld stel vir jou jonger boetie of sussie. Hoe het dit jou laat voel?
 
Lof en Aanbidding
Maak vanaand ruimte om so ‘n ekstra lofliedjie wat die kinders graag sing, saam met hulle te sing en aanbid dan die Here saam. Kom dan tot rus en dink aan die Here jou God wat met liefde na jou kyk. Dink na oor jou pad met Hom die afgelope week. Dalk het Hy deur jou iets gedoen in die lewe van iemand anders wat hom/haar naby aan Hom gebring het. Dank Hom daarvoor. Iemand lees dan Psalm 111:1-3 terwyl die res dit in hulle harte bid.
 
Woord
1Kor.8:1-13

  1. Lees die gedeelte met jou hart en sien hoe jou lewe verander wanneer die woorde deel word van jou lewe. Fluister die woorde wat vir jou uitstaan en laat hulle afsak tot in jou hart.
  2. Kan ons regtig sê: “Ek maak soos ek wil en voel vere vir wat ander dink”?
  3. Waarom draai ons as gelowiges se lewe? (vers 3). Wat beteken dit?
  4. Wanneer ons dink: “Mag ek dit … of dat … voor mense wat swak is in die geloof, of voor kinders”, wat leer vers 7 en 9 vir ons? Sou jy graag wou hê iemand moet sondig nadat hy jou as voorbeeld gebruik het?
  5. Wat sê julle van verse 13 en 14? As julle nou ‘n standpunt moet formuleer, hoe sou dit klink?
  6. Raak nou stil. Lees weer die gedeelte. Herhaal weer die woorde wat jou getref het. Noem hulle vir die Here.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel julle bekommernisse met mekaar en bid vir mekaar.
 
Uitsending
Dalk ken die groep iemand wat tot ‘n val gekom het a.g.v. die swak voorbeeld van mede-broers of –susters. Hoe gaan die groep die saak regstel?
 
Vyfde Week na Epifanie
4 Februarie
1Kor.9:16-23
My medemens se redding is my opoffering werd!
Ysbreker
Watter een persoon wat jy goed ken, sou jy sê, verstaan jou? Hoekom sê jy so?
 
Lof en Aanbidding
Geniet nou weer die Here se teenwoordigheid. Sing vir Hom en geniet sy aanraking. Raak nou in stilte bewus van die Here jou God wat in liefde, nie-veroordelend, teenwoordig is by jou. Dink aan iets wat Hy in hierdie dag vir jou gegee het, waarvoor jy dankie wil sê. Iemand lees dan Psalm 147:1-11 terwyl die res biddend luister.
 
Woord
1Kor.9:16-23 (Lees dit ook in Die Boodskap)

  1. Lees die gedeelte biddend in stilte deur. Let op woorde en sinsnedes wat die Here op jou hart druk. Herhaal die woorde saggies tot dit deel word van jou lewe.
  2. Hoekom verkondig Paulus die evangelie? (Verse 16-17) Hoekom vertel ons vir mense van die Here?
  3. Hoe doen hy dit? (Verse 19, 20a, 22). Wat leer ons hieruit?
  4. Doen Paulus dit ter wille van homself? (Vers 23).
  5. Raak nou weer stil en lees weer die gedeelte deur. Sien hoe jy verander wanneer jy die woorde in jou hart bêre.

 
Bedien mekaar
Bid vanaand eers saam vir julle dorp of omgewing. Vra die Here om ook vir julle deernis te gee vir mense wat “anders is” as julle, sodat julle elkeen met die liefde en deernis van die Here self kan benader. Deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
 
Uitsending
Watter mense in julle omgewing het maar nog altyd min aandag van die Kerk gekry? Wat gaan julle daaraan doen. Beplan saam.
 
Sondag van Verheerliking en die Week daarna
11 Februarie
Markus 9:2-9
Dit is my geliefde Seun (Bergtop-ervaring)
Ysbreker
Oor watter groot oomblik in jou lewe kon jy nog nooit uitgepraat raak nie?
 
Lof en aanbidding
Fokus nou op die Here en sing liedere waarmee julle Hom verheerlik. Beleef die heerlikheid in julle eie harte terwyl julle dit doen. Daarna raak julle stil. In julle harte kan julle die volgende vir die Here sê: “Jesus, U is die geliefde…” (dink nou aan Jesus, aan Wie Hy vir jou is, hoeveel Hy beteken), “Jesus, ek is die geliefde…” (dink nou aan jouself in verhouding met Jesus, ontvang alles wat Hy vir jou wil gee, veral Homself), “Jesus, ons is die geliefdes…” (laat die mense saam met jou in die groep nou in jou hart inkom en dra hulle aan Hom op).
 
Woord
Mark.9:2-9

  1. Lees nou eers die gedeelte biddend met jou hart deur en beleef die heerlike oomblikke op die berg saam met Jesus. Gee genoeg tyd dat jy dit kan beleef. Dink aan oomblikke in jou lewe toe jy so ’n bergtop-ervaring gehad het.
  2. Wat gebeur hier voor Petrus, Jakobus en Johannes se oë? (Verse 2-4)
  3. Hoe reageer Petrus daarop? (Verse 5,6) Hoe sou jy reageer het?
  4. Die volgende gedeelte begin met die opskrif “Jesus se dood is naby”. Van hierdie oomblik af sou die vraag wie Jesus is, gereeld aan die orde kom. Sy identiteit sal deur mense bevraagteken word en selfs oor gespot word. Hoe word sy ware identiteit bevestig? (Verse 7-9)
  5. Raak nou weer stil by die Here. Lees weer die gedeelte deur. Dink daaroor na dat jy in Christus God se geliefde kind is. Hy het dit reeds by jou doop vir jou gesê. Hy sê dit keer op keer vir jou, by die Nagmaal, in elke erediens, elke keer as jy die Woord oopmaak om dit te lees en as jy stil word om te bid. Wie is jy (jou ware identiteit)?

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel eers met mekaar die dinge wat jy weet van Jesus wat julle in mekaar sien. Deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
 
Uitsending
Beplan saam hoe die groep hulle identiteit as geliefdes van God kan leef in hulle omgewing.