{ARGIEF}

 Met die fokustekste van die Leesrooster as basis

Derde week na Epifanie
26 Januarie
Matt.4:12-23
Die koninkryk van die hemel… naby
Ysbreker
Deel ’n Nuwejaarsvoorneme met mekaar.
Lof en aanbidding
Kom nou eers tot rus by die Here. Dink aan Hom. Bid in jou hart die woorde “Ek is hier om U te dien, Here” (herhaal dit tot jy volkome op Hom fokus en rustig is). Geniet Hom in die stilte. Sing dan liedere waarmee julle Hom loof en aanbid. Iemand kan Psalm 27:1, 4-9 voorlees en die ander bid dit saam in hulle harte.
Woord
Matt.4:12-23

  1. Lees nou weer die gedeelte met jou hart in stilte. Beweeg saam met Jesus wanneer jy dit lees. Sien hoe Hy Hom vestig by die see. Beleef hoe Hy jou daar ontmoet en met die sand van die see onder jou voete, in jou rigting kyk. Hoor sy stem: “Kom hier! Kom saam met My…” Dink na oor die beweging in jou hart wanneer jy besluit of jy saam met Hom gaan.
  2. In watter omstandighede begin Jesus sy bediening en hoe kom dit ooreen met ons omstandighede vandag? (Verse 12-16) Watter verskil kom maak Jesus aan die omstandighede?
  3. Hoe klink Jesus se preek vir jou? (Vers 17) Wat beteken die woordjie “bekeer”? (Vgl. Klaagl.5:21)
  4. Jesus preek nie net oor die Koninkryk van God nie (Matteus gebruik die woord “hemele” uit respek vir die Jode wat nie die naam “God” gebruik het nie), Hy “laat dit ook kom”. Hoe en wat dink julle van sy keuse van mense om Hom hierin by te staan? (Verse 18-23) Hoe gebeur dit dat mense alles net so los en agter Jesus aanloop?
  5. Raak nou weer stil by die Here. Dink aan Hom wat jou raaksien en intrek by sy Koninkryk en liefdesbeweging in jou (sy) wêreld. Hoe reageer jy op sy woorde: “Kom hier! Kom saam met My…?”

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel eers met mekaar die dinge wat julle in mekaar raaksien en waardeer. Dra dan mekaar se behoeftes en bediening in die Koninkryk aan die Here op.
Uitsending
Hoe gaan die groep hierdie jaar die mense in die Gemeente en gemeenskap bewus maak daarvan dat die Koninkryk van God hier is en dat ons doodgewoon by Hom kan inval?
Vierde week na Epifanie
2 Februarie
Matt.5:1-12
Werklik geseënd…
Ysbreker
Wanneer mense vir mekaar sê: “Ek is nou regtig geseënd”, wat bedoel hulle dan?
Lof en aanbidding
Raak nou eers weer stil by die Here. Sien hoe Hy in liefde na jou kyk. Dink na oor die afgelope week in jou lewe en vra Hom om Homself vir jou te wys in die dinge wat met jou gebeur het en jou emosies. Dink aan elke dag van die week. Wanneer het jy werklik “geseënd” gevoel, wanneer het dit gevoel daar is afstand tussen jou en Hom? Praat in stilte met Hom daaroor. Loof en aanbid Hom dan met liedere. Iemand kan Psalm 15 lees terwyl die res dit saambid.
Woord
Matt.5:1-12

  1. Lees eers weer die gedeelte in stilte met jou hart. Sien die groot klomp mense en hoe Jesus met sy dissipels teen die berg opgaan. Jy sit tussen die dissipels en hoor Jesus se stem. Hoor sy woorde en beleef hoe die woorde jou laat voel. Laat die woorde wat vir jou uitstaan, insink tot diep in jou hart.
  2. Wie is die geseënde mense waarvan Jesus praat? (Verse 1-12)
  3. Hoe verskil dit van ons beeld van geseënd-wees?
  4. Wat is die beloftes wat Jesus maak en wanneer sal die beloftes vervul word? (Verse 1-12)
  5. Raak nou stil by die Here. Hy noem jou geseënd. Dink na oor wat geseënd werklik vir jou beteken? Hoe verander hierdie gedeelte jou lewe? Praat in stilte met Hom daaroor en laat die woorde van Jesus afsak tot in jou hart.

Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Met die woorde van Jesus in jou gedagte, sê vir jou broer/suster watter van hierdie eienskappe van geseënde mense jy in hulle raaksien. Deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
Uitsending
Hoe gaan die groep as “geseëndes” die komende week lewe sodat ander deur julle geseën sal word?
Vyfde week na Epifanie
9 Februarie
Matt.5:13-20
Julle is sout, lig, julle leef die wet
Ysbreker
As jy jouself in een of twee woorde aan iemand moet beskryf, hoe sal dit klink?
Lof en aanbidding
Kom tot rus by die Here en geniet net vir ’n oomblik die rus en stilte in sy teenwoordigheid. Sien hoe Hy met liefde na jou kyk. Beleef God se hart van liefde vir jou in die oomblik. Dank Hom daarvoor. Sing vir Hom lof en aanbiddingsliedere. Iemand lees Psalm 112 voor en die ander laat dit biddend insak tot diep in hulle harte.
Woord
Matt.5:13-20

  1. Lees in stilte die gedeelte met jou hart asof jy net daar teen die berg saam met Jesus sit. Sien Hom, hoor sy stem en hoe sy gesigsuitdrukking pas by sy woorde. Sien ook hoe sy woorde jou van binne af nuut maak. jy is lig. Jy is sout. Jy gehoorsaam die wet. Praat in stilte met Hom oor jou ervaring saam met Hom.
  2. Wat bedoel Jesus met die twee beelde wat Hy gebruik wanneer Hy vir sy volgelinge sê wat hulle roeping in die koninkryk is? (Verse 13-16)
  3. Wie is die ware sout en die ware lig?
  4. Hoe verstaan ons Jesus se woorde in verse 17-20, sonder om wetties (soos die Fariseërs) te wees?
  5. Raak nou weer stil en dink na oor hoe jou lewe verander om sout te wees, sien hoe jy verander om lig te wees en hoe jou groep verander om die lig vir die stad te wees.

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Vertel eers vir mekaar van spesifieke oomblikke toe julle in mekaar die sout vir die aarde en lig vir die wêreld geproe en gesien het. Bid dan vir mekaar se bediening en behoeftes.
Uitsending
Wanneer julle aan julleself dink as sout en as lig in julle stad/dorp/omgewing, wat sien julle dan?
Sesde week na Epifanie
16 Februarie
Matt.5:21-37
Koninkrykswaardes is anders, word geleef
Ysbreker
Wat dink julle van al die veranderinge wat daagliks in ons wêreld plaasvind?
Lof en aanbidding
Kom tot rus in die Here se teenwoordigheid. Maak jou oë toe, sit gemaklik en fokus op jou asemhaling. Geniet die stilte, die rus, die Here se nabyheid. Terwyl jy op Hom fokus, deel enigiets wat in jou hart opkom met Hom. Sing vir die Here lof en aanbiddingsliedere. Iemand lees Psalm 119:1-8 terwyl die res biddend luister.
Woord
Matt.5:21-37

  1. Lees die gedeelte biddend deur en hoor Jesus se stem. Watter woorde in die gedeelte raak jou in besonder? Sien hoe die wêreld om jou verander deur Jesus se woorde.
  2. Jesus begin elke keer met die woorde “Julle het gehoor”, “Daar is gesê”. Waar het die dissipels gehoor en wie het dit gesê?
  3. Hy sê ook elke keer “Maar Ek sê vir julle”. Hoe verander Jesus elke keer die ou wette wat die dissipels al uit hulle koppe geken het? Hoekom doen Hy dit? (Vgl. Vers 17)
  4. “Dit is alles natuurlik onmoontlik. Dit beteken dis onmoontlik totdat ons na Jesus kyk.” (NT Wright) – hoe kry ons dit reg om die Koninkrykswaardes te leef?
  5. Raak nou weer stil by die Here. Wat het vir jou uitgestaan in Jesus se woorde? Hoe verander Hy jou deur hierdie gedeelte?

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Gesels eers met mekaar oor die vraag: Watter nuwe dinge het ons vanaand by Jesus geleer? Deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
Uitsending
Hoe kan ons as gestuurdes van die Here sy Koninkrykswaardes gaan leef sonder om in wettisisme te verval?
Sewende week na Epifanie
23 Februarie
Matt.5:38-48
Die bitter smaak in my mond
Is daar mense of gebeurtenisse in jou lewe waaraan jy dink, wat jou ’n bitter smaak in jou mond gee
Lof en aanbidding
Raak nou rustig en probeer ’n oomblik “afskakel” van die dag se gejaag en die program van môre wat reeds deur jou gedagtes maal. Dink aan die Here in Wie se geselskap jy nou is. Sien hoe Hy nie-veroordelend en met liefde na jou kyk. Geniet die stilte en rus by Hom. As jou gedagtes “dwaal”, bring hulle saggies terug na Hom. Sing vir Hom lof en aanbiddingsliedere en iemand kan Psalm 119:33-40 voorlees terwyl die res dit saam bid.
Woord
Matt.5:38-48

  1. Lees eers die gedeelte met jou hart, terwyl jy jouself in die middel van Jesus se vertellings posisioneer. Dink hoe jy voel wanneer jy Jesus se woorde hoor. Laat die woorde jou ongemaklik of gerus voel? Sien reeds die verandering in jou lewe na jy hierdie woorde van Jesus gehoor het.
  2. Weer begin Jesus met die woorde “Julle het gehoor”. Hoe stel Jesus die saak oor vergelding reg? (Verse 38-42) Wat dink julle hiervan?
  3. Is dit hoegenaamd moontlik om jou vyand lief te hê en vir hom te bid? (Verse 43-47) Wie is vir ons die voorbeeld?
  4. Is Jesus realisties as hy van sy dissipels verwag om volmaak te wees soos hulle Hemelse Vader volmaak is? (Vers 48)
  5. Raak stil voor die Here. Hoe het sy woorde jou verander. Sien reeds hoe jy vergewe, lief het, bid vir mense wat dit glad nie verdien nie. Vind jy dit nou nog moeilik? Praat met die Here daaroor.

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel met mekaar die mooi dinge wat julle in mekaar raaksien en bid dan vir mekaar se bediening en behoeftes.
Uitsending
Wat wil die Here hierdie week deur hierdie groep in sy wêreld gaan doen?
Hierdie materiaal is uitgewerk deur Adriaan Haasbroek, Lambertsbaai, a3aanh@telkomsa.net