{ARGIEF}

Vir huiskerke en selgroepe met die fokustekste van die Leesrooster vir Lidmate as basis

Vierde week in Koninkrykstyd

6 Julie
Matt.11:16-19; 25-30
Ek is sagmoedig en nederig van hart
Ysbreker
Hoe verstaan jy “rus”?
Lof en aanbidding
Raak nou stil by die Here en kom tot rus by Hom. Herhaal die woorde “Kom na My toe – Ek sal jou rus gee” ’n paar maal in jou hart tot jy die rus by die Here beleef. Geniet dan net die oomblik by Hom in stilte. Dink aan Hom as sagmoedig en nederig van hart. Sing vir die Here liedere waarmee julle Hom loof en aanbid. Iemand kan Psalm 116:1-7 lees terwyl die res dit biddend beaam.
Woord
Matt.11:16-19; 25-30

  1. Lees die gedeelte eers elkeen in stilte terwyl jy Jesus se stem hoor en fokus op die woorde wat vir jou uitstaan. Dink daaroor na.
  2. Wat leer ons van “hierdie geslag” in Jesus se tyd? (Verse 16-19) Wat bedoel Jesus met die laaste sinnetjie in vers 19? Hoe vergelyk “hierdie geslag” van Jesus se tyd met die geslag van 2014?
  3. Wat ontdek ons omtrent die verhouding tussen die Vader en die Seun en hoe raak dit ons? (Verse25-27)
  4. Wat vind mense wat moeg en oorlaai is, wanneer hulle na Jesus kom? (Verse 28-30) Hoe kom mens na Jesus toe?
  5. Raak nou weer stil. Lees weer die gedeelte deur en sien reeds hoe die Here jou lewe verander deur hierdie paar verse. Praat in stilte met Hom daaroor.

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar. Deel dit wat julle uitgeput en oorlaai maak met mekaar en neem mekaar dan in gebed na Jesus toe.
Uitsending
Hoe kan hierdie groep mense help om na Jesus te kom?

Vyfde week in Koninkrykstyd

13 Julie
Matt.13:1-9; 18-23
Die Woord op vrugbare grond
Ysbreker
Is daar enigiets wat jy geplant het  wat gegroei het en iets moois geword het? Vertel ons daarvan.
Lof en Aanbidding
Fokus nou eers in stilte op die Here. Dink na oor Sy liefde en sorg vir jou die afgelope week. Sien spesifieke oomblikke die afgelope week toe jy die meeste bewus was van sy teenwoordigheid op jou pad. Dank Hom daarvoor. Loof en aanbid Hom dan met liedere.
Woord
Matt.13:1-9; 18-23

  1. Lees eers weer die gedeelte in stilte met jou hart deur. Sien hoe jy langs die see saam met Jesus sit, hoor sy stem, dink aan woorde wat Hy sê wat jou raak. Herhaal die woorde in jou gedagtes.
  2. Die gelykenis is baie duidelik. Op watter 4 tipes grond val die saad (die Woord)? Wat beteken elke tipe?
  3. Kan ons steeds vandag hierdie indeling maak? Hoe?
  4. Hoe voel jy daaroor dat die Woord wat jy bring (met jou woorde en jou dade) nie altyd oral ewe entoesiasties ontvang word nie?
  5. Raak stil by die Here en lees weer die gedeelte deur. Waartoe roep die Here jou nou?

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Vertel mekaar watter mooi dinge julle in mekaar sien. Dank dan die Here daarvoor en bid vir mekaar se behoeftes en bekommernisse.
Uitsending
Hoe gaan julle die mense in julle vriendekring/omgewing voorberei om in te skakel by julle groep?

Sesde Week in Koninkrykstyd

20 Julie
Matt.13:24-30, 36-43
Pas op vir die koring!
Ysbreker
Vertel mekaar van ‘n keer toe iets/iemand die perfekte dag in jou lewe totaal geruïneer het.
Lof en Aanbidding
Die Here is hier. Raak eers stil, fokus op Hom. Raak bewus van Hom wat in liefde na jou kyk. Dink daaroor na dat Hy alles van jou weet. Herhaal die woorde “U omsluit my van alle kante, U neem my in besit” ’n paar maal in jou hart. Geniet die oomblik in sy teenwoordigheid. Begin Hom dan loof en aanbid met liedere, gedeelte uit die Woord en gebede. Iemand kan Psalm 139:1-6 lees terwyl die ander dit in hulle harte saambid.
Woord
Matt.13:24-30, 36-43

  1. Lees weer die gedeelte met jou hart in stilte. Hoor Jesus se stem. Sien die Koninkryk van die hemel voor jou. Die koring wat opkom, die onkruid tussen die koring as jy van nader kyk. Dink na oor hoe dit jou hart raak.
  2. Die boodskap van die dissipels is so eenvoudig: Die koninkryk van die hemel het naby gekom. Terwyl die man goeie saad op die land saai, is daar ook ’n vyand aan die werk wat onkruid saai. Dit is die werklikheid. Kan julle dit sien?
  3. Hoe verduidelik Jesus hierdie gelykenis?
  4. Wie moet van die onkruid tussen die koring ontslae raak?
  5. Gesels oor die stelling: Ons is so besig om te fokus op die onkruid in ons midde dat ons die pragtige koring wat God gesaai het, miskyk.
  6. Raak nou stil by die Here en sien hoe hierdie woorde van Jesus jou lewe en fokus verander.

Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Dank eers die Here vir die mooi dinge wat jy in jou broer/suster sien en bid dan spesifiek vir mekaar se behoeftes.
Uitsending
Beplan hoe julle hierdie week na iemand op julle gebedslys gaan uitreik.

Sewende week in Koninkrykstyd

27 Julie
Matt.13:31-33, 44-52
Klein word groot
Ysbreker
Vertel mekaar van ‘n klein dingetjie wat jy gesê/gedoen het, wat so groot geword het dat jy dit nie meer kon beheer nie.
Lof en Aanbidding
Kom tot rus by die Here. Geniet die stilte saam met Hom. Dink eers ‘n rukkie oor die pad wat die Here die afgelope week  met jou geloop het. Dink aan besondere oomblikke toe jy bewus was van sy teenwoordigheid. Dink ook na oor die oomblikke toe jy nie bewus was van Hom nie. Daarna loof julle as groep Hom met lof- en aanbiddingsliedere
Woord
Matt.13:31-33,44-52

  1. Lees die gedeelte weer in stilte deur en let op die woorde wat vir jou uitstaan, wat die Gees graag op jou hart wil lê. Praat in stilte met Hom daaroor.
  2. Sien jy hoe verse 31-33 rondom jou waar word? Hoekom sê jy so? Wat wil die Here vir jou sê?
  3. Hoeveel is dit vir jou werd om deel van God en Sy Koninkryk te wees? Sou jy sê soveel soos verse 44-46?
  4. Kan daar in die Koninkryk ook nuttelose visse (“slegtes”) wees? Wat is hulle uiteinde? Is dit nodig dat jy hulle ook veroordeel? Wat moet jy dan doen?
  5. Raak nou weer stil en lees die gedeelte weer deur. Hoe verander die Here jou nou?

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel julle behoeftes en bekommernisse met mekaar en bid dan vir mekaar.
Uitsending
Beplan saam hoe die groep prakties die week na mense in die omgewing na mense gaan uitreik met klein dingetjies.
 
Opgestel deur Adriaan Haasbroek, Lambertsbaai, by a3aanh@telkomsa.net