{ARGIEF}

leesroostermet die sleuteltekste van die Leesrooster as basis Sewende week in Koninkrykstyd


3 Julie
Lukas 10:1-11, 16-20
Gestuurdes van die Here
Ysbreker
Hoe lank neem dit julle om voor te berei as julle lank op reis gaan? Wat doen julle alles?
 
Lof en aanbidding
Fokus op die Here en loof Hom dan met liedere. Raak dan stil en raak bewus van Hom wat met liefde na jou kyk. Dink aan een of twee dinge waarvoor jy vanaand vir Hom dankie wil sê en doen dit in stilte. Na die oomblikke van stilte kan iemand Psalm 30:5-6, 12-13 lees en die res luister biddend. Herhaal die woorde “Here, my God, vir altyd sal ek U loof” driemaal saggies in jou hart.
 
Woord
Luk.10:1-11, 16-20

  1. Lees eers die gedeelte weer in stilte met jou hart sodat jy jouself sien in hierdie gedeelte. Hoor hoe Hy jou stuur en dink aan dit wat vir jou voorlê op hierdie pad van gestuurd-wees.
  2. Waarheen stuur Jesus hierdie twee-en-sewentig? Wat leer ons hieruit? (Vers1-3) Wat is die eerste taak van die gestuurdes? Dink julle die stelling is waar: “Wanneer ons bid vir arbeiders om die groot oes in te samel, is dit onmoontlik om onbetrokke te bly…”
  3. Wat is die fokus van die gestuurdes? (Verse 4-11) Hoe raak die woorde van Jesus ons?
  4. Deur Wie word ons eintlik gestuur? (vers 16)
  5. Wanneer die 72 vol blydskap terugkeer, waaroor gaan hulle blydskap en hoe antwoord Jesus hulle? (Verse 17-20) Watter nuwe dinge leer ons uit hierdie verse?
  6. Raak nou weer stil en lees die woorde wat vir jou uitstaan. Dink na oor hoe anders jou lewe lyk wanneer jy jouself in die gedeelte sien. Praat in stilte met die Here daaroor.

 
Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Vertel eers vir mekaar van die mooi dinge wat julle in mekaar raaksien. Deel dan julle bekommernisse en behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
 
Uitsending
Hoe stuur die Here hierdie groep in die week wat kom uit? Wat is daar wat ons as groep saam kan gaan doen in gehoorsaamheid aan Jesus se uitsending? Na die beplanning kan iemand sluit met hierdie woorde: “Ook ek is gestuur. Soos die Vader U stuur, stuur U my. Die Koninkryk van God is baie naby. Hier, in Jesus, in my. Laat u Koninkryk kom – in ons kerk, ons hart, ons wêreld.” (AH)
 
Agste week in Koninkrykstyd
10 Junie
Kol.1:1-14
Ons het gehoor van julle
Ysbreker
Hoe voel jy gewoonlik wanneer jy iemand die eerste keer in jou lewe ontmoet en hy of sy groet jou met die woorde: “O, ek het al baie van jou gehoor!”
 
Lof en aanbidding
Sing nou liedere vir die Here waarmee julle Hom saam loof en aanbid. Raak dan stil en rus net in sy teenwoordigheid en beleef sy aanraking. In jou stilte gee jy Hom die geleentheid om saam met jou deur jou week te stap en jou deur Sy oë te laat kyk na die week. Waar was jy die meeste bewus van geloof? Hoop? Liefde? Hoe het dit jou geraak? Na die oordenking bid jy in jou hart en sê vir die Here dankie vir sy kinders rondom jou – jou familie in Jesus Christus.
 
Woord
Kol.1:1-14

  1. Lees eers weer die gedeelte in stilte en let op woorde wat vir jou uitstaan. Dit is woorde wat die Gees op jou hart lê. Herhaal die woorde in jou hart en sien hoe jou lewe verander wanneer dit word soos die woorde in jou hart.
  2. Wie skryf die brief aan die Gemeente in Kolosse en wat word die Gemeente genoem? Is die brief ook aan ons gerig? (verse 1-2)
  3. Paulus sê “omdat ons gehoor het”… dank ons God. Waarvoor dank hulle God? (Verse 3-8) Probeer die 3 uitstaande dinge wat kenmerkend is van ’n Gemeente raaksien. (Vgl. 1Kor.13:13)
  4. Waarvoor bid Paulus en Timoteus? (Verse 9-14) Sou julle dit ook graag vir julle Gemeente wou bid?
  5. As julle nou dink aan julle Gemeente: Waarvoor wil julle God dank? Waarvoor wil julle graag bid?
  6. Raak nou stil en herhaal weer die woorde wat jou opgeval het in jou hart. Dink na oor hoe die Here jou nou verander om te wees wat jy lees.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel julle behoeftes met mekaar, dank die Here vir jou broers en susters en bid dan vir mekaar.
 
Uitsending
Hoe nooi die Here ons in vanaand se gedeelte om deel te neem aan sy sending in ons wêreld in die week wat kom?
 
Negende week in Koninkrykstyd
17 Julie
Kolossense 1:15-28
(Hierdie hele gedeelte het soveel rykdom dat dit dalk moeilik sal wees om in een byeenkoms by alles uit te kom. Die leier kan dalk fokus op een van die 3 gedeeltes in die fokusteks en die groep dit saam laat beleef)
CHRISTUS IS IN JULLE (JOU)
Ysbreker
Na watter een van jou ouers lyk jy die meeste en na watter een aard jy die meeste?
 
Lof en aanbidding
Sing lof- en aanbiddingsliedere vir die Here terwyl julle sy teenwoordigheid saam geniet. Raak dan stil by die Here en dink aan Hom in julle midde. Sien hoe Hy in liefde na julle kyk. Dink aan 3 dinge wat vandag in jou lewe gebeur het waarvoor jy dankie wil sê en doen dit in stilte. Beweeg dan saam met die Here deur jou week. Dink aan oomblikke toe jy die Here so naby beleef het dat jy geweet het jy is in Christus en Hy in jou. Na die oomblikke van intimiteit met die Here, kan iemand afsluit met hierdie gebed: “Vader in die hemel, ek glo dat U naby my is. U ken my, U praat met my. Ek glo dat U u aangesig na my gekeer het. Ek moet my tot U wend as ek myself wil vind. Want ek is net wat ek in u oë is…” (Ricarda Huch)
 
Woord
Kol.1:15-28

  1. Lees die gedeelte in stilte en herhaal die woorde wat vir jou uitstaan in jou hart, woorde wat God aan jou bekend stel, woorde wat jou beskryf, jou roeping in hierdie lewe.
  2. Die Seun is die beeld van God. Wat uit hierdie gedig van Paulus oor Jesus is vir jou persoonlik waardevol? (Verse 15-20)
  3. Julle is die beeld van Jesus. Hoe gebeur dit dat ons “heilig, sonder smet en onberispelik” voor God kan staan? (Verse 21-23)
  4. Die eeue lange geheimenis (misterie) is nou geopenbaar: Christus is in julle – julle is sy liggaam. Die Gemeente “beliggaam” vir Christus. Hoe gebeur dit? (Verse 24-28)
  5. Raak nou weer stil by die Here. Herhaal weer die woorde wat die Here deur sy Gees op jou hart gelê het saggies in jou hart en sien hoe Hy jou lewe verander om te wees wat jy lees.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Sê vir die Here dankie dat jy Hom sien in die broer en suster wat saam met jou bid en bid dan vir mekaar se behoeftes.
 
Uitsending
Hoe kan hierdie groep op baie eenvoudige wyse vir mense gaan vertel van Jesus, die beeld van God?
 
Tiende week in Koninkrykstyd
24 Julie
Kolossense 2:6-15
JULLE (JY) IS IN CHRISTUS
Ysbreker
As jy “wie jy is” in drie (nie meer nie) sinnetjies aan die groep moet beskryf, hoe sal dit klink?
 
Lof en aanbidding
Ons fokus nou in ons liedere op wie ons God is en loof en aanbid Hom. Daarna kom ons tot rus by Hom en dink aan Hom. Ontvang die liefde wat Hy nou vir jou gee met ’n oop hart. Wees stil by Hom. Dink nou na oor sy betrokkenheid in jou lewe die afgelope week (of dag). Wanneer het jy beleef dat God baie naby aan jou is? Praat met Hom daaroor. Wanneer het dit vir jou gevoel of Hy ver is? Waar was Hy toe? Dra nou in stilte elkeen in die groep aan die Here op en dank Hom dat julle in Christus eie familie is.
 
Woord

  1. Lees eers weer die gedeelte in stilte deur met ’n biddende hart. Fokus op die woord(e) wat vir jou uitstaan, wat die Gees op jou hart lê. Herhaal die woord(e) in jou hart en sien hoe jy verander wanneer die woorde deel van jou hart word.
  2. Wat moet die lidmate van die Gemeente van Kolosse weet en waarvoor moet hulle versigtig wees? (Verse 6-8) Wat beteken dit in gewone Afrikaans vir ons?
  3. Watter “voordele” het ons “verbondenheid met Hom”? (Verse 9-13) Hoe leef ons ons “verbondenheid met Christus”?
  4. Hoe troos verse 14, 15 en 19 jou en hoe verander dit jou waardering van die Gemeente?
  5. Raak nou weer stil by die Here. Lees weer die woord(e) wat jou in die hart geraak het saggies. Fluister hulle sodat net jy hulle kan hoor. Sien hoe jou hart, gedagtes en lewe hierna verander wanneer dit word soos jy lees.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Sê eers vir mekaar watter mooi dinge julle in mekaar raaksien. Dank dan die Here daarvoor en bid vir mekaar se behoeftes.
 
Uitsending
Hoe kan die groep in die week wat kom in die omgewing mense so spesiaal laat voel soos God dit doen?
 
Elfde Week in Koninkrykstyd
31 Julie
Kolossense3:1-11
Hier is Christus alles en in almal!
Ysbreker
Wat is jou gunsteling kleur en hoe voel jy wanneer jy die kleur aan het?
 
Lof en aanbidding
Ons sing nou lof- en aanbiddingsliedere vir die Here terwyl ons op Hom fokus. Daarna raak ons stil by Hom en word bewus van sy liefde vir ons. Ons dink aan een (of meer) dinge wat Hy vandag vir ons kom gee het waarvoor ons vir Hom dankie wil sê. Dink veral aan oomblikke toe jy besonder bewus was daarvan dat Hy Homself vir jou kom gee. Iemand kan dan die oomblikke van stilte afsluit met die lees van Psalm 107:1-9. Herhaal in jou hart die woorde: “Aan u liefde is daar geen einde nie”.
 
Woord
Kol.3:1-11

  1. Lees die gedeelte eers in stilte met jou hart. Soos daar sekere woorde vir jou uitstaan, herhaal dit saggies tot dit insink in jou gedagtes en hart. Beleef die woorde.
  2. Ons word in hierdie gedeelte eers geneem na waarna ons strewe en “dink” (Verse 1-4). Hoe verander ons manier van dink ons lewe? (vgl. Rom. 12:2)
  3. Die Gemeente van die Here is die plek waar Christus sonder ophou ons fokus is en ons gedagtes en dade en woorde rig en lei. “Hier is Christus alles en in almal”(Vers 11). As julle nou na verse 5-11 kyk, watter “klere” word uitgetrek en wat word aangetrek in die Gemeente van die Here?
  4. Raak nou weer stil en lees weer die verse biddend. Herhaal die woorde wat jou getref het fluisterend sodat jy sien hoe jy en die Gemeente verander. Sien hoe anders alles rondom jou lyk wanneer “Hier is Christus alles en in almal” die Gemeente se leuse is.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Vertel mekaar van die dinge van Christus wat julle in mekaar raaksien. Deel julle behoeftes met mekaar. Dra mekaar dan aan die Here op.
 
Uitsending
Hoe kan ons as groep in die komende week so leef dat ons oë oopgaan daarvoor om Christus oral te sien, alles, en ook in almal raak te sien.
 
Opgestel deur Adriaan Haasbroek NG Gemeente Lambertsbaai, a3aanh@telkomsa.net