{ARGIEF}

met die sleuteltekste van die Leesrooster as basis

Vyfde week in Koninkrykstyd

14 Julie
Amos 7:7-17
Hoor dan nou die woord van die Here…
Ysbreker
Hoe weet jy gewoonlik of ‘n storie waar is of nie?
 
Lof en Aanbidding
Kom ons dink nou eers in stilte aan ons Here. Daarna gee ons geleentheid om die Here te loof en aanbid met liedere, gebede en Skrifgedeeltes. Fokus nou op die Here in jou lewe die afgelope week of tyd. Dink veral aan die maniere waarop Hy met jou gekommunikeer het. Dink ook aan die maniere waarop jy geluister het. Iemand kan dan afsluit met die volgende gebed: Ek wil stil wees, Here, en op U wag. Ek wil stil wees dat ek kan verstaan wat in u wêreld gebeur. Ek wil stil wees om na aan die dinge te kom, aan al u skepsels, en hul stemme te hoor. Ek wil stil wees dat ek onder die baie stemme u stem kan herken… Ek wil stil wees en my daaroor verwonder dat U vir my ‘n woord het. Here, ek is nie werd dat U na my toe kom nie, maar spreek net een woord, dan word my siel gesond.
 
Woord
Amos 7:7-17

  1. Lees eers weer die gedeelte met jou hart. Dink na oor die woorde wat jou raak, wat jou ongemaklik laat voel, of jou vrede gee. Praat met jou Here daaroor.
  2. Wat sien Amos in verse 7-9 en wat is die boodskap van dit wat die Here hom laat sien?
  3. Hoe reageer Amasia, die priester, op die woord van die Here? (Verse 10-13). Hoe maak ons gewoonlik van God se woord mensewoorde?
  4. Wat is uniek aan Amos? (Verse 14-15)
  5. Watter slegte woord moet Amos nou aan die priester Amasia oordra? (Verse 16-17)
  6. Wat wil die Here vir ons deur hierdie gedeelte leer? (Vgl. Joh.1:1, 9-12) Raak dan stil en dink na oor hoe hierdie woorde jou lewe verander. Sien jouself in die gedeelte.

 
Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Vertel eers vir mekaar watter mooi dinge julle in mekaar raaksien en waardeer. Deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar. Onthou tog dat julle NET met die Here oor mekaar se nood en behoeftes praat.
 
Uitsending
Na wie gaan die groep hierdie week uitreik en hoe gaan julle dit doen?
 

Sesde week in Koninkrykstyd

21 Julie
Amos 8:1-12
Honger en dors na die woorde van die Here
Ysbreker
Ken julle die uitdrukking: Vroeg ryp, vroeg vrot? Hoe is dit gewoonlik gebruik?
 
Lof en Aanbidding
Loof en aanbid die Here met julle lied terwyl julle op Hom fokus. Raak dan stil by die Here met die eenvoudige vraag in jou hart: Wat dink mense wat jou die afgelope week ontmoet het van jou God na dié ontmoeting? Praat met die Here daaroor. Iemand sluit dan met die woorde van Psalm 52: Maar ek staan sterk soos ‘n welige olyfboom; ek is in die huis van God en ek steun altyd daarop dat Hy vir my sorg. Ek sal U altyd loof vir wat U gedoen het. Voor u dienaars sal ek u Naam prys, want U is goed. (verse 10-11)
 
Woord
Amos 8:1-12

  1. Lees eers die gedeelte in stilte terwyl jy voor jou sien wat die Here vir Amos laat sien. Wat gebeur in jou binneste wanneer jy die dinge “sien”? Praat met die Here daaroor.
  2. Wat laat die Here vir Amos sien en wat beteken dit alles? (Verse 1,2,3,7-12)
  3. Wat is die oorsaak van al hierdie verskriklike dinge wat Amos sien? (Verse 4-6). Wat leer ons hieruit oor die Here se gesindheid teenoor die weerlose mense?
  4. Wat is die ergste honger en dors wat wag op die volk van die Here? (Vers 11,12)
  5. Kon dit maklik gewees het vir die Here om so ‘n oordeel oor die volk te vel? (Vgl. Vers 2)
  6. Hoe word hierdie welverdiende oordeel finaal voltrek? (Vgl.vers 9 en Luk.23:44-45). Raak nou stil en dink aan die donkerste oomblik in die wêreld en hoe dié oomblik vir jou lig gebring het.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel julle nood en behoeftes met mekaar en dra mekaar dan aan die Here op.
 
Uitsending
Op watter manier gaan die groep hierdie week na mense in die omgewing uitreik?
 

Sewende week in Koninkrykstyd

28 Julie
Hosea 1:2-10
Genade onbeskryflik groot!
Ysbreker
Het dit ooit met jou gebeur dat ‘n onderwyser jou straf belowe het en nooit daarby uitgekom het nie? Vertel ons daarvan.
 
Lof en aanbidding
Besing die Here met lof en aanbiddingsliedere wat aansluit by sy oneindige groot genade. Kom dan tot rus by die Here. Raak bewus daarvan dat Hy nou by jou is en met liefde na jou kyk, jou “My geliefde kind” noem. Dink aan jou liefde vir Hom. Praat met Hom daaroor. Iemand lees Psalm 85 voor terwyl die res dit in hulle harte saambid. Herhaal die woorde “liefde en trou sal mekaar ontmoet” drie maal saggies in jou hart.
 
Woord
Hosea 1:2-10

  1. Lees die gedeelte in stilte. Staan stil by woorde wat jou hart raak. Herhaal die woorde dat dit insink tot diep in jou hart. Sien hoe dit jou lewe verander.
  2. Wat verkondig Hosea se huwelik met Gomer? (Vers 2)
  3. Wat word hulle 3 kinders genoem en waaraan moes die volk Israel dink elke keer as hulle die kinders se name noem? (Verse 3-6, 8-9)
  4. En wat van Juda? (Vers 7)
  5. In vers 10 kry ons die woordjie “tog”. Wat word daarna gesê?
  6. Waarvoor kan ons die Here nie genoeg dankie sê nie (Vgl.Rom.8:15-17, 29). Raak nou stil en sê vir die Here dankie vir sy lewensveranderende liefde en genade vir jou.

 
Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Dank die Here vir die broer/suster wat Hy jou gegee het en bid dan vir mekaar se behoeftes.
 
Uitsending
Wat gaan die groep hierdie week doen om die gesin van die Here te vergroot?
 

Agste week in Koninkrykstyd

4 Augustus
Hosea 11:1-11
My liefde brand te sterk
Ysbreker
Watter besitting van jou het jy die moeilikste van afskeid geneem en hoekom?
 
Lof en aanbidding
Loof en aanbid die Here blymoedig met liedere. Kom dan tot rus en dink aan die Here jou God in jou lewe. Dink aan Hom wat jou lief het met ‘n liefde wat sterk brand. Hoe het jy dit die afgelope week in jou eie lewe ervaar? Met wie kon jy hierdie liefde deel? Iemand lees nou Psalm 107:1-22 terwyl die res dit in hulle harte beleef.
 

Woord

Hosea 11:1-11

  1. Lees eers weer hierdie elf verse biddend en laat die Gees van die Here jou lei om jouself in die gedeelte te sien. Wat beleef jy van jouself, en van jou God? Praat met Hom daaroor.
  2. Hoe is die verhouding van die Here met Sy volk? (Verse 1, 3, 4)
  3. Wat was die kinders van die Here in die Ou Testament se groot fout? (Vers 2, 5)
  4. Wat is die gevolge? (Verse 6, 7)
  5. Hoe laat verse 8 en 9 jou voel?
  6. Hoe vergelyk hierdie gedeelte met die Gelykenis van die Verlore Seun in Luk.15?
  7. Hoe verander hierdie gedeelte jou lewe? Raak stil en praat met jou God daaroor.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Vertel eers vir mekaar van die mooi dinge wat julle in mekaar waardeer, deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
 
Uitsending
Hoe kan ons die boodskap van God se liefde in ons omgewing gestalte gee?
 

Negende week in Koninkrykstyd

11 Augustus
Heb.11:1-3; 8-16
Om te glo
Ysbreker
Glo jy maklik iemand se storie of wil jy darem eers sien of dit waar is?
 
Lof en aanbidding
Kom tot rus by die Here jou God. Dink in stilte aan Hom. Dink ook na oor die diepte van jou geloof in Hom. Praat in stilte met Hom daaroor. Daarna sing julle vir Hom liedere wat uitdrukking gee aan julle geloof in Hom.
 
Woord
Heb.11:1-3; 8-16

  1. Lees die gedeelte in stilte met jou hart, sodat jy jouself binne-in die Skrifgedeelte sien. Sien hoe die Here deur sy Gees vir jou geloof gee wat groei. Dink na oor hoe jy lewe doodgewoon op grond van God se beloftes aan jou.
  2. Wat beteken dit om te glo (Verse 1-3). Kan jy dit in jou eie woorde verduidelik?
  3. Hoe word geloof vir ons verduidelik in verse 8-10? Hoe sou jy dit toepas op jou eie lewe?
  4. Vers 11 en 12 help ons so ’n entjie verder met die verduideliking van geloof. Wat sien julle in hierdie verse raak?
  5. Is jy tevrede om verse 13-16 in te sluit by jou geloof, m.a.w. dat jy nie ontvang wat jy beloof is nie, maar juig oor dit wat kom, die beter vaderland, die hemelse?
  6. Hoe verander die Here deur sy Woord jou by vanaand se ontmoeting met Hom? “Here, ek glo, al sien ek nie”…

 
Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Deel die dinge in julle lewe wat julle nie sien nie met mekaar en bid dan vir mekaar se behoeftes.
 
Uitsending
Hoe gaan die groep in die week wat kom, hulle geloof leef in hulle omgewing? Beplan biddend en prakties.
 

Tiende week in Koninkrykstyd

18 Augustus
Heb.11:29-12:2
Die oog gevestig op Jesus
Ysbreker
Sal jy bereid wees om iewers heen te gaan, sonder om te weet wat op die pad vir jou wag of waar jy gaan uitkom? Hoe?
 
Lof en aanbidding
Raak nou eers stil by die Here. Dink na oor die afgelope week in jou lewe. Hoeveel het jy die vorige week geweet van die week wat vir jou voorlê? Hoeveel onverwagse dinge moes jy hanteer? Kon jy vir Jesus sien in al die dinge wat gebeur het? Praat in stilte met Hom daaroor. Sing dan liedere vir Hom. Iemand kan Psalm 80:2-3; 9-20 lees terwyl die ander dit in hulle harte saambid.
 
Woord
Heb.11:29-12:2

  1. Lees die gedeelte in stilte met jou hart en beleef dit wat in hierdie gedeelte geskryf word. Stap in jou gedagtes deur God se geskiedenis met sy volk. Wat laat jou goed voel in die gedeelte en waarvoor sien jy nie kans nie? Kyk waar jy vir God raaksien in hierdie geskiedenis.
  2. Wat leer ons uit die eerste drie voorbeelde van geloof? (Verse 29-31)
  3. In verse 32-38 beleef ons die op-en-af van geloof. Wat is die hoogtepunte en laagtepunte van ons geloof en hoe beïnvloed dit jou geloof?
  4. Geloof het alles te doen met God se toekoms. Hy self lei ons sy toekoms in. Hoe doen Hy dit? (Verse 38-12:2) Hoe laat dit jou voel?
  5. Hoe verander die Here jou deur sy Woord? Raak ’n oomblik stil en dink na oor jou geloof in onsekere tye met Jesus as jou enigste sekerheid?

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Vertel eers vir mekaar wat dit is wat julle geloof laat wankel of ’n knou gee. Sê vir die ander twee by jou hoe hulle jou geloof versterk. Deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
 
Uitsending
Hoe kan hierdie groep ’n verskil gaan maak in mense wie se geloof al amper opgedroog het?
 

Elfde week in Koninkrykstyd

25 Augustus
Heb.12:18-29
Met eerbied en ontsag
Ysbreker
Vir wie was jy as kind die bangste op aarde?
 
Lof en aanbidding
Kom tot rus by die Here jou God. Dink aan Hom. Watter beeld van Hom staan vir jou uit? Praat in stilte met Hom oor dit wat in jou hart leef. Sing daarna vir Hom liedere van bewondering. Iemand kan Psalm 71:1-6 voorlees terwyl die res dit in hulle harte beaam. Herhaal die woorde: “U is my hulp van my geboorte af” so drie maal in jou hart tot dit insink.
 
Woord
Heb.12:18-29

  1. Lees eers weer die gedeelte op jou eie biddend en klim so in die teks in. Watter gevoel kom in jou op wanneer jy dit lees? Hoe beleef jy jou God in hierdie verse? Praat met Hom daaroor.
  2. Waaraan herinner verse 18-21 ons? (Vgl. Eks.19:12-13, Deut.9:19) Wat is jou reaksie teenoor God as jy hierdie woorde lees?
  3. Waarheen word ons gelei in verse 22-24? Wat beteken dit?
  4. Ons kry ook ’n ernstige “pas op” in hierdie verse (Verse 25-27) Waaroor gaan dit?
  5. Waarvoor moet ons dankbaar wees? (Verse 28-29)
  6. Hoe verander die Here deur hierdie woorde in die Bybel, jou lewe? Praat in stilte met Hom daaroor.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Vertel eers vir mekaar watter mooi dinge julle in mekaar raaksien, deel dan julle behoeftes met mekaar en bid dan vir mekaar.
 
Uitsending
Op watter nuwe manier kan die groep hierdie week vir God aan mense in die omgewing gaan bekend stel?
 
Opgestel deur Adriaan Haasbroek, Lambertsbaai, a3aanh@telkomsa.net