{ARGIEF}

met die sleuteltekste van die Leesrooster as basis


Tweede week in Koninkrykstyd
29 Mei
Lukas 7:1-10
Hy is dit werd… ek is nie werd nie
Ysbreker
Hoe voel jy gewoonlik wanneer mense voor jou mooi dinge oor jou sê?
 
Lof en aanbidding
Loof die Here met liedere en aanbid Hom. Kom dan tot rus en dink aan Hom. Raak bewus van die feit dat Hy nou met liefde na jou kyk. Dink na oor iets wat jy in hierdie dag of die afgelope week van Hom ontvang het – iets spesifiek – en sê in stilte vir Hom dankie. Na die oomblikke van stilte kan iemand met die volgende gebed sluit terwyl die res dit in hulle harte saambid: “Ek wil stil wees, Here, en op U wag. Ek wil stil wees dat ek kan verstaan wat in u wêreld gebeur. Ek wil stil wees om na aan die dinge te kom, aan al u skepsels en hul stemme te hoor. Ek wil stil wees dat ek onder die baie stemme u stem kan herken. Ek wil stil wees en my daaroor verwonder dat U vir my ’n woord het. Here, ek is nie werd dat U na my toe kom nie, maar spreek net een woord, dan word my siel gesond” (J.Zink)
 
Woord
Luk.7:1-10

  1. Lees weer die gedeelte biddend en met jou hart sodat jy hierdie verhaal beleef asof jy deel is daarvan. Wat staan vir jou uit in die paar verse?
  2. Wat is uitsonderlik in hierdie verhaal? (Verse 1-4) Hoeveel keer word die woordjie “werd” gebruik en wat sê dit vir ons?
  3. Jesus gaan saam, maar die Romeinse offisier stuur boodskappers na Hom. Wat sien ons wanneer ons die offisier leer ken? (verse 5-8)
  4. Hoe reageer Jesus? (verse 9-10). Wat sal Jesus “verwonderd” maak oor jou?
  5. Kom nou weer tot rus by die Here en lees weer die gedeelte deur. Dink daaraan dat Jesus wel so naby kom dat jy met Hom kan praat en Hom kan beleef. Hoe verander Hy jou deur hierdie gedeelte?

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel julle behoeftes met mekaar en bid dan vir mekaar.
 
Uitsending
Op watter manier kan ons in die komende week ons geloof in ons omgewing gaan leef?
 
Derde week in Koninkrykstyd
5 Junie
Lukas 7:11-17
Toe die Here haar sien…
Ysbreker
Hoe belangrik is dit vir jou om gesien te word?
 
Lof en aanbidding
Loof en aanbid die Here saam met liedere en gebede. Gee ook kans vir stilte na elke lied. Kom dan tot rus by die Here. Raak bewus daarvan dat Hy jou nou sien en met liefde na jou kyk. Dink na oor die Here in jou lewe die afgelope week of vandag. Waar was jy besonder bewus van sy nabyheid? Was daar ’n oomblik toe jy gevoel het Hy sien jou raak? Praat in stilte met Hom daaroor. Iemand kan dan die oomblik van stilte afsluit met die lees van Psalm 146:6-10, terwyl die res dit in hulle harte saambid. Herhaal die woorde “U bly vir altyd getrou” so drie maal in jou hart.
 
Woord
Luk.7:11-17

  1. Lees weer die gedeelte in stilte en beleef die oomblikke saam met Jesus asof jy self in die verhaal teenwoordig is. Sien die opgewonde skare saam met Jesus, die hartseer van die groep wat uit die dorpie op pad is begraafplaas toe. Hou vir Jesus dop in die verhaal.
  2. Wat gebeur wanneer Jesus, sy dissipels en ’n hele menigte mense die dorpie Nain wil binnegaan? (verse 7-12)
  3. Hoe reageer Jesus? (Vers 13, 14) Vergelyk dit met Lukas 15:20.
  4. Wat gebeur dan? (vers 15)
  5. Een skare gaan in die dorpie in met blydskap, ’n ander skare kom uit met hartseer. Hoe reageer die hele skare (albei skares) nou saam? (verse 16-17)
  6. Raak nou weer stil. Lees die gedeelte weer deur. Dink na oor Jesus wat raaksien, innig jammer kry en dan praat en doen. Hoe verander dit jou lewe?

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Met harte wat mekaar raaksien, innig jammer kry en mekaar versterk, vertroos en bemoedig, deel julle julle behoeftes met mekaar en bid dan vir mekaar.
 
Uitsending
Is die weduwees en die mense vir wie Jesus raaksien, maar ons soms miskyk, in julle omgewing bewus van Jesus wat hulle raaksien en innig jammer kry en met hulle wil praat? Hoe kan die groep die komende week hierdie aksie van Jesus gaan leef?
 
Vierde week in Koninkrykstyd
12 Junie
Lukas 7:36-8:3
Baie vergewe, min vergewe
Ysbreker
Is jy gemaklik daarmee om op skuld te koop? Vertel ons hoe jy voel oor skuld.
 
Lof en aanbidding
Fokus nou op die Here en sing vir Hom liedere waarmee julle Hom loof en aanbid. Daarna kom julle tot rus by Hom. Geniet die rus en stilte in sy teenwoordigheid, asof jy by sy voete sit. Jy wil graag vir Hom iets gee uit waardering vir sy liefde en vergifnis. Hoe het jy vandag hierdie liefde en vergifnis beleef? Praat in stilte met Hom.
 
Woord
Luk.7:36-8:3

  1. Lees die gedeelte weer in stilte met jou hart en beleef die oomblik saam met Jesus aan tafel in die Fariseër se huis. Sien die vrou inkom en by Jesus gaan kniel. Voel die ongemak oor die vrou wat aan almal bekend is. Hou saam met almal vir Jesus dop.
  2. Hoe voel julle oor die vreemde ding wat met Jesus gebeur nadat Hy sy plek aan tafel ingeneem het? (verse 36-38)
  3. Jesus weet wat die Fariseër dink. En daarom antwoord Hy hom. Wat leer ons uit Jesus se kort gelykenis? (verse 39-43)
  4. Hoe pas Jesus hierdie gelykenis toe en hoe kan ons sy woorde ons eie maak? (verse 44-47)
  5. Die vrou staan op van Jesus se voete as ’n nuwe mens. Hoe weet ons dit? (verse 48, 50)
  6. Lees nou weer die gedeelte in stilte en dink na oor hoe hierdie ervaring saam met Jesus jou lewe verander. Praat in stilte met Hom daaroor.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Vertel eers vir mekaar watter mooi dinge julle in mekaar raaksien, deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
 
Uitsending
Dit gebeur dikwels dat die mense na wie ons moet uitreik, tussen ons kom plek inneem wanneer ons saam met Jesus is. Hoe kan ons in die week ons oë oopmaak vir mense rondom ons wat Jesus se liefde en vergifnis nodig het? Hoe gaan ons dit teenoor hulle leef?
 
Vyfde week in Koninkrykstyd
19 Junie
Lukas 8:26-39
Gaan terug na jou huis en vertel…
Ysbreker
Dink aan iets wat met jou gebeur het wat jy sonder ophou vir mense vertel.
 
Lof en aanbidding
Loof die Here nou met so twee lofliedere en een aanbiddingslied. Daarna kom julle tot rus. Dink aan die Here jou God wat nou met liefde na jou kyk. Stap dan in jou oomblikke van rus saam met Hom deur jou afgelope week, of vandag. Dink aan oomblikke waar jy besonder bewus was van sy nabyheid. Oomblikke wat jy graag met mense sou wou deel. Praat met Hom daaroor in stilte. Iemand kan hierdie oomblik afsluit met die lees van Ps.42:2-3, 6-9 terwyl die res dit biddend beaam. Herhaal die woorde “Ek smag na U, o God” so drie maal in jou hart.
 
Woord
Luk. 8:26-39

  1. Lees die gedeelte biddend en beleef die gebeure saam met Jesus. Vaar saam met Hom, klim uit op die strand. Sien die kaal, verwaarloosde man aankom na Jesus toe. Dink na oor wat jy diep binne beleef wanneer jy die man sien. Sien Jesus se ontmoeting met Hom en die rus wat oor die man kom by hierdie ontmoeting.
  2. Jesus vaar na ’n nie-Joodse gebied, die land van die Geraseners. Wat gebeur wanneer Hy daar voet aan wal sit? Hoe spreek hy vir Jesus aan? (verse 26-29)
  3. Jesus praat met die man. Wat gebeur hierna? (verse 30-34)
  4. Wanneer die inwoners van die dorp kom kyk wat aan die gang is, kry hulle ’n groot verrassing. Wat vind hulle? (verse 35-36)
  5. Die mense van die omgewing vra vir Jesus om liewer weg te gaan en Hy doen dit. Wat gebeur met die man wat genees is? (verse 37-39) Kan dit wees dat Jesus deur die Vader gestuur is vir net hierdie een man? Dink julle die man het woorde nodig gehad om in sy huis sy storie te vertel?
  6. Raak nou stil by die Here en lees weer die gedeelte deur. Sien hoe die Here ook jou lewe verander. Hoor hoe jy Hom vra: Here, ek wil by U bly. Hoor hoe Hy jou antwoord: Ek sal by jou bly, gaan terug na jou gesin en gaan vertel…

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel die dinge wat julle bekommer en julle rus en vrede steel met mekaar en bid dan vir mekaar.
 
Uitsending
Na wie stuur die Here die komende week hierdie groep en om wat te gaan maak?
 
Sesde week in Koninkrykstyd
26 Junie
Lukas 9:51-62
Geskik vir die koninkryk
Ysbreker
Wat is vir jou belangrik in jou lewe?
 
Lof en aanbidding
Loof die Here met liedere en aanbid Hom. Gee ook geleentheid as daar iemand is wat graag wil bid. Kom dan tot rus en in stilte beleef julle net die Here by julle. Dink aan sy liefde vir jou. Beweeg saam met die Here deur die afgelope week in jou lewe. Was daar oomblikke dat jy besonder sy stem gehoor het sê: Volg My! Dit kan iets wees wat gebeur het, iemand wat oor jou pad gekom het, of ’n gedagte wat in jou hart opgekom het. Dink na oor jou reaksie. Iemand kan dan hierdie oomblik van rus by die Here afsluit met hierdie gebed terwyl die res dit in hulle harte beaam: “Here, neem al my vryheid, my herinneringe, my begrip en my totale wil. U het vir my alles gegee wat ek het, alles wat ek is. Ek onderwerp alles aan u Goddelike wil, sodat U geheel oor my beskik. Gee my net u liefde en genade, daarmee is ek ryk genoeg en ek hoef niks meer te vra nie” (Ignatius van Loyola)
 
Woord
Luk.9:51-62

  1. Lees eers weer die gedeelte met jou hart in stilte. Beleef die wandel met Jesus na Samaria en jou emosie wanneer hulle Hom nie wil ontvang nie. Sien hoe die een na die ander by Jesus wil aansluit en hoor sy woorde. Ook diegene wat deur Hom geroep word om Hom te volg en hulle verskonings.
  2. Wat gebeur wanneer Jesus in die Samaritaanse dorp kom? Hoekom gebeur dit en hoe voel Jakobus en Johannes oor die hele episode? (verse 51-54) Sou julle ook so gevoel het?
  3. Is Jesus hier om vuur uit die hemel te laat afroep? (verse 55-56)
  4. Op pad na Jerusalem ontmoet Jesus mense wat Hom wel wil volg. Twee bied aan om Hom te volg, die ander een roep Hy om Hom te volg. Wat leer ons uit die drie mense wat oor Jesus se pad kom? Is Jesus se eise nie te erg nie? (verse 57-61)
  5. Wat dink julle, bedoel Jesus met die woorde wat ons lees in vers 62?
  6. Lees nou weer in stilte die gedeelte deur en hoor Jesus se stem “Volg My”. Dink na oor jou antwoord. Is dit nou die geskikte tyd? Sal ek dit kan inpas tussen al die dinge wat ek wil en moet doen? Praat in stilte met Hom daaroor. Bid weer die gebed van Ignatius van Loyola in jou hart.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel die dinge wat dit vir julle moeilik maak om Jesus te volg, met mekaar en bid dan vir mekaar.
 
Uitsending
Hoe gaan ons prakties in die komende week hierdie Woord van God leef?
 
 
Hierdie materiaal is opgestel deur Adriaan Haasbroek, Lambertsbaai a3aanh@telkomsa.net