{ARGIEF}

met die sleuteltekste van die Leesrooster as basis

Tweede week in Koninkrykstyd
3 Junie
1Samuel 3:1-10
Die stem van die Here
Ysbreker
Wie se stem sal jy uitken in die donker, en hoekom is die stem so besonder?
 
Lof en aanbidding
Loof die Here met liedere en aanbid Hom. Kom dan tot rus en luister na hierdie woorde: “Baie stemme eis ons aandag op… maar agter al die lawaaierige stemme is daar ‘n sagte stem wat sê: Jy is my geliefde. Ek is bly oor jou. Dit is die een Stem waaraan ons die meeste behoefte het. Dit verg egter ‘n spesiale poging om daardie stem te hoor; dit vra alleen-wees, stilte, en vasberadenheid om te hoor. En dit is wat gebed is: om te luister na die stil stem van die Een wat ons elkeen “my geliefde kind noem”(Henri Nouwen). Dink nou na oor die Here se stem in jou lewe die afgelope week.
 
Woord
1Sam.3:1-10

  1. Lees die gedeelte in stilte en beleef wat hier gebeur. Hoor jou eie naam wanneer die Here vir Samuel roep. Die verligting wanneer Eli ontdek dit is die Here wat vir Samuel roep. Sien die tempel, die ark van God wat jou herinner aan sy verbond.
  2. Wat lees ons oor Samuel en die Here in verse 1 en 2?
  3. Hoe breek die Here die stilte en hoe reageer Samuel daarop? (Verse 3-7)
  4. Eli se “blinde oë” gaan oop. Hoe gebeur dit en watter raad gee hy vir Samuel? (Verse 8-9)
  5. Samuel maak net soos sy mentor vir hom sê. Hoe raak vers 10 julle? (Vergelyk ook Markus 1:16-20; 2:13-14)
  6. Raak nou stil by die Here. Lees weer die gedeelte deur. Hoor die Here se stem. Hy roep jou op jou naam. Hoe antwoord jy Hom?

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Vertel eers vir mekaar van die mooi dinge wat julle in mekaar raaksien, deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar (veral mekaar se roeping en sending).
 
Uitsending
Hoe roep en stuur die Here ons hierdie week?
 
Derde week in Koninkrykstyd
10 Junie
1Samuel 8:4-11, 16-20
Ons soek ‘n koning
Ysbreker
Is jy tevrede met wat jy is en besit in vergelyking met ander mense? Hoe?
 
Lof en aanbidding
Fokus op die Here, jou God, en sing vir Hom liedere uit julle hart, waarmee julle Hom loof, waardeer en groot maak as Koning. Kom daarna tot rus en dink aan Hom wat in liefde by jou is. Dink aan ‘n geskenk wat Hy vandag vir jou gegee het en sê dankie. Vra Hom om saam met jou deur die week en dag te beweeg. Waar het jy beleef die Here is werklik in beheer van jou lewe? Op watter stadium het jy gevoel jy neem self beheer oor? Praat in stilte met Hom daaroor. Hierna sluit iemand af met die lees van Psalm 138 en die res bid dit in hulle harte saam.
 
Woord
1Sam.8:4-11, 16-20(2)

  1. Lees die gedeelte in stilte met jou hart. Watter woorde raak jou? Wat doen dit aan jou? Hoe verander die woorde jou?
  2. Voor watter krisis plaas die leiers van Israel vir Samuel en hoe reageer hy daarop? (Verse 4-6)
  3. Hoe stel God vir Samuel gerus? (Verse 7-10)
  4. Selfs nadat die volk gehoor het wat ‘n koning hulle gaan kos, weier hulle steeds om te luister. Wat is hulle motivering vir ‘n koning? (Verse 16-20)
  5. Hoe reageer die Here op hulle versoek? (Verse 21-22)
  6. Raak nou weer stil by die Here. Lees weer die paar verse. Hoe verander die gedeelte jou verhouding met God? Wat wil jy graag vir Hom sê? Doen dit nou in stilte.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel julle suksesse en mislukkings van die afgelope week met mekaar en bid dan vir mekaar, nadat julle goed na mekaar geluister het.
 
Uitsending
Hoe kan ons ons mede-gelowige broers en susters in die week gaan aanmoedig om hulle vertroue in die beheer van God te stel, eerder as op die dinge wat hulle gedurig met ander s’n vergelyk?
 
Vierde week in Koninkrykstyd
17 Junie
1Sam.15:34-16:13
Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie
Ysbreker
Hoe voel jy as mense jou beoordeel volgens hoe jy gebou is of volgens jou gelaatstrekke? Hoeveel keer het jy al iemand aanvaar of verwerp op grond van hoe hy of sy lyk?
 
Lof en Aanbidding
Sing vir die Here liedere van liefde en waardering. Fokus op Hom en gee julleself aan Hom. Raak dan stil in die Here se geselskap, maak julle oë toe en dink aan Hom. Dink oor die manier waarop Hy aan jou dink. Praat met Hom daaroor.
 
Woord
1Sam.15:34-16:13

  1. Lees nou weer die hele gedeelte met jou hart. Wat gebeur hier en hoe is die Here aan die werk in Samuel, Saul en Dawid se lewe? Hoe is Hy betrokke in jou eie lewe?
  2. Hoe begin die verhaal? (15:34-35)
  3. Watter opdrag kry Samuel en vertel vir mekaar wat gebeur in verse 1-5?
  4. Wat dink Samuel wanneer hy vir Eliab sien? (Vers 6). Hoe sou jy gereageer het as jy Samuel se taak gehad het?
  5. Watter belangrike regstelling maak die Here self in vers 7? Hoe verander dit jou manier van dink oor ander en oor jouself?
  6. Watter seun van Isai is die Here se keuse? (Verse 11-12) Lyk dit of Isai hom hoegenaamd in gedagte gehad het?
  7. Wat gebeur met Dawid nadat Samuel hom gesalf het? (Vers 13)
  8. Ons kom terug na vers 7. As God na jou kyk, hoe sien Hy jou? (Vgl.Gal.2:20)

 
Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Dank die Here vir die mooi dinge wat julle in mekaar raaksien en bid dan vir mekaar se behoeftes.
 
Uitsending
Dalk is daar iemand in die omgewing met selfbeeld-probleme omdat mense hom/haar al soveel keer uiterlik beoordeel het. Hoe gaan die groep na die persoon uitreik?
 
Vyfde week in Koninkrykstyd
24 Junie
Psalm 9: (1-8)9-20(21)
Ons God laat die storms bedaar
Ysbreker
Wat is daar in jou lewe wat jou vul met verwondering?
 
Lof en aanbidding
Kom tot rus by die Here jou God en fokus op Hom. Sing vir Hom liedere waarmee jy Hom loof en aanbid en bewonder. Raak dan stil in sy teenwoordigheid en dink ‘n oomblik aan God. Wat sien jy wanneer jy aan Hom dink? Is Hy kwaai, liefdevol, vriendelik – of watter beeld van God koester jy in jou hart? Praat in stilte met Hom oor hoe jy Hom sien.
 
Woord

  1. Lees die Psalm as gebed. Dink aan die God wat jy aanspreek in die gebed. Sien die verskillende hoeke waaruit die Psalm God beskryf. Laat dit in jou hart insak.
  2. In die eerste 13 verse leer ons die Here ken in sy teenwoordigheid in mense se lewens. Wat val jou op in die verse? Deel dit met mekaar.
  3. Die Psalm wissel lof, gebed, oproep tot lof af. Wanneer Dawid in vers 14 weer oorgaan tot gebed, hoe klink sy omstandighede en hoe beskryf Hy die Here wat met Hom in hierdie omstandighede is? Hoe raak die woorde julle harte? (Verse 14-18)
  4. Watter troos kry behoeftiges en mense in nood in vers 19?
  5. Hoe beleef julle verse 20-21? (Vergelyk ook Markus 4:35-41)
  6. Raak nou stil. Deel in jou stilte jou eie behoeftes, nood en storms met die Here. Sien reeds in jou stilte die Here se nabyheid en uitkoms.

 
Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Deel met mekaar julle nood en behoeftes en die uitdagings wat julle bekommer. Bid dan vir mekaar.
 
Uitsending
Ons draai nou na mense in ons omgewing wat die een na die ander uitdaging beleef, vir wie die storms net nie wil bedaar nie. Hoe gaan die groep die mense ondersteun en verligting bring?
 
Kontak my gerus: Adriaan Haasbroek: a3aanh@telkomsa.net