{ARGIEF}

met die fokus-tekste van die Leesrooster as basis

Tweede week in Lydenstyd

1 Maart
Markus 8:31-38
Volg Jesus na tot in sy lyding
Ysbreker
Hoe help jy gewoonlik iemand wat sê: “Hoekom moet ek so swaarkry?”, of “Hoekom straf die Here my dan so?”
Lof en aanbidding
Fokus op die Here wanneer julle vir Hom liedere sing waarmee julle Hom aanbid. Daarna raak julle stil en dink aan Hom in sy lyding. Dink aan oomblikke die afgelope tyd toe jy gevoel het dit gaan regtig swaar met jou. Het jy die Here jou God toe naby of ver ervaar? Sien in jou stilte waar Hy was in hierdie oomblikke. Na die oomblikke van stilte lees iemand Psalm 22:23-31 terwyl die res dit in hulle harte saambid.
Woord
Mark.8:31-38

  1. Lees eers weer die gedeelte in stilte. Hoor Jesus se woorde. Dink hoe jy voel wanneer Jesus praat oor sy lyding, sterwe en opstanding. Sou jy nie ook vir Jesus eenkant geneem het nie? Sien hoe Petrus dit doen. Wat gaan deur jou gedagtes as jy hoor Jesus praat van jou kruis, jouself verloën, jou lewe vir Hom verloor, jou skaam vir Hom en sy woorde. Sien jouself in die prentjie.
  2. Watter noodsaaklike aankondiging maak Jesus en hoe reageer Petrus daarop? (Verse 31, 32)
  3. Wat beteken Jesus se reaksie? (Vers 33)
  4. Nou praat Jesus met die skare en sy dissipels. Wat hou dit in om Jesus met jou hele lewe te volg? (Vers 34-38) Vra Hy nie te veel van sy volgelinge nie?
  5. Nou is dit tyd om weer stil te raak in die Here se teenwoordigheid. Net jy en Hy wat hart-tot-hart met mekaar verkeer. Lees weer die gedeelte. En in jou stilte sê jy vir Hom hoe ver jy bereid is om Hom te volg. Dalk is dit nodig dat jy Hom ook vra om jou te vergewe dat jy Hom tot hier gevolg het met ʼn “so-min-as-moontlik” gesindheid. Gee Hom die geleentheid om jou diep binne te verander.

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Diep onder die indruk van hierdie ontmoeting met die Here en mekaar, deel julle nou met mekaar die dinge wat in julle pad staan om Jesus voluit te volg. Bid dan in opregtheid vir mekaar.
Uitsending
Hoe kan hierdie groep, veral in Lydenstyd, hierdie woorde van Jesus gaan leef. Beplan prakties en laat die Gees van die Here julle lei.

Derde week in Lydenstyd

8 Maart
Eksodus 20:1-17
Ek is die Here jou God…
Ysbreker
Wat is daar in jou karakter of gewoontes wat jou die meeste aan jou pa of ma laat dink?
Lof en Aanbidding
Lydenstyd is die tyd van die jaar wanneer ons meer as gewoonlik dink oor ons lewe voor God. Raak nou stil en dink aan Hom en oor jouself in verhouding met Hom. Sing daarna aanbiddingsliedere vir Hom. Iemand kan hierdie oomblikke afsluit met die lees van Psalm 19, terwyl die res van die groep dit in hulle harte beaam.
Woord
Eks.20:1-17

  1. Lees weer die gedeelte in stilte deur. Fokus op die woorde wat vir jou uitstaan. Dink na oor wat jy in jou binnekant beleef wanneer jy die baie bekende 10 gebooie lees en persoonlik daardeur begelei word. Laat die Here met jou praat en praat dan met die Here daaroor.
  2. Die baie bekende 10 Gebooie is opgedeel in 2 tafels. Wat is die agtergrond van die 10 Gebooie? (Vers 2) Hoe verander dit jou lewe as jy hoor: “Ek is die Here jou God”?
  3. Gaan nou eers deur verse 3-11. Wat sê elkeen van hierdie verse vir jou? Waarmee sukkel jy nog? (Vgl.Mark.12:29-30)
  4. Verse 12-17 neem ons na die tweede tafel van die 10 Gebooie. Gaan dit noukeurig deur en hoor wat die Here daarin vir jou sê. Waarmee sukkel jy? (Vgl.Mark.12:31)
  5. Is daar iemand in die groep wat al tien hierdie Gebooie volledig doen? Wat is dan die doel van die 10 Gebooie? (Vgl. ook Matt.5:17)
  6. Raak nou weer stil met die 10 Gebooie oop voor jou. Lees dit stadig deur en sien hoe die Here jou deur sy Gees verander om al meer soos Jesus te lyk en te leef.

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel eers met mekaar hoe julle voel nadat julle nou weer deur die 10 Gebooie gewandel het. Daarna bid julle vir mekaar se behoeftes.
Uitsending
Neem julleself voor om in Lydenstyd elke dag een van die 10 Gebooie te lees en te oordink en met die Here daaroor te praat, sodat die Here jou God al meer in jou dade gesien word. As daar iemand is met wie jy in kwaaivriendskap lewe, vergewe hom/haar in hierdie tyd en gaan doen moeite om vrede te maak. 

Vierde week in Lydenstyd

15 Maart
Numeri 21:4-9
Kyk op en leef
Ysbreker
Wat beteken dit gewoonlik vir jou as iemand vir jou sê: “Lig net jou kop op en gaan aan met jou lewe”?
 
Lof en aanbidding
Ons fokus nou op die Here en sing dan vir Hom liedere waarin ons veral dink aan sy verlossing. Dan raak julle stil en dink terug aan die Here op jou pad die afgelope week. Waar het jy Hom besonder naby aan jou beleef? Dink aan spesifieke oomblikke. Dank Hom daarvoor. Na die oomblikke van stilte, kan iemand die volgende gebed lees en die res bid dit in hulle harte saam: “Here God,… U is die Lig wat van bo afskyn, die Lewe wat van bo kom, die Gees wat van bo met ons praat. Stuur u Gees uit die hoogte sodat ek nie met myself praat wanneer ek bid nie, maar met U. Dat ek nie myself hoor as ek luister nie, maar vir U. Dat ek in U lewe en nie net in myself nie. Dat U in my kan wees en nie net bo my nie. Nabye God. Op hierdie aarde wag ek op U.” (J.Zink)
 
Woord
Numeri 21:4-9

  1. Lees die gedeelte biddend met jou hart en beleef die gebeure. Hoor die ongeduldige woorde van die mense rondom jou. Sien die tragedie wat daarop volg, die verskriklike smart van mense wat hulle geliefdes verloor. Voel die berou diep in jou, wat sê: Ek het dit alles oor myself gebring. Sien die uitkoms wat die Here gee.
  2. Hoe voel die volk op hierdie stadium oor hulle verlossing uit Egipte? (Verse 4-5) Is hulle reg?
  3. Wat is die gevolge van die opstand? (Vers 6) Hoe lyk die gevolge van ons opstand teen God in die dae waarin ons leef?
  4. Is die uitkoms nie vreemd nie? (Verse 7-9)
  5. Ons lees weer van hierdie oomblik wanneer Johannes daaroor praat. Lees nou Joh.3:13-17 en gesels dan saam oor ons verlossing.
  6. Raak stil by die Here en in jou stilte kyk jy vir ʼn oomblik op na die kruis waaraan Jesus hang. Wat gebeur in jou terwyl jy “opkyk”?

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Dank eers die Here vir julle verlossing. Bid dan vir mekaar.
 
Uitsending
Hoe kan die groep in die komende week hierdie boodskap van God gaan leef. Beplan prakties en laat die Gees julle daarin lei.
 
 
 
 

Vyfde week in Lydenstyd

22 Maart
Jer.31:31-34
ʼn Nuwe verbond!
Ysbreker
Hoe voel jy oor nuwe dinge wat heeltemal anders is as die ou bekendes?
 
Lof en Aanbidding
Kom ons raak nou weer stil in die Here se teenwoordigheid. Dink aan Hom en aan Sy verhouding met jou. Wat dink Hy van jou, hoe voel Hy oor jou? Aanbid Hom dan met jou lied. Raak dan weer stil en iemand lees Psalm 51 deur terwyl die res dit biddend in hulle harte beaam. Herhaal die woorde “Skep in my ʼn rein hart, o God, en vernuwe my gees…”
 
Woord
Jer.31:31-34

  1. Lees in stilte die gedeelte deur. Hoor wat die Here vir jou in hierdie gedeelte wil sê. Soek die woord(e) wat die Here op jou hart lê en praat saggies met Hom daaroor.
  2. Die Here beplan ʼn heel nuwe verbond met sy kinders. Wat was dan fout met die ou een? (Verse 31-32)
  3. Wat is die hooftrekke van die nuwe verbond? (Verse 33-34). Kan julle dit vandag sien gebeur?
  4. Hoe pas ons die Woord van die Here toe op ons lewe vandag? Hoe lewe ons as mense van die nuwe verbond? (Vgl. ook Heb.10:24,25)
  5. Dink weer in stilte oor die woorde van Jeremia: ʼn Man sal nie meer vir sy broer of buurman voorhou: “Jy moet die Here dien” nie, want almal sal My dien, klein en groot…

 
Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Bemoedig mekaar in julle diens aan God. Deel met mekaar die mooi en goeie dinge wat julle in mekaar raaksien. Bid dan vir mekaar.
 
Uitsending
Hierdie week reik ons uit na iemand na aan ons, bv ons bure. Gaan gooi ‘n draai en toon Christelike belangstelling en omgee.
 

Groot Lydensweek (Palmsondag)

29 Maart
Markus 11:1-11
Prys Hom in die hoogste hemel!
[Ek is bewus daarvan dat die fokusteks vir hierdie week Markus 14:1-15:47 is. Die groep is welkom om gedeeltes daaruit te neem en by hulle byeenkoms in die Groot Lydensweek daaruit te lees en dit in stilte te oordink, of na elke gedeelte iemand die geleentheid te gee om te bid – stil-gebed sal eintlik meer gepas wees, of na elke gedeelte ʼn Taizé-lied (bv. VONKK 22 [Bly by My en waak met My] of Liedboek 384 [Jesus, o dink aan my] baie saggies te sing. Die groep kan ook ʼn klompie kerse aansteek en dit na elke Skrifgedeelte doodblaas, tot die laaste een dan met Jesus in die graf doodgeblaas word. Die groep kan op hierdie manier die lydensweg van Jesus saam met Hom loop. Hierdie is baie gewyde oomblikke en as die groep gewoond is daaraan om na die byeenkoms iets saam te drink, sal dit beter wees om dit liewer voor die tyd te doen, sodat die groep na die laaste kers doodgeblaas is, so 3 minute stil sit, en mekaar dan groet en in stilte vertrek.
In ons Gemeente gaan ons stilstaan by Jesus se intog in Jerusalem. Ek werk dus materiaal daaroor uit.]
Ysbreker
As die skeidsregter ʼn verkeerde beslissing neem wat jou span benadeel en die skare begin hom uitjou, doen jy dit gewoonlik saam met almal rondom jou?
 
Lof en aanbidding
Dit is die begin van Groot Lydensweg. Sing liedere waarmee julle fokus op Jesus se laaste dae tot met sy kruisdood op aarde. Liedboek 399 (Aan die tafel met die Paasmaal) is ʼn baie treffende lied wat die hele Groot Lydensweek besing en ook met kitaar begelei kan word. (Indien iemand die musiek van Karl Jenkins het, kan dit gespeel word. Die lied “The armed Man: A mass for Peace – Benedictus” is baie ideaal vir hierdie byeenkoms en is juis die woorde wat gebruik word deur die skare wanneer Jesus op die donkie inry in Jerusalem). Raak dan stil en dink aan Jesus se weg van lyding in sy laaste week. Beleef dit saam met Hom. Beleef hoe Hy in jou lyding saam met jou is. Iemand kan dan die oomblikke van stilte afsluit met hierdie gebed:
Gebed vir Palmsondag
Here, op hierdie Palmsondag dink ek terug
Aan die Sondag eeue gelede
Ek sien myself in ʼn skare wat saamdrom
En U ry as Koning Jerusalem binne
Op ʼn donkie met ʼn kruis op sy rug
Die mense gooi palmtakke voor U neer
Ek hoor die skare sing, ek probeer hoor wat hulle sing
Ek sien die blydskap, die geluk en liefde uit hulle straal
“Prys Hom! Loof Hom! Hosanna!” hoor ek
En ek sing die eenvoudige loflied saam…
ʼn Paar dae later dink ek weer
Aan die Vrydag eeue gelede
Ek sien myself in ʼn skare wat saamdrom
U strompel as veroordeelde Jerusalem uit
Met ʼn kruis op U rug
Die mense spoeg op U en slaan U met die vuis
Ek hoor die skare skreeu, ek probeer hoor wat hulle skreeu
Ek sien die woede, die ongeluk, die haat op hulle gesigte
“Kruisig Hom! Kruisig Hom!” hoor ek
En ek skreeu die verskriklike woorde saam…
ʼn Paar uur later sien ek myself in die skare wat saamdrom
U is vasgespyker aan die kruis
Ek hoor U woorde en probeer hoor wat U sê
“Vader, vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie”
En ek raak stil…
(AH)
 
Woord
Mark.11:1-11

  1. Lees weer die gedeelte in stilte met jou hart. Beleef die oomblikke saam met Jesus. Jy kan selfs een van die dissipels wees wat die donkie moet gaan soek en hom dan vind net soos Jesus gesê het. Sien die opgewondenheid van die mense wanneer Jesus aankom op die donkie, die klere wat hulle uittrek en voor Hom in die pad gooi, die takke… hoor die lied wat die mense voor en agter Jesus sing.
  2. Hoe kry Jesus die donkie waarop Hy Jerusalem inry in die hande? Wat dink julle hiervan? (Verse 1-6)
  3. Die manier waarop die skare Jesus ontvang herinner aan die ontvangs van ʼn oorwinnaar-koning. (Verse 6-10). Dink julle die klere, takke, die lied (Ps.118:26) was werklik ʼn koninklike ontvangs?
  4. Sê dit vir jou enigiets dat die Koning op ʼn donkie ry? Wat sou jy verwag het?
  5. Raak nou weer stil by die Here. Lees weer die gedeelte deur en let op die dinge wat vir jou uitstaan. Laat dit insink tot diep in jou hart. Sien hoe die Here deur hierdie ontmoeting met Hom, jou lewe verander.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Terwyl ons saam met Jesus in sy lyding is, is Hy ook saam met ons in ons s’n. Hy gebruik ons om mekaar te help dra aan die swaar dinge. Deel nou julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
 
Uitsending
Hoe kan ons as groep die nederige koningskap van Jesus gaan lewe in die week wat voorlê? Beplan saam aan konkrete aksies hoe julle saam met mense in hulle lyding kan wees en die Groot Lydensweek ook vir hulle anders kan gaan maak. Laat die Gees julle lei.