{ARGIEF}

met die sleuteltekste van die Leesrooster as basis

Vierde week in Lydenstyd

6 Maart
Lukas 15:1-3, 11b-32
Ysbreker
As jy jouself moet gaan verkoop in ’n winkel, hoeveel dink jy gaan jy werd wees? Is dit minder of meer as wat jy werklik werd is?
Lof en aanbidding
Loof en aanbid nou die Here met julle liedere en gebede. Daarna raak julle stil in die Here se teenwoordigheid en geniet die intieme oomblikke met Hom. Dink aan Hom wat met liefde na jou kyk en jou “My geliefde kind” noem. In die rus by Hom dink jy na oor oomblikke toe jy die afgelope week naby aan Hom gevoel het (’n “in-sy-huis-belewing”). Sê vir Hom dankie. Dink na oor oomblikke toe jy ver gevoel het van Hom (’n “ver-land-belewing”). Waar was Hy toe? Praat met Hom daaroor. Sit in stilte en beleef God se omhelsing. Na die stilte lees iemand Psalm 32:1-7 en die res bid die woorde in hulle harte saam.
Woord
Lukas 15:1-3, 11b-32

  1. Lees die gedeelte eers in stilte met jou hart en gaan staan in die middel van die gelykenis. Wees die jongste seun, die oudste seun, die pa wat wag. Dink na oor wat jy beleef en praat met die Here daaroor.
  2. Waarom vertel Jesus die gelykenis en wat wil Hy ons leer? (Verse 1-3)
  3. Deel met mekaar die ervarings van die jongste seun (Verse 11b-20). Hoe beleef julle die deel van die gelykenis en wat gaan in julle harte om wanneer julle dink aan die jongste seun?
  4. Wat sien ons van die pa in verhouding tot die jongste seun? (Verse 20b-24) Wat wil Jesus vir ons hierdeur leer?
  5. Hoe ervaar jy die oudste seun? (Verse 25-30) Hoe voel julle oor sy gesindheid? (Vgl. verse1-3). Sien ons vandag nog hierdie gesindheid?
  6. Wat sien ons van die pa se verhouding tot die oudste seun? (Verse 31-32)
  7. Het die oudste seun die fees vir sy broer bygewoon?

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel julle behoeftes met mekaar en bid dan vir mekaar.
Uitsending
Hoe gaan ons as groep in die week wat kom hierdie baie bekende gelykenis van Jesus leef?

Vyfde week in Lydenstyd

13 Maart
Jesaja 43:16-21
Iets nuuts
Ysbreker
Leef jy in die verlede of sien jy uit na nuwe dinge?
Lof en Aanbidding
Kom ons raak nou eers stil. Ons dink aan ons Here wat by ons is en dan sing ons aanbiddingsliedere om Hom mee te vereer. Die taize-liedere is nogal heel gepas vir hierdie tyd van die Kerkjaar. Kom dan tot rus en stap in stilte saam met die Here deur die afgelope week in jou lewe. Wanneer het jy Hom naby aan jou beleef? Sê vir Hom dankie. Dink dan oor die week wat voorlê en hoor sy woorde: “Ek gaan iets nuuts doen”. Hoe sien jy Hom in die nuwe week in jou lewe? Na die stil oomblikke lees iemand Psalm 126 terwyl die res dit in hulle harte sien gebeur in hulle lewe.
Woord
Jes.43:16-21

  1. Lees die gedeelte eers in stilte met jou hart en herhaal die woorde wat jou tref saggies in jou gebed. Hoor die Here se woorde en sien reeds hoe Hy ook in jou hart, lewe en omgewing “iets nuuts doen”.
  2. Waaraan laat verse 16 en 17 ons dink en wat sê dit vir ons oor ons God?
  3. Wat leer ons uit die Here se woorde in vers 18?
  4. Hoe lyk die “iets nuuts” waarvan die Here praat? (verse 19-21)
  5. Lees nou weer vers 21 en vergelyk dit met 1 Pet.1:9,10?
  6. Raak nou weer stil en lees weer die woorde van die gedeelte. Hoe verander hierdie woorde (nou in jou hart) jou lewe? Praat met die Here daaroor en gee jouself vir die “iets nuuts” oor aan Hom.

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Dank die Here dat hy hulle wat saam met jou bid ook nuutgemaak het en dra dan mekaar se behoeftes aan die Here op.
Uitsending
Hoe gaan die groep maak om hierdie boodskap by mense sonder hoop uit te kry in die week wat kom?

Sesde week in Lydenstyd (Palmsondag)

20 Maart
Jesaja 50:4-9a
Die seën van luister na die Here
Ysbreker
Op watter manier hou jy daarvan om soggens wakker gemaak te word?
Lof en aanbidding
Die fokus van ons lof en aanbidding is nou al meer op Jesus se Lydensweg gerig. Raak stil en sing liedere wat pas by hierdie tyd (Bv. Liedboek 384, 526, Vonkk 22). Kom dan tot rus en dink na oor die Here in die afgelope week in julle lewe. Dink na oor sy stem in jou lewe en jou luister na Hom. Na die oomblikke van rus lees iemand die woorde: Toe my gebed meer toegewyd en inniger geword het, het ek al hoe minder te sê gehad. Uiteindelik het ek stil geword, heeltemal stil… eers het ek gedink bid is praat. Maar ek het geleer bid is nie net swyg nie, dis luister. So is dit: Bid is nie om jouself te hoor praat nie, bid is om stil te word en te bly en te wag totdat jy God hoor. (Sören Kierkegaard)
Woord

  1. Lees die gedeelte met jou hart en beleef wat jy lees. Luister terwyl jy lees. Laat die woorde wat jou tref hulle rusplek vind in jou hart.
  2. Wat is besonder aan die Here en sy dienaar se verhouding met mekaar? (Verse 4-5)
  3. Lyk dit of die dienaar van die Here dit maklik het in die lewe? (Vers 6) (Vgl. ook 1Petrus 2:22-23)
  4. Het die dienaar van die Here nodig om Homself te verdedig? (Verse 7-9a)
  5. Raak nou weer stil en lees die gedeelte weer deur. Hoe verander die Here jou hart deur hierdie gedeelte in die Woord? Praat met Hom daaroor.

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe en deel julle behoeftes en bekommernisse met mekaar. Bid dan vir mekaar.
Uitsending
Hoe gaan ons iemand in ons omgewing die komende week met hierdie Skrifwoorde bemoedig?