{ARGIEF}

met die fokustekste van die Leesrooster as basis

Een-en-twintigste week in Koninkrykstyd

3 November
2Tessalonisense 1:1-4, 11-12
Daarom praat ons met trots van julle…
Ysbreker
Is daar iets in jou lewe waarop jy terugkyk en vir jouself sê: Ek is nou regtig trots daarop? Deel dit met ons.
Lof en aanbidding
Kom tot rus in die Here se geselskap. Dink aan Hom. Sien Hom veral in jou oomblikke van stilte in die Gemeente waarvan jy deel is. Waar is Hy die duidelikste sigbaar? Praat in stilte met Hom daaroor. Sing dan liedere waarmee julle Hom loof en aanbid. Iemand kan Psalm 119:137-144 voorlees terwyl die ander die woorde in hulle harte saambid.
Woord
2Tess.1:1-4, 11-12

  1. Lees eers die gedeelte in stilte met jou hart. Let op woorde of sinsnedes wat vir jou uitstaan. Beleef die gemeente aan wie Paulus hier skryf. Laat dit afsak tot in jou hart.
  2. Aan wie behoort die gemeente en waarvan “leef” die gemeente? (Verse 1,2)
  3. Wat staan uit van die gemeente wanneer Paulus aan hulle dink? (Vers 3,4) Dink nou vir ’n paar oomblikke aan die dinge in jou gemeente waaroor jy met trots (dankbaarheid) praat.
  4. Na die dank aan God, bid Paulus vir die gemeente. Wat bid hy? (Verse 11-12). Hoe sal jy hierdie gebed in jou eie woorde vir jou gemeente bid.
  5. Gesels oor die woorde van Henri Nouwen: “Om die kerk lief te hê is ons heilige plig. Sonder ware liefde vir die kerk kan ons nie met vreugde en vrede daarin leef nie. En sonder ’n ware liefde vir die kerk, kan ons nie mense daarheen uitnooi nie.”
  6. Raak stil. Dink na oor jou gemeente. Dink aan die dinge wat die Here jou skenk deur die gemeente. Praat in jou hart met Hom daaroor.

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Bevestig mekaar deur vir mekaar te vertel watter dinge julle van mekaar waardeer. Deel dan julle behoeftes met mekaar en bid dan vir mekaar.
Uitsending
Hoe gaan hierdie groep in die komende week met mense praat oor die gemeente?

Twee-en-twintigste week in Koninkrykstyd

10 November
2Tessalonisense 2:1-5, 13-17
Hy het aan ons sy liefde bewys…
Ysbreker
Hoe voel jy gewoonlik wanneer jy dink oor die toekoms?
Lof en aanbidding
Kom tot rus by die Here. Dink aan Hom wat in liefde na jou kyk. Kyk terug oor jou dag en sien die geskenke, seëninge en gawes (wees spesifiek) wat Hy in hierdie dag vir jou gegee het en sê in stilte vir Hom dankie. Gee julleself dan as groep aan Hom in lof en aanbidding met liedere en gebede. Iemand kan Psalm 145:1-16 lees terwyl die res dit in hulle harte saambid.
Woord
2Tess.2:1-5, 13-17

  1. Lees eers weer die gedeelte in stilte deur. Hoor die stem van die Here en sien die woorde wat vir jou uitstaan, raak en “herkou” dit. Sien hoe jou lewe verander wanneer die woorde deel word daarvan.
  2. Hoe sou ons verse 1-5 vir mense in ons taal verduidelik? (Pas tog op vir die ou-ou geneigdheid om te etiketteer)
  3. Waarvoor dank Paulus die Here? (Vers 13-14). Hoe pas ons in hierdie gebed in?
  4. Watter opdrag kry die gemeente van hom en hoe sal ons dit prakties doen? (Vers 15)
  5. Hoe seën hy die gemeente in verse 16-17? Hoe kan ons hierdie woorde gebruik om mekaar en ander te seën?
  6. Raak nou weer stil voor die Here. Lees weer die woorde van die gedeelte wat jou opgeval het en sien die verandering wat die Here deur sy Woord in jou lewe bring.

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel julle besorgdheid oor die toekoms met mekaar. Bemoedig dan mekaar en bid dan vir mekaar.
Uitsending
Hoe gaan die groep verse 13-17 hierdie week in die omgewing uitleef. Beplan saam.

Drie-en-twintigste week in Koninkrykstyd

17 November
2Tessalonisense 3:6-13
Moenie moeg word om goed te doen nie…
Ysbreker
Is jy ’n “so veel as moontlik mens” of “so min as moontlik”?
Lof en Aanbidding
kom ons bring so ’n paar oomblikke ons woelige gedagtes tot rus. Sit gemaklik. Asem diep in en uit. Fokus op jou asemhaling en voel hoe jy van jou nek af tot by jou tone tot rus kom. Fokus net op die Vader, Seun en Heilige Gees. Rus by Hom. Na die oomblikke van stilte sing ons Lieder waarmee ons Hom loof en aanbid. Iemand kan Psalm 63:1-9 voorlees en die ander beaam dit in hulle harte.
Woord
2Tess.3:6-13

  1. Lees eers die gedeelte met jou hart en sien die prentjie wat hier geskets word. Sien reeds hoe die die Here deur sy Woord veranderinge in jou lewe bring deur hierdie woorde. Watter woorde staan vir jou uit?
  2. Wat was die probleem in die omgewing van die gemeente? (Verse 6-10)
  3. Wat was die gevolge van die probleem? (Verse 11-12)
  4. Waartoe moedig Paulus die gemeente aan? (Vers 13)
  5. Hoe anders sal dit rondom ons lyk wanneer mense “nie moeg word om goed te doen nie”? Dink nou in stilte daaroor.

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel julle behoeftes met mekaar en bid dan vir mekaar.
Uitsending
Hoe kan ons in die maand wat voorlê hierdie gedeelte uit die Woord leef?

Vier-en-twintigste week in Koninkrykstyd

24 November
Kolossense 1:11-20
Die Seun is die beeld van God…
Ysbreker
Wie se trekke vertoon jy die meeste, jou pa of ma s’n?
Lof en Aanbidding
Kom tot rus by die Here jou God. Dink aan Hom in die week wat so pas verby is. Waar was Hy toe dit vir jou gevoel het dit gaan met jou goed? Praat in stilte met Hom daaroor. Loof en aanbid Hom dan met liedere. Iemand kan die volgende gebed lees terwyl almal dit saam bid: “Jesus, opgestane Heer, U kyk na die hart, nie die uiterlike vertoon nie. In die diepte van ons siel roep ons soms: Christus Jesus, ek is U nie werd nie, maar sê net ’n woord en my hart word rustig, heel. Dit is nie U, Christus, wat diep in my angs en benoudheid gee nie, maar U gedurige teenwoordigheid maak die blydskap om in U te lewe in my wakker” (Broer Roger van Taizé)
Woord
Kol.1:11-20

  1. Lees weer die gedeelte eers in stilte met jou hart. Beleef die woorde wat hier geskryf staan. Sien Jesus, soos Hy hier aan ons gewys word. Laat die woorde tot diep in jou hart insak.
  2. Hoe bemoedig die woorde van Paulus in verse 11-14 vir julle?
  3. Wat lees ons oor die skepping in verse 15-17? Wat beteken dit vir ons?
  4. Wat doen God wanneer Hy in Jesus na ons toe kom? (Verse 18-20)
  5. As julle nou in julle eie woorde hierdie “lied” oor die Seun sou skryf, wat sou jy oor Hom sê?
  6. Raak nou stil en dink ’n oomblik aan die teksgedeelte en die Seun se lewensveranderende betrokkenheid in jou eie en ander se lewe.

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Neem mekaar se hande en dank die Here vir iets spesifiek waar jy Hom in jou broer/suster gesien het. bid dan vir mekaar se behoeftes.
Uitsending
Op watter manier kan ons hierdie besondere Seun teenwoordig gaan maak in ons omgewing?
Hierdie materiaal is opgestel deur Adriaan Haasbroek, Lambertsbaai, a3aanh@telkomsa.net