{ARGIEF}

Vir huiskerke en selgroepe met die Leesrooster tekste as basis


Drie-en-twintigste week in Koninkrykstyd
28 Oktober
Markus 10:46-52
Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?
Ysbreker
Wat is jou grootste wens?
 
Lof en aanbidding
Fokus op die Here en sing vir Hom liedere waarmee julle Hom met blydskap loof en aanbid. Kom dan tot rus by Hom. Sien jou Here wat in liefde by jou kom staan. Hoor hoe Hy jou vra: Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen? Deel dit wat in jou hart brand met Hom. Dalk is daar nou iemand in die groep wat jy in jou stilte na Hom wil bring. Iemand lees na die oomblikke van stilte Psalm 34:1-11. Herhaal die woorde “Here, U het gehoor…” drie maal fluisterend.
 
Woord
Mark. 10:46-52

  1. Lees die gedeelte eers in stilte en beleef die verhaal asof jy daar is. Jy kan dalk die blinde Bartimeus wees wat hoor Jesus is in die omtrek. Wat gebeur in jou wanneer jy hoor Jesus is naby jou? Of dalk is jy deel van die skare wat hom stilmaak? Of dalk is jy die een wat hom help om by Jesus uit te kom. Hoor Jesus se stem. Praat in stilte met die Here oor jou belewing.
  2. Wat raak nou wanneer jy verse 46-47 lees?
  3. Hoe reageer die baie mense, en wat maak die blinde bedelaar? (Vers 48) Wat leer ons hieruit?
  4. Jesus gaan staan. Wat gebeur wanneer Jesus gaan staan? (Verse 49-52)
  5. Wat (Wie) dink julle is die eerste wat die blinde bedelaar sien wanneer hy sy sig terug ontvang? Wat doen hy dadelik na hy weer kan sien? (Vers 52)
  6. Raak nou weer stil by die Here. Lees weer die woorde wat jou tref. Hoor Jesus se stem: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” Wat antwoord jy? Sien hoe jou lewe verander en nuut word.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel julle behoeftes met mekaar en lei mekaar dan in gebed na die Here toe.
 
Uitsending
Na wie gaan die groep in die week om hom/haar na Jesus te bring? Vir wie gaan julle bid?
 
Vier-en-twintigste week in Koninkrykstyd
4 November
Hebreërs 9:11-14
Sodat ons die lewende God kan dien
Ysbreker
Wie ken jy wat vir jou die lewe bietjie beter gemaak het en hoe?
Lof en aanbidding
Ons gee nou onsself aan ons Here met ons lof- en  aanbiddingsliedere. Daarna raak ons stil by die Here. Ons is nou saam met Hom in die heiligdom. Iemand kan die volgende gebed lees met tussenposes van stilte. Word stil. Wees stil. Alleen. Leeg voor jou God – sê niks nie. Vra niks. Wees stil. Laat jou God na jou kyk. Dit is al. God weet. God verstaan. God het jou lief met ‘n enorme liefde, en wil net na jou kyk met daardie liefde. Stil. Rus. Wees. Laat jou God jou liefhê.
 
Woord
Heb. 9:11-14
(Dit is wenslik om die eerste tien verse net vinnig as agtergrond te lees. Die leier kan dit lees saam met die gedeelte vir vandag)

  1. Lees eers weer die gedeelte in stilte met jou hart. Staan stil by woorde of sinsnedes wat vir jou uitstaan en jou hart raak. Herhaal die woorde in jou hart. Wat doen dit in jou?
  2. Wat het Christus as Hoëpriester kom doen? Wat beteken dit vir jou? (Verse 11-12)
  3. Hoe het dit in die ou verbond gewerk? (Vers 13)
  4. Wat doen Christus, ons Hoëpriester, wanneer Hy Homself vir ons offer? Wat maak dit van ons? (Vers 14)
  5. Kom nou weer tot rus en lees die gedeelte rustig deur. Beleef hoe jy saam met Hom in die heiligdom is en ewig verlos is. Dink na oor hoe jy die lewende God dien. Hoe verander die ewige Gees jou?

 
Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Vertel eers vir mekaar van die mooi dinge wat julle in mekaar raaksien, deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
 
Uitsending
Na wie gaan die groep die week om hulle te nooi om die heerlikheid van hierdie byeenkomste saam met julle te beleef?
 
Vyf-en-twintigste week in Koninkrykstyd
11 November
Hebreërs 9:24-28
Die volkome offer
Ysbreker
Hoe voel jy wanneer jy jou opoffer vir mense en niks terug ontvang nie?
 
Lof en aanbidding
Geniet nou net die nabyheid van die Here en loof en aanbid Hom met julle liedere. Kom dan tot rus en dink aan Hom wat in liefde by jou is en na jou kyk. Rus net by Hom. Dink aan een ding wat Hy jou gegee het waarvoor jy nou wil dankie sê. Dink ook daaraan dat Hy Homself aan jou gegee het. Sê dankie. Iemand sluit die stilte af met die lees van Psalm 127:1,2.
 
Woord
Heb.9:24-28

  1. Lees eers die paar verse in stilte. Herhaal die woorde wat jou raak in jou hart. Dink na oor wat die woorde in jou binnewêreld doen. Praat met die Here jou God daaroor.
  2. Waarom het Christus in die heiligdom ingegaan? Wat beteken dit vir ons? (Vers 24)
  3. Hoe raak die feit dat Hy Homself geoffer het vir ons? (Verse 25-26)
  4. Waarvoor verskyn Jesus tweemaal? (Verse 27-28) Wat beteken dit as ons vir mekaar sê: “Nou is jy vry om te gaan wees wie jy in Christus is”?
  5. Raak nou weer stil en lees weer die gedeelte. Sien jouself saam met jou Here voor die Vader. Die Vader kyk na jou met liefde, sonder enige oordeel, Hy sien geen sonde nie, dit is weggeneem. Wat wil jy vir Jesus sê? Wat is in jou hart om met jou Vader te deel.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Sit net eers bietjie saam stil en sien julleself in die heiligdom. Deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
 
Uitsending
Hoe gaan die groep die offer wat die Here gebring het gestalte gee in die omgewing?
 
Ses-en-twintigste week in Koninkrykstyd
18 November
(Ons gaan nog die week die Hebreërs-siklus doen ter wille van afsluiting}
Hebreërs 10:11-14; 19-25
Met vrymoedigheid na God…
Ysbreker
In wie se geselskap voel jy so tuis dat jy graag daar wil bly? Hoekom?
 
Lof en aanbidding
Sing nou vir die Here lof en aanbiddingsliedere. Kom dan tot rus by Hom. Dink aan jou Vader op die genadetroon wat met liefde na jou kyk en vir jou sê: “Noem My, jou Vader”, en aan die Seun aan die regterhand wat by jou kom staan met die woorde: “Noem my Vader jou Vader”, en aan die Gees wat diep binne jou uitroep: “Abba, Vader”. Beleef die heerlikheid van die heiligdom waarin jy nou tuis mag wees. Herhaal die woordjie “Vader” driemaal. Almal bid na die stilte saam hardop die Onse Vader.
 
Woord
Heb.10:11-14; 19-25

  1. Lees die gedeelte in stilte en beleef die woorde wat vir jou uitstaan, asof jou naam geskryf staan langs die gedeelte. Herhaal die woorde in jou hart. Sien hoe dit jou verander.
  2. Hoe vergelyk die offer wat die priester bring met die wat Jesus gebring het? (Verse 11-14)
  3. Hoe het die bloed van Jesus ons lewe verander? (Verse 19-21)
  4. Omdat Jesus vir ons die pad oopgemaak het na God toe, word ons aangemoedig om drie “laat ons”-dinge te doen. Wat is dit (Verse 22-24)
  5. Dink julle dat die Gemeente samekomste ook die belewing van die heiligdom is? Hoe (Vers 25)
  6. Lees weer die gedeelte met jou hart. Laat die woorde wat jou getref het, insink tot diep in jou Hoe verander die woorde jou lewe? Praat met die Here daaroor.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar. Deel julle behoeftes met mekaar en bid dan vir mekaar.
 
Uitsending
Hoe kan ons die boodskap van hierdie gedeelte tuisbring in ons eie Gemeente?
 
Sewe-en-twintigste week in Koninkrykstyd
25 November
Openbaring 1:4b-8
Die Alfa en Omega
Ysbreker
Wat is die mooiste kinderverhaal wat jy nog gesien of gehoor het? Hoekom?
 
Lof en aanbidding
Gee julleself met julle lof en aanbidding aan God. Kom dan tot rus by Hom en dink aan Hom. Sien hoe Hy met liefde na jou kyk. Laat Hom saam met jou deur jou week stap. Op watter stadium was jy die meeste bewus van sy teenwoordigheid? Wanneer het jy van Hom vergeet? Praat met die Here daaroor. Iemand kan sluit met hierdie gebed van Jorg Zink: “U is die Lig wat van bo afskyn, die lewe wat van bo kom, die Gees wat van bo met ons praat. Stuur u Gees uit die hoogte sodat ek nie met myself praat wanneer ek bid nie, maar met U. Dat ek nie myself hoor as ek luister nie, maar vir U. Dat ek in U lewe en nie net in myself nie. Dat U in my kan wees en nie net bo my nie. Nabye God. Op hierdie aarde wag ek op U.”
 
Woord
Openb.1:4b-8

  1. Lees die gedeelte weer in stilte biddend. Watter woorde raak jou? Herhaal dit en laat dit afsak tot diep in jou hart. Wat doen die woorde aan jou? Praat met die Here daaroor.
  2. Wat beteken die groete-woorde in verse 4b-5a vir jou persoonlik?
  3. Wat het Hy alles gedoen vir ons? (Verse 5b-6)
  4. Hoe lyk die toekoms? (Verse 7-8)
  5. Sluit nou af met stil gebed waarin jy die Here gee om weer alles, van die A tot die Z in jou lewe te wees.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel die dinge wat in jou hart leef met mekaar, saam met julle behoeftes. Bid dan vir mekaar.
 
Uitsending
Na watter eensame mens in julle omgewing gaan die groep in hierdie tyd uitreik?
 
Opgestel deur Adriaan Haasbroek, Lambertsbaai, a3aanh@telkomsa.net