{ARGIEF}

Vyftiende week in Koninkrykstyd
1 September
Jeremia 2: 4-13
Waterbakke wat bars!
Ysbreker
Hoe bemoedig jy gewoonlik ouers wie se kinders hulle teleurgestel het en vra: “Waar het ek gefaal?”
Lof en Aanbidding
Kom tot rus by die Here en dink vir ’n oomblik aan die liefde waarmee Hy nou na jou kyk. Dink na oor die week wat verby is. Hoe bewus was jy van God wat elke oomblik van die dag by jou is? Praat in stilte met Hom daaroor. Sing dan vir die Here waarmee julle Hom loof en aanbid. Iemand kan Psalm 81:2, 11-17 voorlees terwyl die ander dit in hulle harte saambid.
 
Woord
Jer. 2:4-13

  1. Lees eers die gedeelte in stilte op jou eie deur. Sien die prentjie wat hier geskilder word voor jou. Hoor  God se teleurstelling. Sien alles wat Hy in liefde vir sy volk gegee en gedoen het en hoe hulle daarop reageer.
  2. Die beeld van ’n hofsaak word hier geskilder en die Here se eie volk word aangekla. Hoe begin die Here met hierdie saak? (Vers 5) Klink dit ook of Hy soos byna elke ouer die fout by Homself soek?
  3. Wat het die voorvaders alles aangevang? (Verse 5-7)
  4. En die priesters, konings en profete? (Vers 8)
  5. Op wie het die voorvaders se optrede nog ’n uitwerking? (Vers 9)
  6. Wat is onverstaanbaar vir die Here? (Verse 10-12)
  7. Wat verstaan julle onder die twee sondes wat die Here hier uitsonder? (Vers 13) wat beteken die beeld wat Hy gebruik?
  8. Kan dit gebeur dat ’n mens God en sy geskenke so as vanselfsprekend aanvaar dat jy nie meer aan Hom dink nie en selfs jou rug op Hom draai? Praat in stilte met Hom daaroor.

 
Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar. Deel eers met mekaar hoe julle die teenwoordigheid van die Here die afgelope week in julle lewens ervaar het, deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar
 
Uitreiking
Hoe gaan ons hierdie woorde in ons gemeente en gemeenskap lewe? Beplan saam.
 
Sestiende week in Koninkrykstyd
8 September
Jeremia 18:1-11
Soos klei in die pottebakker se hand
Ysbreker
Wanneer jy iets probeer maak en jy kry dit nie die eerste keer reg nie, probeer jy weer of gee jy moed op?
 
Lof en Aanbidding
Raak stil by die Here. Dink ’n paar oomblikke na oor sy betrokkenheid in jou afgelope week. Waar het jy op jou naaste aan Hom gevoel? Wanneer het dit vir jou gevoel die Here is ver? Waar was Hy toe? Praat in stilte met Hom daaroor. Loof en aanbid Hom dan saam. Iemand lees die gebed in Psalm 139:1-6, 13-18 voor en almal bid dit dan in hulle harte saam.
 
Woord
Jer. 18:1-11

  1. Lees die verse weer in stilte. Sien die beeld van die pottebakker wat iets uit klei probeer maak, maar misluk en dan weer probeer tot hy sien wat hy graag wil hê. Sien jouself dan in die hand van die Here en praat in stilte met Hom oor jou ervaring.
  2. Wat wil die Here vir Jeremia wys? (Verse 1-4) Dink jy dat die Here vandag nog vir jou sekere gewone dinge wys in jou daaglikse lewe?
  3. Dan verduidelik Hy dit wat Hy vir Jeremia laat sien het. Hoe? (Verse 5-10) Wat wil die Here hier vir Jeremia sê?
  4. Dit lyk asof die probleem met die mislukking by die klei in die hand van die Pottebakker lê. Hoe gaan dit opgelos word? (Vers 11)
  5. Raak nou weer stil voor die Here. Dink aan jouself as die klei in die hand van die Here. Volgens watter beeld vorm Hy jou? (Vgl.Gal.2:20) Sien in jou gedagtes hoe jy lyk as jy soos Jesus lyk.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Vertel vir mekaar van die mooi dinge wat julle in mekaar raaksien en hoe dit julle inspireer. Deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
 
Uitreiking
Maak hierdie week tyd om as groep vir net ’n halfuur 2-2 bymekaar te kom om saam te bid.
 
Sewentiende week in Koninkrykstyd
15 September
Jeremia 4:11-12, 22-28
Moedswillige kinders…
Ysbreker
Verduidelik vir mekaar uit julle eie ervaring wat julle verstaan onder die woordjie “moedswillig”.
 
Lof en Aanbidding
Kom tot rus by die Here en dink vir ’n paar oomblikke aan Hom. Stap weer so ’n bietjie deur jou week en sien Jesus wat saam met jou die pad stap. Waar was jy die meeste bewus van Hom? Praat in stilte met Hom daaroor. Loof en aanbid Hom daarna met liedere.
 
Woord
Jer.4:11-12, 22-28

  1. Lees die verse in stilte biddend en beleef dit wat die Here deur Jeremia vir sy volk sê. As jy in God se oë kyk, wat sien jy? Praat in jou hart met die Here oor die dinge wat jy nou in jou hart beleef.
  2. Hoe lyk God se planne vir sy volk en vir hierdie ou aarde wat deur sy mense bewoon word? (Verse 1-12, 23-28)
  3. Waarom wil Hy hierdie oordeel voltrek? (vers 22) Hoe lyk dit in ons daaglikse lewe?
  4. Die groot vraag is: Verdien God se eie kinders hierdie oordeel? Hoe dink julle?
  5. Wanneer voltrek God hierdie oordeel? (Vgl. Luk.23:44-49)
  6. Hoe verander die Here jou lewe deur hierdie gedeelte in sy Woord? Dink daaroor na en antwoord Hom in stilte.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel julle behoeftes met mekaar en bid dan vir mekaar.
 
Uitreiking
Beplan saam na wie en hoe die groep in die komende week gaan uitreik om die lewende Here teenwoordig te gaan maak.
 
Agtiende week in Koninkrykstyd
22 September
Jeremia 8:18-9:1
Die profeet se smart
Ysbreker
Hoe betrokke raak jy gewoonlik by mense wat in erge nood verkeer? Op ’n afstand, of so naby dat jy hulle pyn aanvoel?
 
Lof en Aanbidding
Raak stil by die Here en probeer nou by al jou gedagtes verby tot rus by Hom kom. Sit gemaklik en haal diep asem terwyl jy fokus op jou asemhaling. Fokus dan jou gedagtes op die beeld van God wat jy graag wil sien. Geniet die stil oomblikke saam met Hom. As jy graag iets vir Hom wil sê, maak dit dan ’n  woord van liefde uit jou hart. Na die stilte sing die groep vir die Here liedere wat Hom loof en aanbid.
 
Woord
Jer.8:18-9:1

  1. Lees nou die gedeelte eers in stilte. Die profeet is in trane oor sy “gemeente”. Beleef die pyn van die profeet asof dit jy is wat so vir jou mense voor Hom intree. Praat in stilte met die Here daaroor.
  2. Jeremia is hier besig om sy hart (en die volk se hart) voor die Here uit te stort. Hoe voel hy oor sy volk? (Verse 18-19a, 20-9:1)
  3. So terwyl Jeremia bid, antwoord die Here al. Wat is sy volk se groot probleem? (Vers 19b) Verdien hulle die verskriklike swaarkry?
  4. Hoe bid jy gewoonlik vir jou gemeente en wêreld? Hoe dink jy bid jou dominee vir sy lidmate en wêreld waarin hulle moet lewe?
  5. Hoe antwoord die Here uiteindelik op Jeremia se gebed? (Vgl. 1Tim.2:3-6) Is dit vir jou ’n bevredigende antwoord?
  6. Raak nou stil by die Here. Dink aan jou gesin, jou gemeente, jou land en die wêreld waarin jy lewe. Wat sien jy? Sien nou vir Jesus in die prentjie. Sien Hom wat as losprys kom ontvang wat ons almal verdien. Sien Hom in jou gesin, jou gemeente, jou leefwêreld. Hoe verander Hy jou lewe?

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Dank die Here dat julle Hom in mekaar kan raaksien. Deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
 
Uitreiking
Hoe kan ons hierdie week vir Jesus teenwoordig gaan maak in ons wêreld?
 
Negentiende week in Koninkrykstyd
29 September
Jeremia 32: 1-3a, 6-15
Ek koop grond… ten spyte van…
Ysbreker
Hoe bemoedig jy iemand wat voel hy het in ’n doodloopstraat beland en daar is nie uitkoms nie.
 
Lof en Aanbidding
Raak stil by die Here. Dink terug oor jou dag vandat jy vanoggend opgestaan het. Sien die geskenke wat die Here jou kom gee het (selfs in die klein dingetjies wat jy dalk nie toe raakgesien het nie). Sien ook hoe Hy Homself vandag aan jou gegee het. Dank Hom in stilte. Loof en aanbid Hom dan met liedere. Daarna lees iemand Psalm 91:1-6, 14-16 voor. Die res bid die Psalm in hulle harte. Jy kan die woorde “U is my God op Wie ek vertrou” saggies in jou hart herhaal.
 
Woord
Jer.32:1-3a, 6-15

  1. Lees die verse biddend in stilte deur. Sien jouself in die plek van Jeremia wat onder huisarres is. Sy stem as profeet word stilgemaak. Maak die opdrag van die Here sin? Sien hoe jy self lewe in uiters moeilike omstandighede. Wat vra die Here vir jou in hierdie omstandighede? Praat in stilte met Hom daaroor.
  2. Wat is die omstandighede waaronder Jeremia in hierdie tyd moet lewe? (Vers 1-3)
  3. Is die opdrag wat die Here vir Jeremia gee nie baie vreemd vir sy omstandighede nie? (Verse 6-14)
  4. As Jeremia se stem stilgemaak word, moet hy die boodskap van die Here bring deur sy lewe. Wat wil die Here vir die koning en Jeremia se mense sê deur hierdie opdrag? (Vers 15)
  5. Dink nou vir ’n paar oomblikke na oor hierdie woorde uit die Bybel in Praktyk: “Dit is geloof: om ten spyte van omstandighede wat ’n mens wil oorweldig, met die gewone lewe voort te gaan in die vertroue dat God sy goeie werk in jou lewe enduit sal voer (Fil.1:6). ’n Mens sien dit in die gesin wat die lewe voortsit na die dood van ’n geliefde, in die boer wat weer opstaan na ’n knellende droogte, in die slagoffer van ’n egskeiding wat nog tyd vind om na ander in nood uit te reik. Sien mense dit ook in jou lewe?” (p. 1111)

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel eers julle drome met mekaar en dan julle behoeftes. Bid vir die drome en behoeftes.
 
Uitreiking
Dink aan mense in julle omgewing wat voel hulle is vasgeloop en sien geen lig voor hulle nie. Hoe gaan die groep hulle bemoedig en ondersteun met hierdie Skrifgedeelte?
 
 
 
Hierdie materiaal is opgestel deur Adriaan Haasbroek, NG Kerk Lambertsbaai, a3aanh@telkomsa.net