{ARGIEF}

vir huiskerke en selgroepe met die Leesrooster sleuteltekste as basis.

Tweede Week na Epifanie

20 Januarie
1Kor.12:1-11
Elke lidmaat is nodig
Ysbreker
Hou jy daarvan om deel te wees van ‘n span, of verkies jy om dinge alleen te doen? Vertel ons daarvan.
Lof en aanbidding
Fokus nou op die Here in julle midde. Sing vir Hom liedere waarmee julle Hom loof en aanbid. Kom dan tot rus en dink aan Hom in jou lewe. Sien Hom wat in liefde by jou is en in jou lewe en werk. Hoe het Hy die afgelope week in jou en deur jou gewerk in die Gemeente en in ander se lewe? Dank Hom daarvoor. Iemand sluit die oomblik af met die lees van Psalm 36:6-10. Herhaal die woorde “U is die bron van die lewe, deur u lig lewe ek”.
Woord
1Kor.12:1-11

  1. Lees die gedeelte in stilte en let op woorde en sinsnedes wat vir jou uitstaan. Herhaal die woorde in jou hart en laat dit deel word van jou lewe. Praat in stilte met die Here daaroor.
  2. Wat was die probleem in die gemeente van Korinte rondom die “gawes van die Gees”? (Vers 1). Wat is ons probleem vandag?
  3. Wat is die eerste gawe of geskenk wat die Heilige Gees gee? (Vers 3)
  4. Hoe werk die drie-enige God om sy Gemeente lewend te jou? (Verse 4-6)
  5. Aan wie word ‘n werking van die Gees gegee en tot wie se voordeel? (Verse 7-10). Kan julle dink aan nog genadegawes, bedieninge en werkinge wat julle vandag gebruik in diens van die Gemeente en wêreld rondom julle?
  6. Kan ons aan die Gees voorskryf? (Vers 11)
  7. Lees nou weer die gedeelte in stilte. Raak bewus van die Here wat deur sy Gees in jou woon en werk. Dink aan iets spesiaal wat die Gees jou gee om in diens van jou Here te gebruik in sy Gemeente. Praat met Hom daaroor.

Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Dink daaraan dat julle nou die geleentheid het om mekaar te bedien. Bid vir mekaar en die Gemeente waarvan julle deel is.
Uitsending
Hoe gaan ons hierdie boodskap in ons Gemeente tuisbring aan elke lidmaat?

Derde week na Epifanie

27 Januarie
1Kor.12:12-31a
Julle is die liggaam van Christus
Ysbreker
As jy moet weggaan van hierdie plek waar jy woon, waarvoor (iets uniek) sal jy wil hê die mense moet jou onthou?
Lof en aanbidding
Sing nou ‘n paar liedere waarmee julle die Here verheerlik. Raak dan stil en dink aan Hom in jou lewe die afgelope week. Rus by Hom. Geniet die stilte. Iemand lees dan Psalm 19 terwyl die res biddend luister.
Woord
1Kor.12:12-31a

  1. Lees die gedeelte eers in stilte en staan stil by woorde wat jou tref. Herhaal die woorde en laat hulle in sak tot in jou hart. Sien hoe jou lewe verander wanneer hierdie woorde deel word van jou lewe. Praat met die Here daaroor.
  2. Waarmee word die Gemeente van Christus vergelyk? (Verse 12-13)
  3. Uit hoeveel “lede” bestaan die Gemeente? (Verse 14-20). Wat leer ons hieruit?
  4. As een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly. Hoe word dit prakties aan ons verduidelik? (Verse 21-26)
  5. Julle is die liggaam van Christus… Hoe pas jy in hierdie liggaam in? (Verse 27-31a)
  6. Raak nou weer stil. Lees weer die woorde wat vir jou uitgestaan het. Gee jouself dan in gebed aan die Gees van Christus dat Hy in en deur jou kan doen wat Hy graag in die Gemeente wil doen.

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Vertel eers vir mekaar hoe julle die werk van die Gees in mekaar raaksien. Deel julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
Uitsending
Hoe gaan ons wees, dat almal rondom ons kan agterkom dat ons deel is van die liggaam van Christus, sy Gemeente?

Vierde week na Epifanie

3 Februarie
Psalm 71:1-6
Ysbreker
As jy kon kies, hoe sou jy graag wou oud word?
Loof en aanbid die Here
Kom ons raak nou eers stil in die Here se geselskap. Almal maak hulle oë toe en dink aan Hom en aan hulleself. Loof die Here in jou stilte vir dit wat Hy die afgelope tyd in jou lewe gedoen het. Sing daarna lofliedere tot Sy eer en aanbid Hom.
Woord
Is daar iets uit jou binnekamer van die afgelope week wat jou so getref het dat jy dit graag met jou groep wil deel?
Ps.71:1-6

  1. Lees die verse uit die Psalm in stilte as jou gebed. Wat spreek jou aan terwyl jy dit lees? Hoe antwoord jy die Here op dit wat Hy op jou hart lê?
  2. Die een wat hierdie Psalm skryf, het “oud geword”. Watter dinge dra hy aan die Here op in sy gebed? (Verse 1-4)
  3. Waaraan hou hy vas? (Verse 5, 6)
  4. As jy terugkyk, sien jy die Here daar van (voor) jou geboorte af. As jy vorentoe kyk noem jy die Here jou hoop. Is dit waar van jou?
  5. Hoe sal jy uit hierdie Psalm oud en jonk aan die begin van 2019 bemoedig?
  6. Raak nou weer stil en lees die eerste 6 verse van die Psalm. Neem jou tyd. Herhaal woorde wat jou raak. Sien hoe die Here jou deur hierdie Psalm verander.

Ons bid nou saam
Gee nou geleentheid dat die hele groep bid vir die Gemeente waarvan hulle deel is. Bid vir volkome eenheid in die Gemeente. Bid dat almal mekaar se gawes sal eer as komende van die Heilige Gees en dat alle nydigheid en afguns sal verdwyn. Bid dat 2019 die jaar sal wees waarin broers en susters gerig sal wees op mekaar met die doel om mekaar te bedien.
Seën mekaar
Gee nou 3-3 vir mekaar ‘n seënwens/groet uit julle harte uit. Probeer die seëngroet spesifiek maak en nie bloot iets algemeen (soos “Mag dit met jou goed gaan”) nie. Gaan dan in vrede.

Vyfde week na Epifanie

10 Februarie
Lukas 5:1-11
Hulle het alles net so laat lê en Sy volgelinge geword…
Ysbreker
Hoe vinnig het jy as kind gereageer as jou ouers jou ‘n opdrag gee (bv. om te help skottelgoed was, ens.)?
Lof en Aanbidding
Die groep raak nou stil en fokus op die Here. Gee so paar minute. Die Here is tussen ons. Dink in jou stilte aan Hom. Daarna loof en aanbid die groep die Here saam met liedere. Iemand kan Ps 138 lees en die ander luister met biddende harte. Fluister die woorde “U gee my nuwe krag, Here” drie maal.
Woord
Luk.5:1-11

  1. Lees weer in stilte die gedeelte. Beleef dit. Sien die see, voel die sand onder jou voete. Sien Jesus in die prentjie wat na jou kyk en jou “skuit” vir Sy bediening wil gebruik. Praat in stilte met Hom.
  2. Jesus ontmoet twee groepe mense wanneer Hy Sy eerste dissipels roep [die vissermanne in hulle werkplek en die skare wat Hom volg]. Wat sê dit vir ons van Jesus se manier van dissipels maak? (Verse 1-3)
  3. Wat dink julle is Jesus se doel met Sy opdrag aan Simon? (Verse 4-7)
  4. Hoe reageer Simon Petrus wanneer hy besef met Wie hy te doene het? (Verse 8-10a)
  5. Hoe stel Jesus hulle gerus? (Vers 10b)
  6. Wat lees ons in vers 11? Hoe verander Jesus jou lewe deur hierdie gedeelte?

Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Deel vanaand julle bekommernisse met mekaar en dra dan mekaar se roeping en behoeftes aan die Here op.
Uitsending
“Van nou af sal julle mense vang”. Wie is die eerste mens wat julle hierdie week gaan “vang” met die oog daarop om hom/haar Jesus se dissipel te maak?

Sesde week na Epifanie

17 Februarie
Lukas 6:17-26
Ek is geseënd!
Ysbreker
Watter dinge onthou jy beter, die goeie of slegte wat met jou gebeur?
Lof en Aanbidding
Raak eers stil en dink in jou stilte aan die Here. Eers Wie Hy is en dan wat Hy doen. Loof en aanbid Hom dan spontaan met liedere en gedeeltes uit die Woord en gebede. Sluit hierdie oomblik af deur saam te luister na Psalm 1. Luister na woorde wat vir jou uitstaan en herhaal hulle in jou hart.
Woord
Luk.6:17-26

  1. Lees die gedeelte in stilte en beleef Jesus se teenwoordigheid in die gedeelte. Hoor sy stem en dink wat dit aan en in jou doen. Dink aan die seën van Jesus in jou lewe. Hoe dit jou hele lewe verander.
  2. Bespreek die stelling: “Die grootste seën is om in Jesus se teenwoordigheid te wees” (Verse 17-18)
  3. Wie is almal volgens Jesus “geseënd”? [Let op, Hy praat nou spesifiek met Sy dissipels]. Gesels oor elkeen van die “geseënd-is-woorde”.
  4. Vir wie wag ellende? Vergelyk nou verse 20-23 met 24-26. Wat kom julle agter?
  5. Verstaan ons nie baiekeer die seën van die Here as dat dit net goed en voorspoedig met ons gaan nie? Wat leer die Woord ons vanaand?

Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Deel julle seer met mekaar. Belowe mekaar dat julle dit met niemand anders as die Here sal deel nie, en bid dan vir mekaar.
Uitsending
Beplan hoe julle hierdie week die seën waarmee julle geseën is, met die wêreld rondom julle gaan deel.

Sewende week na Epifanie

24 Februarie
Lukas 6:27-38
Soos julle self… soos julle Vader
Ysbreker
Hoe hanteer jy dit gewoonlik wanneer iemand vir jou ‘n groot geskenk gee of iets goeds vir jou doen sonder dat jy daarvoor gevra het?
Lof en aanbidding
Fokus nou weer op die Here jou God. Sing vir Hom liedere. Kom dan tot rus en dink aan Hom in jou lewe. Wanneer was jy die afgelope week besonder bewus van Hom in jou lewe? Praat met Hom daaroor. Gee dan jouself om by hierdie byeenkoms jouself onvoorwaardelik te gee aan elkeen in hierdie groep. Iemand kan die oomblik afsluit met die lees van Psalm 37:3-8. Herhaal die woorde: vertrou in stilte op die Here.
Woord
Lukas 6:27-38

  1. Lees die gedeelte in stilte biddend. Sien jouself in Jesus se woorde. Wanneer jy dit lees, aan wie dink jy? Hoe verander die woorde jou lewe? Praat met Hom daaroor
  2. Die liefde wat Jesus van sy dissipels vra is radikaal. Hoe moet jy jou vyand behandel? (Verse 27-30). Wat beteken die woorde “soos julle self behandel wil word” vir jou?
  3. Sonder om iets terug te verwag, is Jesus se eis. Jesus verduidelik prakties wat Hy bedoel met ons liefde ook vir hulle wat nie vir ons liefhet nie. Hoe werk dit in Jesus se hart? (Verse 31-36)
  4. Wie is ons maatstaf? (Vers 36)
  5. Wat leer Jesus ons van oordeel? (Verse 37-38)
  6. Raak nou weer stil. Oordink die woord wat jy gelees het. Bid vir hulle wat jou benadeel of seergemaak het by die naam. Draai in jou gebed die ander wang. Sien vir Jesus wat Homself gee om die wêreld te oortuig van God se liefde en barmhartigheid.

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Beleef saam die oneindige liefde van die Here in julle midde. Deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
Uitsending
Hoe kan ons hierdie woorde prakties gaan leef sodat ons stukkende wêreld kan heel word.
Opgestel deur Adriaan Haasbroek, Lambertsbaai, a3aanh@telkomsa.net