{ARGIEF}

met die sleuteltekste van die Leesrooster as basis

Sewende week in Paastyd

2 Junie
Psalm 97
Lig en blydskap
Ysbreker
Vertel mekaar hoekom jy graag vanaand se byeenkoms wil bywoon.
Lof en aanbidding
Sing nou vir die Here liedere wat getuig van julle verwondering in Hom. Kom dan tot rus en dink aan Hom in jou lewe die afgelope tyd. Vra Hom om Homself vir jou te wys op die pad wat jy geloop het. Wanneer was Hy op sy naaste aan jou? Hoe het dit jou lewe “anders” gemaak? Praat nou in stilte met Hom daaroor. Herhaal die woorde: “Here, ek het U lief, ek soek u lig, ek soek u blydskap”.
Woord
Ps. 97

  1. Lees die Psalm eers in stilte as gebed deur. Beleef wat in jou binneste gebeur wanneer jy die Here leer ken soos in hierdie Psalm. Sien reeds hoe jy verander deur net die Psalm te bid.
  2. Hoe word die Here-in-beheer beskryf in die eerste 7 verse van die Psalm? Wat raak jou?
  3. Hoe reageer die mensdom op hierdie God? (Verse 8-10)
  4. Wat beteken verse 11 en 12 vir julle? (Vgl.Joh.15:9-11)
  5. Raak nou weer stil by die Here. Lees die gedeeltes in die Psalm wat jou besonder aanspreek, praat met die Here daaroor. Dank Hom vir die lig en blydskap wat Hy gee.

Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Vertel eers vir mekaar van die mooi dinge wat julle in mekaar raaksien, deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
Uitsending
In wie se lewe kan julle hierdie week die Here se lig en blydskap gaan indra?

Pinksterfees en die week daarna

9 Junie
Handelinge 2:1-21
Die Kerk – ‘n wonder!
Ysbreker
Wat is jou geliefde woordjie wat jy gewoonlik gebruik as jy verbaas is en jou mond wil oopval?
Lof en Aanbidding
Hierdie week dink ons in besonder aan die Heilige Gees in ons midde. Terwyl julle die Here loof en aanbid, dink in besonder aan die Heilige Gees en laat Hom julle lof en aanbidding lei. Kom dan tot rus en geniet net die teenwoordigheid van ons Here deur sy Gees by julle. Dink aan Hom. Dink ook na oor dit wat jy graag wil hê Hy by hierdie byeenkoms in en deur jou moet doen. Sê dit vir Hom. Iemand lees Psalm 104:31-34 en die res bid dit saam.
Woord
Hand.2:1-21

  1. Lees die gedeelte eers in stilte en beleef wat hier gebeur, asof jy self in die verhaal is. Praat in stilte met die Here daaroor. Herhaal woorde of gedagtes wat vir jou uitstaan.
  2. Watter wonderwerk gebeur in die lewens van die paar mensies wat die afgelope tyd weggekruip het, onseker en bang was? Het jy al ooit ervaar dat jy skielik buitengewone krag kry om vir Jesus te getuig?
  3. Wat is die mense se reaksie op hierdie wonderwerk op Pinksterdag? (vers 13) Hoe reageer mense gewoonlik wanneer jy jou mond oopmaak om van Jesus te praat?
  4. Hoe verduidelik Petrus aan die skare wat gebeur het? Dink jy dat die profesie ook op jou toegepas kan word elke keer as jy getuig?
  5. Hoe beskikbaar is julle groep om deur die Heilige Gees gebruik te word om kragtig te getuig?
  6. Raak nou stil by die Here. Dink na oor hoe Hy jou die afgelope tyd gebruik het en of jy volkome tot sy beskikking oorgegee was. Gee jouself dan opnuut aan Hom.

Bedien mekaar
Neem nou 3-3 mekaar se hande en bid vir mekaar se behoeftes. Bid ook dat die Heilige Gees opnuut jou gebedsmaats sal vul met buitengewone krag sodat hulle spontaan sal getuig van Jesus en mense dit sal verstaan.
Uitsending
Na watter een persoon gaan jy hierdie week met die krag van die Heilige Gees om van Jesus te getuig. Noem die naam en almal skryf die naam neer om tuis vir jou te gaan bid.

Triniteitsondag en die week daarna

16 Junie
Johannes 16:12-15
Joh.16:12-15
Die eintlike werk van die Heilige Gees
Ysbreker
Watter onderwyser sal jy jou lewe lank onthou en hoekom?
Lof en Aanbidding
Raak rustig by die Here, asof jy een van die dissipels is met wie Hy hier aan die gesels is. Beleef Hom tussen julle. Bring nou met liedere en gebede ‘n lofoffer aan die Here. Doen dit totdat julle die teenwoordigheid van die Here beleef. Iemand kan Psalm 8 lees en die res beaam die lied in hulle harte.
Woord
Joh.16:12-15

  1. Lees weer die gedeelte in stilte deur. Luister weer na Jesus se woorde. Dink aan die Heilige Gees in en by jou en dit wat Hy eintlik in jou doen. Praat met Hom daaroor.
  2. Hoekom sê Jesus sal Sy dissipels die dinge wat Hy vir hulle sê nie nou kan begryp nie? (Vers 12)
  3. Wanneer sal hulle dit begryp? (Vers 13)
  4. Wat is die eintlike werk van die Heilige Gees? (Vers 14, 15)
  5. Raak nou weer stil by die Here. Hoe anders lyk jou lewe nadat jy hierdie gedeelte gelees, oordink en bespreek het? Praat in stilte met God daaroor.

Bedien mekaar
Begin nou deur julle liefde aan mekaar te toon. Draai 3-3 na mekaar. Praat julle harte uit met mekaar en bid vir mekaar.
Uitsending
Waar kan ons begin om mense die waarheid van dit wat die Heilige Gees doen te vertel?

Tweede week in Koninkrykstyd

23 Junie
Gal.3:23-29
Familie van Jesus
Ysbreker
Wie het gewoonlik beheer oorgeneem in julle huis as jou ouers nie daar was nie? Was jy tevrede daarmee?
Lof en Aanbidding
Maak nou genoeg tyd om bewus te word van die Here in julle midde, deur Hom te loof en te aanbid. Fokus totaal met julle harte, gedagtes en liggame op die Here.
Woord
Gal.3:23-29

  1. Lees eers die gedeelte met jou hart terwyl jy jouself raaksien in woorde en sinsnedes wat vir jou uitstaan. Herhaal die woorde saggies in jou hart en sien reeds hoe jou lewe verander wanneer die Here deur sy Gees jou aanraak met die woorde.
  2. As julle die doel van die wet in julle eie woorde moet beskrywe, hoe sal dit klink? (verse 23-25)
  3. Wat het toe gebeur na Jesus se koms? (vers 26)
  4. Hoe lyk Jesus se familie? (verse 28,29)
  5. Hoe sal jou lewe lyk as jy die beheer van jou hele lewe aan Hom oorgee? Raak nou stil by die Here. Lees die woorde van die gedeelte as jou gebed. Sien hoe Hy jou lewe nuutmaak deur hierdie Bybelverse.

Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Deel julle behoeftes met mekaar – belowe mekaar om dit vertroulik te hou – en bid dan vir mekaar.
Uitsending
Is daar op die oomblik iemand wat jy graag in God se familie wil sien? Wie is dit? Gaan gooi hierdie week ‘n draai by hom/haar.
Gaan dan uitmekaar met ‘n woord van seën vir mekaar.

Derde week in Koninkrykstyd

30 Junie
Galasiërs 5:1, 13-25
Werklik vry!
Ysbreker
Wat bedoel jy wanneer jy sê: “Ek is vry!”?
Lof en aanbidding
Sing vir die Here liedere waarmee julle Hom loof en aanbid met blydskap in julle harte. Raak dan stil en fokus op Hom. Rus in sy teenwoordigheid en beleef Hom by jou. Dink saam met Hom aan oomblikke die afgelope week toe jy werklik gevoel het jy is vry, naby aan Hom en Hy aan jou. Praat met Hom daaroor. Iemand lees Psalm 77:1-2, 11-20 en die res bid dit saam.
Woord
Gal. 5:1, 13-25

  1. Lees die gedeelte in stilte met biddende harte en sien jouself in die woorde wat Paulus hier skryf. Let op woorde en sinsnedes wat die Here deur sy Gees op jou hart druk. Herhaal hulle saggies. Sien hoe jou lewe verander.
  2. Wat beteken 5:1 vir julle persoonlik? (Vgl.Joh.8:35-36)
  3. Hoe lyk dit in ‘n gemeente wanneer mense hulle vryheid as verskoning of as vanselfsprekend gebruik? (Verse 13-15)
  4. Wanneer die Gees ons lewe beheer, of ons lei, gebeur daar sekere dinge in ons. Wat is dit? (Verse 16-18, 24-25)
  5. Plaas nou die praktyke van die sondige natuur (verse 19-21) langs die vrug van die Gees (verse 22-23). Wat kom julle agter? Wie sien ons, wanneer ons die vrug van die Gees leef?
  6. Raak nou weer stil by die Here. Lees weer die woorde wat vir jou uitstaan in die gedeelte en herhaal hulle saggies in jou hart. Vertrou die Here dat Hy deur sy Gees vir jou die vrug volkome sal gee.

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Vertel mekaar watter deel van die vrug van die Gees vir jou uitstaan in jou broer/suster. Deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
Uitsending
Hoe gaan die groep die vryheid wat hulle ontvang het in die volgende week deel met die mense in die omgewing?