{ARGIEF}

met die sleuteltekste van die Leesrooster as basis
Tweede week in Paastyd
28 April
Handelinge 5:27-32
Ons is getuies van die opstanding
Ysbreker
Oor watter groot gebeurtenis in jou lewe kan jy nie uitgepraat raak nie?
 
Lof en aanbidding
Fokus op die Here en sing vir Hom liedere waarmee julle Hom loof en aanbid. Kom dan tot rus en raak bewus van die lewende Here in julle midde. Dink daaraan dat Hy op julle blaas en sê: “Vrede vir julle”. Beleef die vrede wat Hy gee in jou hart. Wandel met Hom deur die afgelope week in jou lewe. Wanneer was Hy vir jou die meeste lewend? Praat met Hom daaroor. Iemand sluit die oomblik van lof af met die lees van Psalm 150 terwyl die res dit in hulle harte saambid.
 
Woord
Hand.5:27-32

  1. Lees weer die gedeelte in stilte en beleef dit wat jy lees. Lees dit asof jy self voor die Joodse Raad verskyn. Sien die woede. Dink aan jou antwoord wanneer hulle jou belet om oor die lewende Jesus te praat. Sien jouself as getuie van sy dood en opstanding.
  2. Waaroor word Petrus en die ander apostels voor die Joodse Raad gebring? (Verse 27-28)
  3. Hoe reageer hulle op die aanklagte van die Joodse Raad? (Vers 29)
  4. Hoe klink die hoofpunte van hulle getuienis? (Verse 30-32)
  5. Raak nou weer stil by die Here. Lees weer die gedeelte en dink na oor jou eie getuienis oor Jesus. Hoe verander hierdie gedeelte jou getuienis? Praat met die Here daaroor.

 
Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Deel eers julle getuienis oor die lewende Jesus in julle lewe die afgelope tyd met mekaar, deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
 
Uitsending
Hoe kan ons weer in ons omgewing getuies word van Jesus wat opgestaan het en in ons midde lewe?
 
Derde week in Paastyd
5 Mei
Hand.9:1-20
Die opgestane Heer ontmoet vir Saulus… en my

Ysbreker

Hoe het jy as kind daarvoor gesorg dat jy aandag kry?
 

Lof en Aanbidding

Raak nou ‘n oomblik stil in die Here se teenwoordigheid. Dink aan Hom. Ervaar dat jy net so belangrik is as Paulus, daarom ontmoet Hy jou nou. Bring nou ‘n lofoffer aan die Here wat vanaand net so teenwoordig hier is as wat Hy op die Damaskuspad was. Iemand kan Psalm 30 lees terwyl die ander met biddende harte luister.
 

Woord

Hand.9:1-20

  1. Lees nou weer die gedeelte in stilte. Sien jouself in die verhaal: die mense wat vervolg word en in vrees lewe, Saulus, Ananias en hoe die Here hulle ontmoet – en vir jou. Praat in stilte met die Here daaroor.
  2. Hoe leer ons vir Saulus ken? (verse 1,2)
  3. Hoe sorg Jesus dat Hy Saulus se aandag kry? (vers 3)
  4. Weet Saulus met Wie hy te doene het? (verse 4-6)
  5. Wie speel die grootste rol in Saulus se bekering, hy self of Jesus? Hoekom sê jy so?
  6. Hoe reageer mense op Saulus se bekering? (verse 13,14)
  7. Gesels met mekaar oor die maniere waarop die Here jou ontmoet en wat dit aan jou doen.

 

Bedien mekaar

Bid nou 3-3 vir mekaar se vriende en familie.
 

Uitsending

Jesus kan dalk net hierdie week deur jou iemand se pad kruis. Kan jy dink aan iemand met wie jy graag dit sou wou sien gebeur?
 
Vierde week in Paastyd
12 Mei
Hand.9:36-43
Ek maak ‘n verskil!

Ysbreker

Sal mense jou mis as jy moet weggaan? Wie sal jy die meeste mis?
 

Lof en Aanbidding

Kom tot rus in die Here se teenwoordigheid. Fokus op die lewende Here in julle midde. Dink aan wat dit beteken dat Hy lewe. Praat saggies met Hom. Stort julle harte in lof- en aanbiddingsliedere en gebede voor Hom uit. Iemand lees Psalm 23 voor terwyl die ander biddend luister na die woorde wat al soveel troos aan bedroefdes gebring het.
 
Woord

Hand.9:36-43

  1. Lees nou weer die gedeelte in stilte deur. Ervaar wat hier gebeur, die gevoel van verlies en rou, die belewing van die opgestane Here. Praat saggies met die Here daaroor.
  2. Hoe leer ons vir Tabita ken? (v.36). Ken jy iemand wat pas by hierdie beskrywing?
  3. Hoe het die mense wat met Tabita te doene gekry het oor haar gevoel? (v.39b)
  4. Waaraan laat die gebeure in verse 40,41 jou dink? (vgl.Mark.5:40-42)
  5. Waarom, dink julle, doen die Here hierdie wonderwerk? (vgl.v.42, maar dink aan nog redes)
  6. Sal die mense in jou omgewing ons Gemeente, groep of gemeente jou mis as jy nie meer daar is nie? Wat maak ons met die lewe wat die Here vir ons gee?

 

Bedien mekaar

Draai nou 3-3 na mekaar toe. Sê eers vir jou broer/suster watter verskil hy/sy aan jou lewe maak. Deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
 

Uitsending

In watter een persoon se lewe gaan jy hierdie week met jóú lewe ‘n verskil maak, sodat hy/sy tot geloof in die Here kan kom?
 
Vyfde week in Paastyd
19 Mei
Handelinge 11:1-18
Om God te probeer verhinder
Ysbreker
Hoeveel keer het jy al die verkeerde eerste indrukke van mense gehad? Vertel ons daarvan.
 
Lof en aanbidding
Die Here woon in sy kinders se lofsange. Kom ons loof en aanbid nou die Here ons God met ons liedere. Raak dan stil en dink aan Hom in die afgelope week in jou lewe. Dink veral aan die mense wat oor jou pad gekom het. In wie het jy Hom beleef? In wie se geselskap wou jy langer bly? Wie het jou ongemaklik laat voel en hoekom? Praat in stilte met Hom daaroor. Na die oomblikke van stilte kan iemand die volgende woorde bid en die groep bid dit in hulle harte saam: “Ons Vader, hier is ek, tot u beskikking, u kind, dat U my gebruik om voort te gaan om die wêreld lief te hê, deur Jesus aan my en deur my te gee aan mekaar en aan die wêreld. Help ons om te bid vir mekaar, dat ons Jesus sal toelaat om in ons en deur ons lief te hê, met dieselfde liefde waarmee U, sy Vader, Hom liefhet” (Moeder Teresa).
 
Woord
Hand.11:1-18

  1. Lees eers die gedeelte weer in stilte en staan bietjie stil by woorde of sinsnedes wat jou hart raak. Sien jouself in die gedeelte, hoe God met jou praat en ook hoe jy op sy praat reageer.
  2. Waaroor is die apostels en ander gelowiges in Jerusalem ontsteld en hoekom? (Verse 1-3)
  3. Hoe reageer Petrus wanneer hulle hom voor stok kry? (Verse 4-10)
  4. Hoe wys die Gees vir Petrus dat God ook die nie-Jode rein verklaar het? (Verse 11-17)
  5. Wat is die uiteinde van hierdie verhaal? (Vers 18)
  6. Raak nou weer stil by die Here. Dink aan mense wat Hy oor jou pad stuur. Dink na oor hoe jy oor hulle voel. Bid die woorde: Here, wees lief vir almal wat oor my pad kom deur my.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Sê eers vir mekaar dankie dat julle die liefde van die Here in mekaar beleef en hoe julle dit beleef. Deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
 
Uitsending
Na wie gaan die groep in die week om die liefde van die Here te gaan leef?
 
Sesde week in Paastyd
26 Mei
Handelinge 16:9-15
God roep en stuur ons waar Hy wil
Ysbreker
Het dit al met jou gebeur dat jy op ‘n plek is waar jy nie wil wees nie, maar moet wees? Vertel ons daarvan.
 
Lof en aanbidding
Ons fokus op die Here en sing liedere vir Hom wat ons harte warm en bly maak. Kom dan tot rus en dink aan Hom in die afgelope week in jou lewe. In wie se lewe het Hy jou die afgelope week gebruik om Hom beter te leer ken en hoe? Dank Hom vir die geleentheid. Dink ook aan nog geleenthede waar Hy jou heen lei om mense na Hom te lei. Sien jouself daar en gee jouself aan Hom, om deur jou te doen wat Hy graag wil. Iemand kan die gebed bid terwyl die res dit saambid: “God van elke mens, U gee in ons ‘n onvervangbare gawe; U gee aan ons elkeen die moontlikheid om u teenwoordigheid te weerspieël. Deur die Gees het U die wil van u liefde in ons harte gegraveer, nie op kliptafels nie, maar in die diepte van ons siel. En met die vrede in ons hart maak U dit vir ons moontlik om die lewe vir elkeen rondom ons mooi te maak” (Broer Roger).
 
Woord
Hand.16:9-15

  1. Lees eers weer die gedeelte in stilte. Wees in die verhaal, enigeen van die mense teenwoordig. Paulus wat deur God oortuig, geroep en gestuur word. Of Lidia wat na Paulus se woorde luister en besef God is besig om iets diep binne-in haar te doen, sodat sy sy woorde ontvang en haar lewe verander.
  2. Hoe gebeur dit dat Paulus in Masedonië land? (Verse 9-12). Wat leer ons hieruit?
  3. Wat gebeur wanneer Paulus by die Joodse bidplek buite die stad met die vroue praat? (Verse 13-14)
  4. Hoe verander Lidia se lewe deur hierdie ontmoeting met Paulus? (Verse 15-16)
  5. Raak nou weer stil by die Here. Lees weer die gedeelte en beleef die verhaal. Dink aan die Here se ontmoeting met jou (al by jou eie doop). Sien hoe hierdie woorde jou lewe verander.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Vertel mekaar van ‘n ontmoeting met God wat jy altyd sal onthou. Deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
 
Uitsending
Waarheen roep en stuur God hierdie groep in die week wat kom?
Opgestel deur Adriaan Haasbroek, Lambertsbaai, a3aanh@telkomsa.net