{ARGIEF}

Gemeentenuus Langebaan

Die ou jaar is verby en ‘n nuwe 2013 is al met ‘n drafstap oppad met ons nuwe program en nuwe uitdagings. Ons onthou steeds van ons werksaamhede en bedrywighede van 2012 onder die tema “Vroue met Vlerke”. Die beplanning van funksies was ‘n groot fees en ons was opge-wonde om die jaar te beplan met hierdie tema.
Vroeg in 2012 het Cheri Brynard, ‘n jong vrou met down-sindroom ons kom toespreek met haar baie inspirerende lewensverhaal. Ons is bemoedig met die wete dat niks vir God onmoontlik is nie en dat ons, met “vlerke” wat ons ontvang, kan uitstyg bokant ons omstandighede, al lyk ons situasie vir onsself en die wêreld daarbuite ook hoe verdoemend. Tydens hierdie oggend het ons ook gehoor hoe ons ons beskermende “Arendsvlerke” kan gebruik om ‘n hulp vir ander te wees in die lewe vol uitdagings.
‘n Daaropvolgende funksie is gereël en die tema het verder kleur gekry toe Francois Grobbelaar van FASfacts ons meer kom vertel het van sy roeping rondom die reuse taak om alkoholmisbruik onder swanger vroue te beveg. Fetale Alkohol Sindroom is ‘n uitvloeisel van ‘n euwel in ons land en die opdrag in Spreuke 31:8 “Praat jy vir die wat self nie hulle sê mag sê nie, kom op vir die reg van die wat te gronde gaan …”, was ‘n dringende oproep om in te tree vir ongebore babas. Soos ‘n moederhen haar kuikens met haar vlerke beskerm, so is dit ook ons verantwoorde-likheid om in te tree vir hierdie ongebore wesentjies wat ongevraagd slagoffers is van hierdie euwel.
alt‘n Visbraaidiens word jaarliks langs die meer in Langebaan gehou – ‘n instelling wat jare gelede deur die kinderkrans begin is. Dis ‘n groot voorreg om langs die meer te kan sit en jou gedagtes te laat gaan na die tyd toe Jesus langs die meer van Galilea, die Woord aan duisende mense bedien het. In ons geestesoog kon ons sien hoe die brood en vissies uitgedeel is. Die vroue van die gemeente het ook vars, tuisgebakte brood en gebraaide vissies voorgesit. Die manne het reeds vroeg die vure gepak sodat ons kon saamkuier nadat die Woord bedien is.
Ons Wêreldbiddag is gelei deur een van ons bekwame vroue wat met deeglike navorsing en voorbereiding vir ons ‘n baie geseënde aanbieding kom doen het. Dieselfde diens is die volgende dag aan ons bejaardes in die aftreeoord aangebied.
Nuwe belydende lidmate kry ook spesiale aandag wanneer hulle as nuwe lidmate verwelkom word na die Belydenisaflegging. Tee en verversings word bedien net na afloop van die diens en dis altyd ‘n heerlike kuieraand saam met ouers en kerkraadslede. Hierdie selfde groep jongmense word ook later in die jaar tydens ‘n Matriek-diens gegroet. Hulle word versterk met die wete dat ‘n hele gemeente vir hul finale skooleindeksamen en toekoms bid. Die vroue oorhandig aan alle matrieks wat die diens bywoon, ‘n aandenking.
Teebediening na die erediens is ook ‘n spesiale saamkuier-geleentheid. Lidmate kry geleentheid om mekaar beter te leer ken en dis ook ‘n gulde geleentheid om die nuwe intrekkers te ontmoet. Sopbediening elke aand, na afloop van die Pinksterdienste, is ook ‘n jarelange instelling. ‘n Warm atmosfeer heers wanneer gemeente-lede saam sop geniet.
Die jaar is afgesluit met ‘n Biefstuk-braai. Die vroue verkoop vooraf kaartjies om hul fondse te versterk. Die saal word spesiaal mooi gemaak en lidmate kom reeds van vroeg namiddag af om saam te kom kuier. Die gevoel van ‘n naderende feesseisoen en beplanning aan vakansies, dra altyd by tot die gesellige atmosfeer van so ‘n afsluitingsaand.
Dit was ‘n besige jaar vir ons almal. Die ou bestuur het tuig neergelê en ‘n splinternuwe groep vroue het oorge-neem. Die uittredenes het dit eens dat, hoewel daar altyd opofferings en swaarkry gepaardgaan met ‘n dienstydperk, ons altyd versterk word met die belofte van 1 Kor 15:58: “… julle inspanning in diens van die Here (is) nie tevergeefs nie.” En dit beloon ons met ‘n diepliggende vreugde dat Hy wat ons geroep het, getrou bly aan sy beloftes.