{ARGIEF}

altVroue met Vlerke

In Lukas 1:28 kom die engel Gabriël by Maria en hy groet haar: “Goeiedag. Ek het baie goeie nuus vir jou. Die Here het groot genade aan jou bewys. Hy is by jou!”

Hier in die Overberg het dit in die oestyd begin reën en reën en reën. Die goue graan het gewuif in die briesie. Mooi. Maar die grond was ‘n papnat pappery. Die boere moes ‘n fyn oog ontwikkel om nie vas te val in die modder nie. Nogtans het my blouoogman my vermaan dat die reën kosbaar is. Ons land Suid-Afrika is oor groot dele ‘n droogteland. Ons bid tot God vir kosbare heilige reën. Daarom mag ons nie nou sug oor die kosbare reën in oestyd nie, want dan is ons net só ondankbaar.

Die stroper ry toe nie geleidelik in die modderpoel in nie. Dit gebeur eensklaps. Poef! Tot op sy pens binne-in die swart moddergat. En hierdie swart modder suig vas. Die “digger” grawe en val self vas. Ons klim almal saam in die moddergat. Ek saam met my blouoog- man. Ook ons buurmanne, jonk en oud. Ook almal wat saam met ons die pad stap elke dag hier op die plaas, jonk en oud. Ook ons kerkmense wat elke dag die pad deur die lewe saam met ons stap, jonk en oud. Maar die stroper suig vas. Die wiele tol in die rondte sonder vasskopplek en die stroper sak net dieper in die modder weg. Moedeloosheid wil oor ons golf, want ons weet ysters kan meegee en buig en breek. En oestyd het net begin. Die donker begin toesak en om in modder te ploeter in die donker, is regtig nie ‘n grap nie. En dit raak koud. En dit is Saterdagaand. Almal het ‘n week se harde arbeid agter die rug. Trane stroom oor my wange, want ek kry my man so jammer.

Dan, skielik onthou ek die groet van die engel aan Maria. “Goeiedag. Ek het baie goeie nuus vir jou. Die Here het groot genade aan jou bewys. Hy is by jou.” Dankbaarheid vou om my. In die ligte van bakkies en trekkers sien ek mense wat nabymekaar staan en mekaar aanmoedig in die donker. Wanneer een se voet glip en hy beland plat op sy maag in die modder is daar hande wat hom vasvang en uittrek. Elke nou en dan sien ek ‘n arm wat om ‘n skouer druk tot bemoediging. Tyd staan stil op hierdie Saterdagaand wanneer almal eindelik tot rus wil kom.

Hierdie nabystaan in Waarheidsliefde het nie tyd nie. Tyd het gaan stilstaan. In hierdie oomblikke van groot genade het mense in hierdie moddergat genade aan mekaar bewys. Hierdie “staan bymekaar” kan geen geld koop nie. Jy kan niks hiervoor inruil nie. Jy kan niks teruggee nie. Hierdie handuitsteek en nabystaan, is die werklikheid. Eerlike, getroue uitlewe van die Waarheidsliefde. Hierdie swoeg in die moddergat in die laatnag is die sagte engelvlerk-aanraking van Jesus se liefde in ‘n ander mens se lewe.

Vanoggend is dit Sondag. Laatnag gisteraand het buurman nog met sy hoëdruk spuit die modder van die stroper afgespuit. Die stroper staan in die stoor. Al wat oorbly is onverwoordbare dankbaarheid, Maandag tot in die nag werk en dierbare vriende saam om die stroper weer oesvaardig te kry. Nederig- dankbaar begin my blouoogman Dinsdag weer graan dors. Trane van dankbaarheid laat hom nederig dankie sê aan God by wie niks onmoontlik is nie en aan almal wat ons bygestaan het in hierdie tyd van nood.

My dierbare vriendin! Jesus groet jou in 2013 met: “Goeiedag. Ek het baie goeie nuus vir jou. Die Here het groot genade aan jou bewys. Hy is by jou!”

Weet net dat die Gees ons leer om ons diensbaar te stel aan mekaar en ook aan ons gemeenskap rondom ons. Leer ken mekaar beter in Jesus sodat ons met nuwe oë kan kyk om naby aanmekaar te staan. Kom ons breek uit ons gemaksones en steek ons hande uit na mekaar om mekaar uit die moddergate van pyn te trek. En wanneer ons voel die swart modder suig ons vas, laat ons mekaar dan vlerke gee om stil te staan en te wag op ons Almagtige God, want “Hy is by jou”. God help ons om oor te gee en op Hom te vertrou, want “die Here bewys groot genade aan jou”. Die Gees lei ons om gehoorsaam te wees, soos Maria. God verander ons denke en vernuwe ons. Hy maak ons sensitief vir sy wil. Saam kan ons as vroue mekaar se eie waarde ontwikkel en betrokke raak bymekaar in die koninkryk van God. Saam kan ons fokus op Jesus en mekaar begelei om deel te neem aan God se beweging in ons lewens asook in die lewe van ons gemeenskappe. God spreek ons vry uit sy genade en gee vir ons vlerke om te glo in Hom sodat ons kan vlieg en lewe.

Liefde spel ons nie L I E F D E nie. Nee, liefde spel ons T Y D!

“Moet nooit dink God is klaar met jou nie …

In God se manier van dien, lê die beste altyd nog voor!” (David Jeremiah)