{ARGIEF}

onrusVroueretraite2013

Ons het Vrydagaand weereens besef dat ons fokus op God moet wees en nie eerste op onsself nie. (Karin se tema: It’s not about you, it’s about God.) Ons het ons kersies weer by God se lig aangesteek om so weer lig in ons eie lewens uit te straal.

Soggens vroeg het die dames kans gehad om in die pragtige natuur te gaan stap, met stiltetydstukkies deur Madeleine, waar hulle gelei is om hul “lewensklippe” vir God te gee. Om God toe te laat om ONS voete te wees en ONS te dra.

Na ‘n heerlike ontbyt en samesang het Chookie vir ons ‘n verrykende aanbieding met dié tema gegee: Vind jou outoriteit, jou identiteit, in God. Laat die paddas in jou tuinslang uitgespoel word deur God, sodat jy nie net bloot BEKEER en dan PARKEER nie, maar dat jy vir God met vonkel kan lewe!
Na lekker tee en koekies (mmmm!) het ons vrede gevind deur gebed saam met Mattie Heys. Sy het ons so mooi gelei om te verstaan waaroor gebed werklik gaan. Dat dit nie bloot net ‘n lysie van dank en behoeftes is nie, maar ‘n ware verhouding met God, ons Vader.

Die Saterdagmiddag het ons ‘n ware retraite (stilword) gehad. Almal kon gaan stap, slaap of net rustig wees met ‘n begeleidende stukkie om hulle voor te berei vir die aand se Vroue met Vlerke-aanbieding.

Ons het Saterdagaand kans gekry om onder leiding van Madeleine Russouw stil te raak. Met elke vrou wat ‘n geskeurde “vlerkie” (repie geskeurde lappie) ontvang het en kans gekry het om hul eie stukkende vlerke raak te sien.en hul gebrokenheid wat hulle verhoed om te vlieg, te sien. Saam met Sarai, Abram se vrou, het ons ontdek dat elkeen unieke omstandighede het, dat ons almal soms moet maskers dra, MAAR dat God altyd ingryp, ons vlerke heel maak en elke vrou die krag en genade gee om nog hoër en sterker vir God te vlieg.

Die kamp is afgesluit met Godstories – sommiges hartseer, maar sommiges dankbaar vir God se teenwoordigheid in ons lewe. Ons dank God vir ‘n wonderlike, geseënde naweek.