{ARGIEF}

Nou die dag hoor ek iemand dit weer sê: Een van die mees basiese eienskappe van leierskap is dat leierskap beweging veroorsaak. Die hartseer is dat die nie noodwendig altyd in ’n positiewe rigting is nie. Waar daar egter leierskap is, is daar motivering (Latyn: movere- “om in beweging te bring) en beweging. Sonder leierskap kom dinge tot stilstand.
Die vraag wat leiers hulself gedurig moet afvra is of dit met reg van hulle leierskap gesê kan word en amper nog belangriker: Het jy hoegenaamd ’n idee of prentjie waarheen jyself en jou volgelinge moet gaan. Dink jy daaroor? Droom jy daaroor? Bid jy daaroor? Daar is ook ’n ander uitdrukking wat sê: “Ons is soms baie vinnige nêrens heen op pad.” Dit geld dikwels van baie besige leiers wat nie behoorlike visie, rigting en prioriteite in hulle leierskap het nie.
Daar is egter ’n tweede baie belangrike saak waaroor ek vandag iets wil sê: Stephen Covey het saam met Rebecca Merrill boek laat verskyn met die titel: The speed of trust. (Free Press 2006) Die basiese uitgangspunt van die boek is dat die dinamika en spoed waarmee alle organisasies intern en ekstern funksioneer, direk verband hou met die hoeveelheid vertroue wat daar in en om die organisasie bestaan. Dit geld vir regerings, besighede, vrywilliger organisasies en natuurlik kerke. As die organisasie na buite vertroue skep sal mense veel makliker en vinniger daarmee handel en besigheid doen. As daar min vertroue bestaan sal agterdog en wantroue alles stadiger maak.
Dieselfde geld ook vir die interne dinamika in enige organisasie. As die mense mekaar werklik vertrou sal alles vinniger en gladder verloop. As wantroue begin heers moet veelvuldige stelsels in plek gesit word dat alles eers gekontroleer kan word. Alles word dan stadiger. Die kerk is nie ’n besigheid nie maar een van die beskuldigings wat alreeds teen die kerk ingebring word dat ons met alles in die kerk stadiger as die res van die wêreld is. So ’n situasie (wantroue) moet verdere gif vir die kerk wees.
Die vraag is hoe ons vertroue in enige organisasie en veral die kerk verhoog. Covey noem ’n hele aantal dinge wat ons kortliks net hier wil noem:
 1. Praat reguit en openlik. Wees baie baie eerlik met mekaar
 2 Toon respek en tree respekvol teenoor mekaar op.
 3. Wees deursigtig. Moenie dat jy uitgevang word dat jy nie is nie.
 4. Maak reg! (restitusie) Ons moet sê ons is jammer, maar waar daar foute gemaak is, moet dit ook reggestel word.
 5. Wees lojaal teenmekaar. Agteraf skinder is gif.
 6. Lewer resultate. Niks skep so vertroue soos sukses nie
 7. Verbeter jouself. Bly leer. Mense wil weet dat hul leier en kollegas bekwaam en relevant is.
 8. Kyk die werklikheid in die oë
 9. Klaar verwagtinge uit
 10.Aanvaar aanspreeklikheid en moet nooit die blaam probeer verskuif nie
 11. LUISTER em luister nogmaals fyn na die woorde en harte van die mense om jou.
 12. Hou jou beloftes
 13 Vertrou ander. Dit skep vertroue. Wantroue verhoog wnatroue
Clarence Francis het by geleentheid die volgende gesê:
You can buy people’s time; you can buy their physical presence at a given place; you can even buy a number of muscular motions per hour. But you cannot buy enthusiasm… you cannot buy loyalty… you cannot buy the devotion of hearts. This you must earn!

Hoe waar is dit nie. Daar is ’n sekere vertroue en respek waarsonder leiers nie kan lei nie. Dit is al gesê dat respek en vertroue die “valuta” is waarmee leiers handel dryf.