{ARGIEF}

Terwyl dit nou al hoe duideliker word dat dit nie net die NGK is wat worstel met die gay kwessie nie, maar eintlik alle kerke in Suid-Afrika, kom die vraag onwillekeurig by `n mens op, oor waarom die NGK telkens alleen oor hierdie kwessie uitgesonder en geteiken word. Opskrifte in die pers sal die kerk as “argaies” beskryf en lesers se argwaan sal ook nie wegbly nie. Dat die saak verder beredeneer moet word is tog duidelik, maar hoe?
Een teorie is dat die Afrikanergemeenskap sy eie verlede nog nie na behore verwerk het nie en steeds met `n massiewe derm-uitryg-oefening besig is. Sommige blanke Afrikaanssprekendes (laat ons liewer nie die woord Afrikaner gebruik nie) skaam hulle steeds vir hul verlede en wil hulle met geweld daarvan distansieer. Dit het die ou NP ervaar. Volkskas het gesneuwel. Die NGK is duidelik in die visier. Ander instellings soos Sanlam en selfs Die Burger moet baie fyn trap. `n Mens kry amper die gevoel dat daar soms oor reageer word in `n desperate poging om die skade van die verlede te probeer herstel. Dit gaan nog jare duur om die skade wat apartheid aan almal se onderbewuste aangerig het, reg te maak. Mag ons intussen die wysheid kry om kop te hou.