{ARGIEF}

Die gebeure van die dag, veral as dit slegte gebeure is, het soms `n manier om ons gedagtes, ons hoop en visie, ons kreatiwiteit en energie, ja ons denke, gevange te neem. Dit het die potensiaal om ons sinies, oor krities en bitter te laat. Ons verwagting van die toekoms word dan bepaal deur die menslike projeksies wat ons maak van die slegte wat ons om ons ervaar. Die toekoms word dan baie donker, so donker dat dit ons in baie opsigte verlam.
Maar dit is nie net slegte dinge wat ons gevangenes van die hede kan maak nie. Die teoloog Karl Barth het op `n keer na `n besoek aan `n vriend se pragtige chalet in die Alpe opgemerk: “Dit is wonderlik, maar hier is geen eskatologie meer nie.” Hier is geen verwagting meer oor van die dinge wat kom nie. Jy sien, dit is nie net die slegte dinge wat ons gevangenes kan maak van die hede nie. Soms is die lewe so goed, so lekker, so voorspoedig dat ons hierdie oomblik wil vasgryp, asof ons daarmee kan keer dat dit ooit verbygaan. Daar sit `n stukkie tragiek in albei hierdie situasies.
My verstaan van die Skrif is, in eenvoudige woorde gestel, dat dit ons `n genoegsame perspektief op die toekoms gee, om sodoende `n sinvolle bestaan vandag te kan voer. Dit wil my allermins laat ontsnap uit dit wat ek vandag ervaar, maar gee my `n ander perspektief daarop en help my om verder te kyk. Hoe gebeur dit? Wel, op baie maniere.
In die eerste plek verander `n mens se lewe nogal dramaties die dag as jy verstaan en glo dat die menslike siel, onverklaarbaar en misterieus, maar steeds so werklik soos die menslike bestaan self, nie maar sommer eendag in die niet sal verdwyn nie. Hoe belangrik die omarming van die “nou” ook al is, is daar veel meer wat wag. Die Skrif is `n voortdurende herinnering daaraan.
In die tweede plek verander jou lewe wanneer jy begin verstaan en glo dat daar altyd in die geskiedenis weer wendinge kom. Verrassende wendinge, wat beteken dat daar altyd weer `n môre kan wees. Dit beteken dat, selfs al gaan dit sleg, jy kan opstaan en positiewe dinge doen omdat jy glo dat daar `n môre is wat wag. So lees ons bv. van `n Jeremia (Jeremia 32) wat `n stuk grond in Anatot koop terwyl hyself deur die koning ingeperk is omdat hy so `n verdoemende profesie oor die land uitspreek. Hy koop egter die grond omdat hy ten spyte van die profesie, glo dat daar weer `n dag sal kom wanneer “daar weer huise en grond en wingerde in hierdie land gekoop (sal) word” (vers 15).
Daarom dink ek deesdae baie, baie ernstig oor die vraag wat iemand `n tyd gelede aan my gevra het: Wat is die twee of drie dinge wat ons nou moet doen as ons oor 10 jaar gelukkig in Suid-Afrika wil woon? Ek dink onmiddellik oor Umalusi en die onderwys. Ek dink oor die vermorsing van geld en die besoedeling van ons waterbronne en veel meer, maar ek dink ook oor my lewe saam met God. Die God wat vir seker oor tien jaar nog daar sal wees en meer bepalend vir ons lewens gaan wees as wat ons soms wil erken. Dit laat my opstaan en hard werk en beplan en bid, ook vandag, vir môre.