{ARGIEF}

Die lewe is ingewikkeld en kompleks, maar die waarheid het `n manier om juis te midde van eenvoud sigbaar en duidelik te word.  Die  kerk is een van daardie organisasies op aarde wat van die mees uiteenlopende agendas denkbaar hanteer. Die rede hiervoor is eenvoudig. God se Koninkryk raak alles. In die proses kan ons egter heel opreg alles baie ingewikkeld, oorvol en vermoeiend maak. Dalk is hierdie Kerstyd die aangewese tyd om alles vir `n oomblik `n bietjie eenvoudiger te maak. Let wel, daarmee sê ons nie dat ons dit soetsappiger, of “armer” of minder betekenisvol wil maak nie, nee, net `n bietjie eenvoudiger.
Na `n jaar soos 2008 gaan daar `n paar dinge deur `n mens se gedagtes. Dit was vinnig, intens, dinamies, verrassend, ontnugterend, teleurstellend en het ons plek-plek onseker gelaat. Terselfdertyd wag daar sekerlik baie uitdagings en geleenthede  in 2009.  Dit klink na `n mondvol. Laat ons dit daarom weer sê: Miskien moet ons vir die oomblik alles net eers `n bietjie eenvoudiger maak…
Kersfees kan `n baie opwindende tyd, maar terselfdertyd baie vermoeiend wees. Dit is `n tyd vir samesyn, om familie en vriende om jou te geniet, maar dieselfde familie en vriende kan ook uitputtend wees. Die laaste presente moet dalk nog met `n krimpende begroting gekoop word en die kos, ai, die baie kos moet gemaak word. Interessante interpersoonlike vaardighede (humeur-beheer en geduld) gaan getoets word. Ons smag almal sekerlik na rus, maar baie van ons gaan min rustigheid ervaar. Dalk is dit nou die tyd om alles doelbewus `n bietjie eenvoudiger te maak. Hoe? Kom ons haal diep asem, neem al ons aardse dinge en onsself bietjie minder ernstig, en dink `n oomblik ernstig na oor die Christus-kind.
Dalk is dit een van die belangrikste boodskappe van Kersfees. Ons weet dat Bethlehem tydens die geboorte van Christus `n besige plek was. Huisvesting was skaars, eintlik onbekombaar. Toe bly Josef en Maria maar eenvoudiger, sommer in `n stal. Die wet was lank en ingewikkeld en toe kry ons `n nuwe eenvoudige Evangelie. Streng sosiale rangordes het gegeld, toe kry die skaapwagters, die eenvoudiges, die voorste sitplekke. Die wyses het hulle met ingewikkelde wyshede besig gehou en duur geskenke gekoop. Toe volg hulle `n ster tot by `n krip, kniel daar en gee al hul duur geskenke net daar weg. Die Wysheid en Waarheid word toe beliggaam in `n Kindjie. `n Baba het in `n krip gelê, engele het gesing en dit was Kersfees!
Miskien moet ons vanjaar probeer om alles `n bietjie eenvoudiger te maak.  2009 gaan ons goed besig hou, maar miskien moet ons eers net opreg stil word. Jy sien, ek weet nie of die wyses en die herders veel met die Kindjie gepraat het nie. Hulle het wel voor Hom gekniel en Hom aanbid. Mag ons dieselfde doen. Mag ons terselfdertyd in ons gemoed diep stil word en  minder “geraas” beleef. Mag ons Hom “sien” en “hoor” en hierdie Kersfees in Sy genade rus!