{ARGIEF}

`n Oud kollega en vriend van my het sestig geword. Gisteroggend het ons dit saam met `n groepie vriende gevier. Dit was goed. Daar is min dinge soos ou vriende, ou onthou-stories en lag saam oor ou dinge wat eens op `n tyd baie ernstig was, maar vandag baie snaaks klink.
Die dag het my laat dink. Dit het my veral laat dink oor hoe vinnig alles verbygaan en hoe vlietend die lewe is. Toe ons mekaar leer ken het was hy 36 en ek 26, bogsnuiters sou jy kon sê. En skielik besef jy ons is maar `n oomblik in die ewigheid.
Tog hoef dit jou nie soos `n Prediker mismoedig te laat nie. Dit het my opnuut laat besef dat daar `n “vandag” is wat geleef moet word. Dat daar `n “oomblik” is wat aangegryp moet word. Jy sien ons kan so hoop en droom oor `n beter môre dat al ons “vandags” by ons verby gaan.
Hierdie dag, hierdie uur, hierdie minuut is deur God aan jou gegee. Gaan en gaan leef dit voluit met die krag wat die Heilige Gees jou gee.