{ARGIEF}

Suid-Afrika se strewe na ware vryheid sal nooit werklik verwesenlik word voor daar nie `n gelyklopende strewe na volkome eerlikheid ontwikkel nie.
Onlangs luister ek tydens `n konferensie na Jonathan Jansen en verkneuter my in die man se energie en entoesiasme. Dit is aansteeklik en maak jou lus om ons uitdagings te gaan pak. Dalk was dit sy reguit manier van praat, maar na die tyd begin ek dink oor die krag wat opgesluit lê in eerlikheid. Die Bybel stel dit in taal wat ons nie meer gebruik nie. Moenie vals getuienis teen `n ander gee nie. In gewone taal: Moenie jok nie. Dit het nogal konkrete implikasies.
Ek dink dat ons soms so ordentlik met mekaar is, so polities korrek, dat ons op baie punte nie meer eerlik is nie. Ons is nie eerlik oor ons seer, bitterheid en onsekerhede nie. Jy sien, in ons land ervaar ek dikwels dat, wanneer verskillende bevolkingsgroepe met mekaar praat, dit nie verskillende kulture is wat praat nie, maar wel gister se pyn, met môre se onsekerheid. Dis rou emosie wat verberg  word, totdat dit onverwags na die oppervlak beur. Dan is daar `n gemors. Ek pleit nie vir onsensitiwiteit nie, maar vir veilige ruimtes waar mense volkome eerlik met mekaar kan wees. Ek weet dat konflik in enige situasie nooit opgelos kan word, voor volkome eerlikheid nie op die tafel is nie. Dit is die laaste vyf persent waaroor ons jok of stilbly, wat dikwels die groot moeilikheid veroorsaak.
Daar word baie gepraat oor `n nuwe etiek wat die wêreld nodig het. Dalk soek ons veral na `n nuwe eerlikheid. (Neem die Unashamedly Ethical-veldtog as voorbeeld) Ons soek eerlikheid op die markplein, eerlikheid in die politiek, eerlikheid by die media en regbank en natuurlik volkome eerlikheid by die kerk.
Maar ons sal moet begin om eerlik met onsself te wees. Eric Hoffer het gesê dat ons soms die heel hardste lieg wanneer ons vir onsself lieg. Ons sal moet leer om so met die feite om te gaan, dat die feite die waarheid vertel. Geen leuen is so groot soos wanneer halwe waarhede as volle waarhede aangebied word nie. So word beweer dat Robert McNamara, minister van verdediging, tydens die Vietnam-oorlog, nie een keer `n verkeerde feit vir die Amerikaners aangebied het nie. Op `n stadium het die volk egter agtergekom dat `n groot leuen vertel word, omdat die feite verdraai word. Dit het die briljante McNamara se einde beteken.
Jou eerlikheid word verder getoets daar waar jy optree wanneer niemand sien nie en jy dink dat niemand ooit sal uitvind nie. Jy sien, ons dink dat oneerlikheid ons kortpad uit moeilikheid is. So leer ons van kleintyd af jok. Ons dink dat oneerlikheid die vinnige baan na geluk en sukses is. Die stand van die ekonomie en die wêreld vertel egter `n ander verhaal. Terloops, gaan lees tog oor die rol wat die Kwaker-beweging jare gelede in die opbou van die VSA se ekonomie gespeel het. Eerlikheid was die basis daarvan.
Ek glo dat ons almal eendag “naak” voor God sal verskyn en niks sal kan wegsteek nie. As ons maar net sal verstaan dat `n stukkie van ons hemel nou reeds kan waar word as ons meer eerlik met mekaar en onsself is. Die evangelie is reg. Die Waarheid maak vry…