{ARGIEF}

Ek het pas met Lomon van der Vyver gepraat. Hy is die pa van klein Lomar o/14 krieketspeler van Worcester-Gimnasium wat in die bussie-ongeluk oorlede is. Ek ken vir Lomon en Mabel van hul studentedae af toe ek nog studenteleraar op Stellenbosch was. Watter fantastiese mense en watter fantastiese gesin. Lomon is tans voorsitter van die kerkraad. Hoekom gebeur dit? Hoekom gebeur sulke slegte goed met sulke goeie mense?
Kyk daar is baie baie dinge wat ek nie verstaan nie, wat ek nie eers amper probeer verstaan nie. Al wat ek weet is dat dit nou die tyd is om stil te wees, te wag en lief te hê. Dit is vir ons `n tyd om intree vir hulle wat so seer is dat hulle nie eers kan of wil bid nie. Daar is meer kinders dood en nog veel meer wat elke dag in ons land sterf. Laat ons almal die broosheid van ons bestaan goed besef. Laat ons laag en in nederigheid en afhanklikheid voor God buig. Laat ons hulle vashou wat dit nodig het.
Ja ons mag huil en moet huil. Ja ons mag en moet dit uitkerm voor God. Ons hoef nie ons emosies te baklei nie, maar mag ons saam bid dat die vrede wat alle verstand en rede te bowe gaan een of ander tyd sal neerdaal. Ons kan dit bid omdat God God bly, ongeag wat gebeur en omdat ons juis in sulke tye weet en vashou daaraan dat eendag alles nuut sal staan. Nie almal glo dit nie, maar vir hulle wat dit glo kom die troos een of ander tyd…