{ARGIEF}

Vanoggend het Die Burger ons begroet met ’n opskrif: Beleggers se drome na die maan. ’n Beleggingskema wat groot beloftes rondom die wêreldbeker voorgehou het, het lelik skeefgeloop. Ek kry die mense jammer, maar dit het my laat dink.
Ons het almal groot drome, maar dit val in twee kategorieë. Daar is menslike – jy sal dit ook wêreldse drome, passies en aspirasies kon noem. Opsigself is daar niks mee verkeerd nie, maar dit hou altyd ’n sluimerende gevaar in. Dan is daar geestelike drome, passies en verlangens. Een so ’n verlange is ’n honger en dors na ’n groter intimiteit en eenheid met God. Sommige sal sê dit is ’n ontvlugting uit die wêreld, maar ’n eerlike ware ontmoeting met God dryf jou altyd weer terug in die wêreld in.
Waaroor droom jy vandag en waarna verlang jy vandag? Die Psalmdigter van Psalm 42 sing oor ’n “dors” na die Here, soos ’n bok in ’n droeë landskap smag na water…
Ek bid dat jou drome sal waar word, maar ek bid dat jy God sal ontmoet soos nog nooit te vore in jou lewe nie. Ek bid dat jy daarvoor ’n dors sal ontwikkel en daardie Water sal soek tot jy dit vind… Dit gebeur dikwels in stilte en afsondering.