{ARGIEF}

Opsomming

Klein plattelandse gemeentes soos Marken met ʼn lidmaattal van 60 worstel baie keer met die vraag of die gemeente sal kan voortbestaan. Hierdie vraag word beïnvloed deur individue en ander groter gemeentes se persepsie oor klein gemeentes en dat klein gelykstaande aan minderwaardigheid is. Die lewensvatbaarheid van klein gemeentes word na aanleiding van ʼn modernistiese vertrekpunt beoordeel. Hiervolgens is ʼn groot lidmaat getal ʼn belangrike norm vir bestaansreg. Die eiesoortigheid van klein plattelandse gemeentes word meesal nie in berekening gebring wanneer oor die lewensvatbaarheid van sulke gemeentes gedink word nie. Die bedieningstyle en programbenaderings in groot gemeentes word dikwels ook voorgehou as die ideaal en dit lei daartoe dat klein gemeentes hulle daaraan meet en hulle eie Godgegewe uniekheid uit die oog begin verloor.

Die voortbestaansvraag van die gemeente word aangespreek deur die gemeente te begelei om haar missionale roeping te ontdek. ʼn Gemeente soos Marken moet besef dat ʼn klein gemeente ook ʼn spieëlbeeld van God se koninkryk kan en moet wees. Missionale teologie, trinitariese teologie en die missio Dei is in mekaar gevleg. NG Gemeente Marken se uitdrukking as kerk in en vir die wêreld moet gemodelleer word in God se drie-enige uitdrukking van sy sending in die wêreld deur die geskiedenis soos dit gereflekteer word in die Bybelse getuienis. As sending dan essensieel God se sending is, dan is die Triniteit die fondasie vir missionale teologie. Die transformasie van NG Gemeente Marken wat worstel met ʼn voortbestaansvraag na ʼn missionale gemeente is dus die doelwit van die studie.

Die gemeente se geskiedenis, haar identiteit / kultuur speel ewe-eens ʼn belangrike rol. In die geskiedenis van die gemeente kan duidelik gesien word dat verskeie gebeure soos die lang afwesigheid van ʼn eie leraar, ʼn tekort aan finansies en ʼn kerkskeuring aanleiding gegee het tot die voortbestaansvraag van die gemeente. Die gebeure het ʼn tendens na vore laat tree waarin die gemeente haarself as klein beskryf. Hierdie identiteit is ook bevestig met die etnografiese navorsing en dit het deel geword van die kultuur van die gemeente. Al hierdie faktore het ʼn invloed op die mees prominente of diepste vraag wat in die harte van die 60 lidmate leef. “Hoe kan die NG Gemeente Marken voortbestaan?”

Om hierdie vrae te verstaan en te begin antwoord is dit belangrik om die gemeente in haar konteks te verstaan. Die gemeente is geleë in Limpopo provinsie en vorm deel van Mogalakwena munisipaliteit waar ongeveer 300,000 hoofsaaklik Pedi sprekende mense woon. Demografiese realiteite en die migrasie patroon in die kontekstuele analise toon aan dat die gemeente nie kan staat maak op die normale manier van groei deur geboorte en bevolkingsaanwas nie. Die kontekstuele analise is gedoen as ʼn stap in die proses om die fokus van Marken op oorlewing aan te spreek en die gemeente se oë oop te maak vir die werklikheid rondom die gemeente en sodoende dan te kan deelneem aan God se missio Dei.

Die gemeente se deelname aan God se missio Dei kan beskryf word as ʼn reis. In die studie word die eerste treë van Marken in hierdie missionale reis ook nagevors. Dit toon aan dat die Gees van God besig is om Marken te transformeer en dit kan soos wat Frederick Marais (2007:120) dit stel waargeneem word in die “gewone, natuurlike ervarings wat mense tot die oortuiging laat kom van die werk en die bedoeling van die Gees.”

Dit moet hoop gee aan Marken wat in die verlede met die vraag geworstel het of die gemeente kan voortbestaan.