{ARGIEF}

Kovsies bly in die nuus! Hierdie keer gaan dit oor die uithaal van “God” uit hul leuse. Nou lees dit: “In waarheid is die lig van wysheid”. Natuurlik laat waarheid haarself nie sommer vaspen nie, maar ek het begrip vir hierdie verandering.

Waarheid, en die soeke daarna, erken immers óók die godsdienstige karakter en spirituele ingesteldheid van mense en gemeenskappe.

Alhoewel ek vir God so ver as moontlik eerste in my lewe probeer stel, hinder só ‘n verandering my nie. Ons weet watter wandade in die vorige politieke bedeling plaasgevind het, en dít terwyl God se naam in die grondwet geskryf was.

Ek dink ál meer dat ons God uit ons leuses, veral leuses waarmee ‘n verskeidenheid mense gemaklik moet kan assosieer en identifiseer, moet hou. Hy moet in ons optrede/lewe sigbaar word!

Om mooi goed te sê en te skryf – soos ons só dikwels mee te doen kry – maar dit nie te lééf nie, beteken niks. In Matteus 7:21 staan daar: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here, sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy/sy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is.”